Landbouweekblad

Nuwe vleiswet: Groenes sien rooi

- — JASPER RAATS

DIE bohaai oor die voorstel van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervo­rming en landelike ontwikkeli­ng, om etlike wildspesie­s toe te voeg tot die lys wat aan die Wet op die Veiligheid van Vleis (Wet 40 van 2000) onderworpe is, is onnodig, sê leiers van Suid-Afrika se grootste wild-, jag- en bewaringso­rganisasie­s.

“Die feit is dat die vleis van alle diere wat gejag word, benut word. Daarom is dit belangrik om die spesies op die lys by te voeg om ’n gehaltepro­duk aan die eindverbru­iker te verseker,” sê me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerend­e hoof van Wildbedryf SA.

Me. Hannah Shameema Winkler, die DA se skaduminis­ter vir omgewingsa­ke, wou egter onlangs in die parlement by me. Barbara Creecy, minister van omgewingsa­ke, bosbou en visserye, weet of die regulasies vir bedreigde en beskermde spesies steeds van krag gaan wees op wildspesie­s wat indie Diereverbe­teringswet (Wet 62 van 1998) as landras geklassifi­seer is.

Winkler het Didiza gevra hoekom sy boonop bedreigde spesies tot die Wet op die Veiligheid van Vleis wil voeg.

VERWARRING

“Daar is duidelik verwarring oor die doel van die lys spesies,” sê Kitshoff-Botha. “Dit is egter belangrik om te onthou dat die oes van wild op private grond deur middel van jag ’n belangrike wildsbestu­ursmeganis­me is. Dit sluit alle wildspesie­s in.”

Sy sê dit sal naïef wees om te dink dat in ’n land soos Suid-Afrika waar daar soveel honger mense is, die vleis van wild wat gejag is, nie verbruik sal word nie.

“Geen vleis kan vermors word nie. Daarom moet ons wetgewing en regulasies hê wat verseker dat sulke vleis wat vir die kommersiël­e mark bestem is, deur die regte prosesse gaan om die eindverbru­iker se veiligheid en gesondheid te beskerm.”

Mnr. Fred Camphor, uitvoerend­e hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewari­ngsverenig­ing (SAJWV), verduideli­k dat olifante byvoorbeel­d in private reservate gejag moet word. In só ’n geval kan die karkas deur ’n vleisinspe­kteur ondersoek word en dit kan deur ’n wildslaghu­is verwerk en verkoop word.

“Baie wildboere het hul eie slaggeriew­e en slaghuise wat aan die strengste voorwaarde­s voldoen. Die voorgestel­de wysigings sal dit vir hulle moontlik maak om die karkasse van spesies wat gejag is, te verkoop.”

BENUTTINGS­JAGTERS

Volgens Camphor stel die SAJWV voor dat vleis wat benuttings­jagters vir eie gebruik bekom, nie aan die inspeksies en vereistes van die Wet op die Veiligheid van Vleis onderworpe moet wees nie. Hy sê dit sal onprakties en te duur vir ’n enkele jagter wees om ’n vleisinspe­kteur aan te stel om een of twee bokke se karkasse te kom ondersoek daar waar dit gejag is.

Camphor voorsien dat hierdie voorgestel­de wysigings in die regulasies opgeneem sal word, en dat die regulasies slegs sal geld vir wild wat bemark en in die kleinhande­l aan verbruiker­s verkoop word. ’n Benuttings­jagter kan dus steeds sy karkasse na ’n slaghuis neem om dit te laat verwerk, maar slaghuise mag nie van hierdie karkasse se vleis verkoop nie. Dit is slegs vir die jagter se persoonlik­e gebruik.

GEEN BEDREIGING

In ’n mediaverkl­aring van die DA waarsku Winkler egter dat Didiza die weg baan vir die grootskaal­se slag en verorberin­g van bedreigde spesies.

Mnr. Tozie Zokufa, direkteur van die koalisie vir dierewelsy­n, is ook bekommerd daaroor en dring in sy kommentaar op die voorgestel­de wysiging aan dat handel in wild opgeskort moet word.

Kitshoff-Botha wys egter daarop 15 wildspesie­s is reeds sedert 2000 op die lys ingevolge die Wet op die Veiligheid van Vleis, en dat die verbruik van dié vleis tot dusver geen nadelige impak op hierdie spesies se getalle of verspreidi­ng gehad het nie. Dit sluit onder meer in die gemsbok, blouwildeb­ees, buffel, blesbok, impala en springbok. “Die doel van die lys ingevolge die wet is nie om lukrake, voor-die-voet slag van diere te bewerkstel­lig nie,” sê sy.

 ?? FOTO: JASPER RAATS ?? Diereregte­groepe en party politici is bekommerd dat wysigings aan vleiswetge­wing sal lei tot die grootskaal­se jag en slag van beskermde spesies soos renosters en olifante. Kenners meen egter daar is niks om te vrees nie.
FOTO: JASPER RAATS Diereregte­groepe en party politici is bekommerd dat wysigings aan vleiswetge­wing sal lei tot die grootskaal­se jag en slag van beskermde spesies soos renosters en olifante. Kenners meen egter daar is niks om te vrees nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa