AANVAL OP PLAASVROU LAAT BO-KAROO SKRIK
‘Om nou honderdduisende rande vir watervloeimeters uit te haal . . . Ons hét net nie daardie geld nie.’
NÁ ’n plaasvrou naby Van Wyksvlei in die BoKaroo op 8 Junie deur twee seuns oorval en met ’n klip geslaan is, is die gemeenskap geskok dat sulke misdaad in hul veilige omgewing plaasgevind het.
“Dit is die eerste keer dat ons iets beleef wat soos ’n plaasaanval lyk. Ons hoor net van sulke dinge wat doer in die Vrystaat en ander provinsies gebeur en hierdie ding het ons laat skrik. Want nou sien ons dit kom nader,” vertel mnr. Rudi Oberholzer, voorsitter van die plaaslike boerevereniging.
Me. Berdine Vos het laatmiddag op haar stoep gesit toe twee 17jariges met klippe en ’n mes van agter die plaashuis gestap kom en dreig om haar dood te maak as sy nie vir hulle sigarette gee nie.
Hulle het haar met ’n klip teen haar kop geslaan, maar toe Vos aan hulle sê: “Hoekom doen julle dit? Ek kon jul ouma gewees het,” het hulle rustiger geraak.
Sy het meer as ’n uur met hulle in haar huis gesels en die situasie kalm gehou. Daarna is hulle te voet weg met sigarette, haar bakkiesleutels, selfoon, kontant en drank. Later die aand het die polisie die seuns vasgetrek toe hulle in ’n huis op Van Wyksvlei probeer inbreek het.
DRUK UITOEFEN
“Ons as boerevereniging en die gemeenskap wil ’n sterk teenwoordigheid by die hofsaak handhaaf en druk plaas op die ondersoekers en landdros om ’n slag ordentlik op te tree teen sulke misdadigers.
“Ouens soos dié word skaars oor die vingers getik en ’n paar dae later is hulle los. Hulle is glad nie bang om gevang te word nie, want hulle weet niks gaan gebeur nie. Dit maak hulle ál meer arrogant totdat hulle iemand se lewe bedreig of selfs neem.”
Oberholzer erken dat min boere in hierdie deel van die land paraat is. “Ons is gewoond daaraan om veilig te voel. Maar dit is dalk tyd om ’n bietjie met ons boere te gesels en veiligheid op te skerp.
“Al het jy vreeslik baie brawe planne, as daar skielik twee manne om die hoek van jou huis kom, skrik jy jou gat af. Ons wil beslis ’n paar kameras in ons omgewing laat opsit om verkeer dop te hou. Dit is wel baie duur en hier by ons word nog gestoei om deur die droogte te kom.”
BETER SEKERHEID
Ook Vos sê dat sy tot nou toe nooit daaraan gedink het om beter sekuriteit by haar huis te kry nie.
“Dit het regtig nie nodig gevoel nie. En al is ek steeds nie bang nie, gaan ek nou maar diefwering en ’n ordentlike hek laat opsit.
“Ek dink ook aan ’n plan om alarm te maak en die omgewing te laat weet as so iets gebeur, want ek het nou gesien dat jou selfoon dadelik van jou af weggevat word. Ag, en ’n tweerigtingradio sal hulle eenvoudig breek. Ons moet na iets beters kyk.”
DIE staat se opdrag dat besproeiingsboere watermeters moet installeer, is volgens TLU SA ’n onmoontlike saak voordat oor die talryke probleme daaromtrent gepraat is.
Besproeiingsboere wat lid is van besproeiingsrade en watergebruikersverenigings moes sedert 2017 meters hê en lesings aan die departement van water en sanitasie deurgee. Vanjaar se afkondiging is dus op die oorblywende boere van toepassing.
Mnr. Drickus Botha, lid van die organisasie se waterkomitee, sê die departement se afkondiging is egter deurspek met probleme.
Hy het in Plaaspraatjies, TLU SA se nuwe gespreksreeks op YouTube, oor verskillende waterkwessies gepraat waarmee boere te doene het.
Alle betrokke boere was veronderstel om reeds einde April hul waterlesings na die departement te stuur, wat dit volgens Botha waarskynlik sou gebruik het om aan boere ’n faktuur volgens die tariewe vir ongesuiwerde water te stuur. Botha sê boere het nie die vereiste meters geïnstalleer nie weens die verskeie probleme en onduidelikheid daaroor.
DUUR METERS
“Die spesifikasies van die watermeters is baie onduidelik, so ook die manier waarop dit gelees en ingestuur moet word. Verder is ’n watervloeimeter ’n baie duur ding. Besproeiingsboere besproei met pype van 80 mm tot 200 mm. ’n Watervloeimeter op ’n 200 mmpyp kos R20 000 of selfs meer, na gelang van die soort meter.
“Mense dink boere het ’n onuitputbare bron van geld. Dit is bloot nie waar nie. As ’n mens kyk wat droogtes, Covid-19 en wetgewing aan ons gedoen het, is dit duidelik dat boere finansieel baie swaar kry. Om nou honderdduisende rande vir watervloeimeters uit te haal . . . Ons hét net nie daardie geld nie. As die departement wil weet, moet hy meet, maar hy moet self (vir die meters) betaal.”
TLU SA het ’n versoek vir ’n gesprek tot die departement gerig en me. Lindiwe Sisulu, minister, het ontvangs erken, maar tot dusver was daar nog nie verdere reaksie nie.
‘OORWEEG TAAKSPAN’
Intussen is daar talle probleme met die rekeninge wat boere van die departement ontvang.
Botha sê die departement behoort ’n taakspan op die been te bring waarvan die lede besluitnemingsbevoegdhede het om kwessies rondom rekeninge te kan afhandel en, waar nodig, afslag en afskrywings te kan goedkeur.
Die gebrek aan kontinuïteit by die departement veroorsaak dat die besluitnemers wat vergaderings bywoon, deurlopend verander.
Op die laaste paar vergaderings het die amptenare wat dit bygewoon het, nie besluitnemingsbevoegdhede gehad nie, sê Botha.