KEN JOU TERMINOLOGIE
Elke bedryf het sy spesifieke terminologie of stel woorde wat maklik glip van die tonge van diegene wat daarin werksaam is, maar dikwels nie deur ander mense gesnap word nie. Dieselfde geld die vrugtebedryf.
Deur ’n paar kernwoorde aan te leer, kan enigiemand gou-gou ervare klink, reken mnr. Conrad Fick, bemarkingsbestuurder van Tru-Cape, die grootste uitvoerder van Suid-Afrikaanse appels en pere.
Hy sê die klassifisering van appels en pere as “kernvrugte” kom van die holte of kern in die middel van die vrugte. “Die vyfhoekige, stervormige holte wat die sade bevat, is deur verskeie ou beskawings as teken van heiligheid beskou. Steenvrugte (soos perskes en pruime) bevat weer net een harde pit, of ‘klip’. In Nederlands word dit ‘steen’ genoem – vandaar steenvrugte.”
Fick sê omdat daar so baie kultivars is, gebruik mense wat in die bedryf werk, meestal drieletterafkortings om na hulle te verwys. Só word Granny Smith afgekort na GRS, Fuji na FUJ en Golden Delicious na GDL. Dié afkortings maak dit makliker en vinniger om ’n databasis te hou van die kultivars wat in voorraad is.
Hy sê vruggrootte word beskryf as die hoeveelheid vrugte van ’n sekere grootte wat in ’n standaardkartonhouer sal pas.
“Ons noem dit die vrugtelling. ’n Telling 80 of T80 beteken dat daar 80 appels in die kartonhouer sal pas. Dit is makliker om op dié manier te visualiseer hoe groot ’n vrug is pleks van om na die vrug se deursnit of gewig te verwys.”
Gewoonlik is ’n kartonhouer appels 18,25 kg en pere 12,5 kg.
Verbruikers wonder dikwels hoe boere dit regkry om vrugte reg deur die jaar aan
winkels te lewer. “Dit is moontlik deur gebruik te maak van beheerdeatmosfeer (BA) opberging, wat die rypwording van vrugte vertraag nadat dit gepluk is.
“Vrugte word teen lae temperature opgeberg en die meeste van die suurstof word uit die koelkamer waar die vrugte gehou word, verwyder. Die kombinasie van lae temperature en lae suurstofvlakke veroorsaak dat die vrugte se rypwording aansienlik vertraag word, byna soos ’n beer wat tydens winter hiberneer.”
Fick sê wanneer die vrugte aan supermarkte verskaf moet word, word hulle stelselmatig “wakker” gemaak deur die suurstofvlakke en temperatuur te verhoog.
Gewoneatmosfeer (RA) opberging verwys na die groot koelkamers waarin vrugte opgeberg word sonder dat suurstofvlakke gemanipuleer word.
Dinamieseatmosfeer (DCA) opberging behels die gebruik van die eienskappe van plantchlorofil wat lig weerkaats.
“Sodra die suurstofvlak té laag is, verander die golflengte van die weerkaatste lig wat deur sensors gemeet word.
“Op hierdie manier kan ’n mens die vrugte teen die laagste moontlike suurstofkonsentrasie opberg,” sê Fick.
– BRIAN BERKMAN