POEIERAGTIGE MEELDOU BY KLEINGRAAN
In ander ontwikkelende lande is 100% oesverliese by koringkultivars al aangeteken.
hoogs vatbaar vir die siekte. By gars kom die siekte nie so gereeld voor soos by koring nie, maar dit kan steeds aansienlike skade aanrig.
Die besmettingsiklus van die swam is vinnig en wanneer dit eers goed gevestig is, is dit moeilik om te behandel. In gunstige toestande met ’n optimale temperatuur vir die groei van die swam en hoë relatiewe humiditeit kan die besmettingsiklus in sewe dae voltooi word. Dit beteken daar kan slegs sewe dae verloop van die eerste spoorontkieming en besmetting voor die volgende generasie spore vrygelaat word.
In ’n gegewe land met ’n redelike vlak van besmetting word daar miljoene swamspore binne die land vrygelaat. By laer temperature (5-10 °C), word die besmettingsiklus beduidend vertraag. Simptoomuitdrukking én die produksie van die spore word onderdruk. By temperature bo 25 °C word besmetting en sporulasie ook in ’n mate gestuit.
Vroeë ingryping is daarom baie belangrik. Dikwels, in situasies waar poeieragtige meeldou die oorhand kry, was dit waar die vroeë toediening van swamdoder nie suksesvol was nie.
Jong plante kan, voor dit begin stoel, reeds deur die poeieragtige meeldouswam besmet word. Die eerste tekens van moontlike besmetting is geel vlekke wat lukraak oor die blaaroppervlakte verskyn. Die vlekke dui die punte aan waar besmetting plaasgevind het. Daarna word die wit, donserige swampuisies bo-op die blaar sigbaar.
Die puisies bevat spoorkettings, met ongeveer agt spore per ketting. Die spoor op die verste punt van die ketting word ryp, breek af en word deur die wind na nuwe gasheerweefsel gedra.
Die besmette, jong, onderste blare van die plant dien as ’n bron van inokulum vir die besmetting van boonste blare in dieselfde plant, asook vir die besmetting van naburige plante. Suksesvolle, vroeë toediening van swamdoder is daarom noodsaaklik in die bestryding van die siekte.
Gunstige klimaat speel in hierdie stadium van die lewensverhaal ’n belangrike rol in die voortgesette besmetting van plante. Veral humiditeit is belangrik vir die verdere ontwikkeling en verspreiding van die siekte.
Indien die weer gunstig bly, beweeg die swam opwaarts in die plant en besmet dit die groter boonste blare, asook die vlagblaar en die aar.
Hoe vroeër die eerste besmetting in plante plaasvind en hoe vinniger die besmetting ’n geleentheid het om die hele plant te besmet, hoe groter is die meegaande opbrengsverlies.
In gunstige toestande versprei die swam na die vlagblare en die swamliggaam oortrek die vlagblaar. Klein, swart seksuele vrugliggame vorm binne in die wit swammassa wat op die blare groei.
Hoewel wisselboustelsels toegepas word, word daar sporadies nog dieselfde gewas jaar ná jaar geplant. Veral waar koring ná koring geplant word, en waar probleme met poeieragtige meeldou voorheen ervaar is, sal die siekte onvermydelik wees.
Die swam is ’n parasiet en oorleef op die lewende weefsel van die plant, van waar dit voedingstowwe vir oorlewing onttrek. Die swam kan ’n aansienlike inperking van opbrengs teweeg bring, omdat dit die plant se bronne vir produktiwiteit benut vir eie oorlewing. Mettertyd verkleur die swampuisies van wit na ’n gryserige kleur en vorm daar klein, ronde, swart, vrugliggame binne in die swammassas wat op die blare gevorm was.
Hierdie vrugliggame dien as oorlewingstrukture vir die swam. Die strukture oorleef buite die groeiseisoen en dien in ’n daaropvolgende seisoen weer as bron van inokulum.
DOELTREFFENDE BESTUUR IN DIE 2020-SEISOEN
Die tekort aan weerstandsgene teen poeieragtige meeldou in kommersiële koringkultivars veral beteken dat daar ’n wye gasheerbeskikbaarheid vir hierdie swam is. Dit sal daarom waarskynlik jaar ná jaar in dieselfde streek voorkom waar dit voorheen probleme veroorsaak het.
In die konteks van opbrengsverliese is daar nie baie inligting oor die werklike situasie in Suid-Afrika beskikbaar nie. In Europa, waar daar volledige, of matige genetiese bestandheid teen poeieragtige meeldou in hul kultivars is, word aangemeld dat die siekte nie regtig tot opbrengsverliese lei nie. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie. Die meeste kommersieel beskikbare koringen garskultivars is vatbaar tot hoogs vatbaar vir poeieragtige meeldou. Gevolglik, veral in ’n situasie waar geen swamdoder toegedien word nie en die kultivar hoogs vatbaar is, kan oesverliese betekenisvol wees.
In ander ontwikkelende lande van die wêreld is 100% oesverliese by koringkultivars al aangeteken.
