Uitspantyd: Geskenke om te onthou
Die regte geskenk kan iemand se hart ietwat warmer laat klop, al is dit jare nadat hy die geskenk ontvang het.
Ek het my eerste nuwe fiets in standerd 5 gekry, want ons was maar taamlik arm. Een oggend het my ma gevra ek moet ná skool gou by Todd en Van Wyk, waar sy as winkelklerk gewerk het, ’n draai gaan maak. Daar het hy toe gestaan, ’n pragtige, pikswart BSA-dikwielfiets, uit die boks uit. Hoe beskryf ’n mens aan iemand wat aan oorvloed gewoond is, die opwinding as jy om so ’n geskenk stap, hom bekyk, aan hom vat en dan uiteindelik op die saal klim?
’n Goed uitgesoekte geskenk hou vandag nog vir my dieselfde opwinding in as daardie swart BSA. Deur die jare was ek gelukkig om bederf te word met geskenke van waarde – nie noodwendig groot geldwaarde nie, maar dinge wat baie waarde tot my lewe toegevoeg het. Ek was ook bevoorreg om geskenke te kon gee wat ek hoop waarde tot ander se lewens toegevoeg het.
MENS SE BESTE VRIEND
Die eerste waaraan ek dink, is ’n geskenk wat ek vir ons as gesin gekoop het. Toe ons die dag die klein Weimaraner-tefie op Richmond gaan haal het, het ek nie geweet hoeveel vreugde sy ons sou gee nie. Ongelooflik slim, uiters gehoorsaam en heel onverwags ’n uitstekende waghond, maar bo alles ’n wonderlike apporteerhond, soos ’n pointer glo in Afrikaans heet.
Die ure wat ons met die haelgeweer in die veld deurgebring het, was van die beste in my lewe. Sy het daarvoor gelewe. Wanneer ek die geweerkluis se deur oopgemaak het, was dit net ’n rukkie later dat ’n kop met twee goudgeel oë vir my om die deur geloer het.
Nadat sy op die ouderdom van 14 jaar dood is, het ek nooit weer ’n Weimaraner gehad nie. Sy was onvervangbaar.
’N MES DUISEND
Tussen die stuk of 30 knipmesse in my laai is daar een wat ná al die jare uitstaan. Sy groot lem is al ’n bietjie hol geslyp, maar so elk nou en dan haal ek hom uit, veral om ’n koue skaapnek se bene skoon te eet.
Die Queen Steel #48 het by die wapenhandelaar op Graaff-Reinet in die kas gelê. Elke week as ek by Eddie Neser se Gun Bar gaan kuier het, het ek na die mes gekyk, maar hy was net te duur vir my sak.
Eendag het hy die mes teen ’n groot afslag vir my aangebied. Op my opmerking dat hy nou soos die Godfather is – “making me an offer I can’t refuse” – het Eddie droogweg gesê: “Nee, ek is eerder soos Vader Krismis, want ek gee vir jou die ding present.”
Toe ek egter die volgende week daar kom om die mes te koop, was dit weg. Ek was bitter teleurgesteld, min wetende dat Eddie en my vrou gekonkel het. Met my volgende verjaardag, kan jy raai, was die Queen Steel daar.
KYK VER
’n Paar jaar gelede het ek deur makulêre degenerasie sentrale sig in my linkeroog verloor. Dit veroorsaak dat ek nie meer my groot verkyker kan gebruik nie weens die probleem om hom te fokus. Wat ’n verrassing toe ek een Kersfees die geskenke oopskeur en ’n Bushnell-verkyker kry wat permanent gefokus is. Dit is ’n 8 x 25 en word ’n Perma Focus genoem. Sy enigste nadeel is dat hy nie op afstande korter as omtrent 30 meter fokus nie, maar ’n verkyker is mos in elk geval vir langer afstande bedoel. Die klein verkyker maak só ’n groot verskil aan my tyd in die veld dat ek dit beskou as een van die wonderlikste geskenke wat ek al gekry het.
SKOONPA SE BEDERF
Deur die jare was ek gelukkig om bederf te word met geskenke wat baie waarde tot my lewe toegevoeg het.
My eerste geweer was ’n ou oopvisierSLME .303. Toe, op ’n dag, het skoonpa Willie my sy P14-skyfskietgeweer present gegee. Ons het hom na Musgrave gestuur, waar hulle ’n 30-06-loop in daardie lekker sterk aksie gedraai en die kolf na ’n bruikbare sportkolf verander het – alles op Pa se rekening. Soos die Noordwesters graag sê: Kan jy dit nou oorvertel.
Kort ná die ombouing was dit Desember, en ons was op pad plaas toe. As student was ek egter só arm dat ek nie eens een pakkie patrone kon bekostig nie, maar die P14 het saamgegaan. Kersoggend was Pa se geskenk aan my twee pakke 30-06-patrone. Elke keer as ek ’n ou Musgrave-pakkie sien, voel ek weer die groot opwinding van daardie geskenk.
Só is daar talle lekker dinge wat ek deur die jare gekry het, byvoorbeeld ’n stukkende, ou .22 Winchester van ’n vriend. Ek het hom herstel en al ure se genot daarmee gehad. Ook ’n GPS-toestel, ’n messlyper, ’n lekker Merida-bergfiets en selfs die stel teikens soos die een op die foto links. Verlede jaar het my twee dogters my met ’n duur, 12 jaar oue enkelmout daar uit die hoogland van Skotland bederf. Lekker om op ’n winteraand, wanneer jy klaar gewere skoongemaak het, daarmee by ’n vuurtjie te gaan sit.
My wens vir julle in die Kerstyd is om met liefde te gee en met grasie te ontvang.
Ben Fourie is ’n geweergeesdriftige van Port Elizabeth.