VIRUSVRY
Gesondheidskenners het vrese besweer dat die virus wat Covid-19 veroorsaak, deur voedsel versprei word. Dit kom ná ingevoerde vis die skuld gekry het vir ’n nuwe uitbreking van die siekte in die Chinese hoofstad Beijing. Bloomberg berig die Amerikaanse voedsel- en medisyneadministrasie (FDA) en sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) het onderskeidelik gesê hulle is nie bewus van enige getuienis dat voedsel die siekte kan oordra nie, en dat die kanse om die koronavirus deur voedselverpakking te versprei, waarskynlik baie laag is. Noorweë én Chili, die wêreld se twee grootste salm-uitvoerders, het gesê hul vis is veilig om ingevoer te word. Die Beijingse uitbreking is blykbaar teruggespeur na die kapbord van ’n verkoper van ingevoerde salm in dié stad.