DIE ANDER SÊ
BYNA alle (91%) grondeienaars in ’n internasionale studie oor die moontlike gevolge van ’n verbod op trofeejag meen die ekonomiese volhoubaarheid van hul private grond en die biodiversiteit daarop sou verlore gaan indien ’n verbod daarop ingestel word. Grondeienaars sal óf ekotoerisme op sulke grond vergroot, óf oorskakel na konvensionele veeboerdery.
Al word ekotoerisme dikwels beskou as ’n haalbare alternatief vir trofeejag, bevind dié studie dat slegs een derde van grondeienaars dié komponent sou vergroot. Die res glo só ’n oorskakeling sou nie finansieel haalbaar wees nie, gegewe die koste daaraan verbonde om die versadigde toerismemark te betree en daarin mee te ding. Van diegene wat meen ekotoerisme is nie haalbaar nie, sou die helfte oorskakel na veeboerdery, personeel verminder en die wild verkoop. Die ander helfte meen daar is geen haalbare alternatief nie.
’n Afname in wildbevolkings kan ’n onbedoelde gevolg wees van ’n trofeejagverbod omdat dit minder wildplase kan beteken, wat juis ’n groot rol speel in spesiebewaring. Private wildplase en private wildreservate beslaan 14% tot 17% van die land se oppervlak – meer as dubbel die oppervlak van staatsreservate.
Drukgroepe ten gunste van ’n verbod op alle trofeejag, asook die gebruik van en handel in wild, moet dus die potensiële gevolge oorweeg. Indien ’n einde aan trofeejag die hoogste doelstelling is weens die morele onaanvaarbaarheid daarvan, moet die impak op bewaring en die lewensbestaan van die gemeenskappe wat van jag afhanklik is, verreken word.