WYN DING MEE
Wynmakers kan tot 17 Julie wyn voorlê vir die Mosaic Top 5 Pinot noir-wyntoekennings, wat vanjaar afskop, en die vyf wenners sal op internasionale Pinot noir-dag (18 Augustus) bekend gemaak word. Produsente mag meer as een Pinot noir inskryf, maar slegs een wyn per produsent – die een wat die meeste punte behaal – sal as ’n wenwyn verklaar word. Besoek bit.ly/31aY1Qu vir meer. Intussen gaan die Absa Top 10 Pinotage-kompetisie en die Novare SA Terroir-toekennings voort, hoewel dit nog onseker is wanneer die toekenningsgeleenthede gaan plaasvind. Die Suid-Afrikaanse wynhandelskou, CapeWine, is met ’n jaar uitgestel, grootliks omdat die organiseerders nie ’n hoofborg kon kry nie.