Afrika-blog: Aartappels, patats skakel tussen Afrika en Inkas
Hoe bring ons die Inkas van Suid-Amerika en Afrika bymekaar uit? Die antwoord is eintlik baie eenvoudiger as wat ’n mens sou dink: Deur aartappels en patats!
Die aartappel moes ’n lang pad ry om by Afrika uit te kom, en saam met hom het sy maatjie, die patat, gery. Aartappels en patats word reeds duisende jare lank in Peru verbou en geëet. Die Inkakoninkryk wat van die 13de tot die 16de eeu een van die mees gesofistikeerde samelewings op aarde was, het aartappels en patats gaandeweg aangepas om dit eetbaar en smaakliker te maak. Sekere aartappelkultivars was giftig en is eers in die sneeu bo in die Andes gevries, dan gedroog en kon daarna geëet word.
Die Spaanse skeepvaarders het 400 jaar gelede eers besef aartappels is waardevolle kos tydens die lang seevaarte oor die Atlantiese Oseaan tussen Suid-Amerika en Europa. Só het die aartappel ook in Europa bekendheid verwerf. Vandag word dit op groot skaal in meer as 130 lande verbou – ook in Afrika.
Knolgewasse, soos aartappels, patats en kassawe, is naas graan (rys, mielies en koring) die belangrikste voedselsoort op aarde. Wêreldwyd word daar jaarliks sowat 400 miljoen ton aartappels verbou, terwyl patats en pampoen reeds die kerf van 130 miljoen ton bereik het. Die verbouing van kassawe het reeds die merk van 200 miljoen ton verbygesteek. Meer as 1 miljard mense eet elke dag aartappels. Die aartappel- en patatkultivars wat vandag in Afrika verbou word, het almal hul oorsprong in die Andesberge van Peru.
DUISENDE KULTIVARS
Ek het by die Internasionale Aartappelsentrum (IAS) in Lima, Peru, aangeklop om my meer oor sy werk in Afrika te vertel. Ek het altyd gedink daar is net drie aartappelkultivars, naamlik Sifra, Mondial en BP1. Die IAS het daardie wanindruk gou uit die weg geruim. Me. Maria Elena Lanatta, die kommunikasie-en-mediaspesialis van die IAS, sê daar is meer as 6 406 geregistreerde aartappelkultivars ter wêreld. Net in Peru is daar meer as 3 500 kultivars van alle kleure, smake, groottes en vorms, wat deur meer as 700 000 plattelandse families verbou word.
Van Lima af, spring ek oor na Kenia waar ek met dr. Paul Demo, streeksdirekteur van die IAS in Afrika suid van die Sahara, praat. Hy sê die IAS het drie projekte.
“Twee van hierdie projekte lê klem op navorsing en ontwikkeling wat daarop gemik is om die vermoë van aartappels en patats sodanig te verbeter dat dit ’n bydrae kan lewer tot die voedselsekerheid en lewensonderhoud van gemeenskappe op die platteland en kleinboere, asook hul hantering van klimaatsveranderinge in verskillende landbou-ekologieë in Afrika, Asië en Latyns-Amerika. Die derde projek is die sentrum se genebank wat hoofsaaklik daar is om die versameling en verskeidenheid van aartappels, patats en Andiese wortelgewasse te bewaar.”
Die sentrum het sedert 1971 ontwikkelingsen navorsingsprojekte in 14 Afrikalande gevestig.
“Jy moet onthou aartappels en patats het hul oorsprong in Latyns-Amerika. Die hoofkantoor van die IAS het teelmateriaal van meer as 8 000 verskillende kultivars of potensiële kultivars vir aartappels en ’n soortgelyke aantal vir patats. Vanuit hierdie versameling is verskillende Afrikalande van kultivars voorsien wat spesifiek goed in Afrika sal groei en aanvaarbaar sal wees op die mark,” vertel hy.
GESONDHEID UIT DIE GROND UIT
Demo sê die sentrum kon reeds 124 beter aartappelkultivars en 130 beter patatkultivars beskikbaar stel. Dit lewer ’n groot bydrae tot voedselproduksie en voedselsekerheid op die vasteland.
Hy sê wêreldwyd ly meer as 140 miljoen kinders jonger as vyf jaar oud aan ’n vitamien A-tekort. Dit lei tot blindheid en vroeë sterftes. Dit is ook ’n groot probleem in Suid-Afrika. Maar slegs 125 g oranjevleispatats verskaf genoeg vitamien A per dag vir ’n kind. Die sentrum het 37 oranjevleispatatkultivars ontwikkel en meer as 6 miljoen Afrika-huishoudings in staat gestel om met die produksie daarvan ’n lewe te maak.
“Die sentrum se werk het ook gehelp om die opbrengs van hierdie patats van 10,9 ton per hektaar tot 18,5 ton per hektaar in droëlandtoestande te verhoog,” sê Demo.
Die proses om kultivars geneties te verbeter het aanvanklik 37 jaar geduur. Nou duur dit net 5 jaar.
Jurie van der Walt is ’n oud-joernalis wat al in die Midde-Ooste gewerk en in Mosambiek met rys geboer het, en tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf. Hy stel ook belang in hoe inheemse Afrika-gewasse op plase en in kombuise kan herleef.
■