KRITIEKE BESTUURSPRAKTYKE
Ondersoek die gewas vir moontlike besmetting van vroeg af. Die bekamping van poeieragtige meeldou is heelwat moeiliker as daar reeds ’n gevestigde besmetting is. Daarom is dit belangrik om vroeë besmetting op te spoor en tydig in te tree. Veral in lande wat vroeg geplant is, waar die saaidigtheid hoog is, waar daar ’n geskiedenis van siektedruk bekend is en waar die stikstofstatus hoog is, moet fyn dopgehou word. Vatbare kultivars wat onder toestande van gunstige grondvog geplant is, het ’n hoë risiko vir die voorkoms van die siekte. Plantdigtheid. Die swam floreer in toestande waar daar ’n vogtige mikroklimaat binne die land ontstaan. Dit is dikwels die geval vir plante wat met ’n hoë plantdigtheid geplant word. Let daarom spesifiek op na die moontlikheid vir die voorkoms van hierdie siekte in dig geplante lande.
Voedingstatus. Waar die stikstofvoeding hoog is, groei plante geiler en lei dit ook tot ’n gunstige mikroklimaat vir die voorkoms van die swam.
Vroeë toediening van swamdoder. Die eerste besmetting kan reeds in klein saailingplante plaasvind. Daarom is ’n vroeë aanwending van ’n swamdoder, so vroeg as die vierblaar-stadium indien die siekte waargeneem word, belangrik. Veral met digte plantestand sal poeieragtige meeldou nie noodwendig opsigtelik wees in die onderste deel van die plant nie. As swambestryding met poeieragtige meeldoubesmetting in die vroeë stadiums nagelaat word, bemoeilik dit die bekamping van die siekte in latere stadiums wanneer die swam geil groei en goed ontwikkel is.
Die aanwending van swamdoders moet beskou word as ’n voorkomende ingryping pleks van genesend. Dit is aansienlik makliker om die siekte te bestuur deur die herhaalde besmetting van die plante te voorkom. Daarom is dit veral belangrik dat as die siekte in vroeë groeistadiums opgemerk word, dit met swamdoder behandel moet word. Opvolgbespuitings van swamdoder is ook belangrik, aangesien die hele swambevolking nie noodwendig deur die eerste swamdodertoediening bekamp sal word nie. Veral as die weer gunstig bly, kan daar steeds herhaalde besmetting van plante plaasvind.
Korrekte toediening van swamdoder. Swamdoders moet oordeelkundig gebruik word. Indien
plante reeds met poeieragtige meeldou of ’n ander siekte besmet is, veral as ’n siektevatbare kultivar geplant is, moet die vol geregistreerde dosis swamdoder toegedien word. Toedienings onder die aanbevole dosis sal nie die siekte in ’n gevorderde stadium kan bekamp nie. Sulke aanwendings mors tyd en geld. Swak siektebekamping ná toediening van swamdoders. Swak siektebekamping kan verband hou met ’n hoë inokulumdruk, ’n baie vatbare gasheer, baie gunstige weer, of onsuksesvolle toediening van die middel weens onakkurate gebruik. Die status van die bestandheid van Suid-Afrikaanse bevolkings van poeieragtige meeldou teen swamdoders is nie bekend nie.
Dit is egter ’n werklikheid dat hierdie swam in ander lande bestandheid teen verskeie swamdoders ontwikkel het. Dit is dus nie onwaarskynlik dat dit ook in Suid-Afrika kan gebeur nie. ’n Goeie strategie is om middels te gebruik wat ’n mengsel van aktiewe bestanddele bevat.
Indien die swam bestand is teen een aktiewe middel, kan die ander aktiewe middel steeds ’n uitwerking hê.
Klimaats- en omgewingsverandering. Studies op die impak van ’n veranderde klimaat, veral die rol van verhoogde vlakke van CO2, soos wat tans wêreldwyd ervaar word, dui aan dat waar poeieragtige meeldou ’n vatbare kultivar vroeg besmet het, die swam gemaklik kan floreer. Nie net het Suid-Afrikaanse verbouingstelsels van konvensionele bewerking na geenbewerking verskuif nie, maar die klimaat is anders as wat dit twintig jaar terug was.
Die dinamika van biologiese prosesse in hierdie stelsels sal dus verskuif en verander, en die produsent moet hierop voorberei wees deur die uitbreek van siektes beter te verstaan en te bestuur. Historiese kennis oor die siektes wat voorheen ervaar was, asook die bestryding daarvan, is nie noodwendig gepas vir die siekteprofiel van kleingrane in die toekoms nie. Veral met verskuiwing in die kultivars wat geplant word, sal die siektespektrum in elke seisoen eiesoortig wees en moet dit per seisoen bestuur word.
Die moontlike opbrengsverliese wat poeieragtige meeldou teweeg kan bring, moet nie onderskat word nie. Veral by vatbare kultivars kan opbrengsverliese ervaar word, indien die siekte tot in die vlagblaar en in die aar gevorder het.