Landbouweekblad

EDCON-SAKEREDDIN­G SAL NIE KATOENBEDR­YF POOTJIE NIE

- VIDA BOOYSEN

DIE Edcon-groep se toewyding tot die plaaslike katoenbedr­yf sal beslis ’n leemte laat as die groep sy deure moet sluit.

Só sê mnr. Hennie Bruwer, uitvoerend­e hoof van Katoen SA.

Al sou die moontlike verlies van Edcon se bestelling nadelig wees vir die plaaslike katoenwaar­deketting, is dit egter nie ’n nekslag vir plaaslike katoenprod­usente nie.

“Tot 80% van Suid-Afrika se katoen word tans uitgevoer, terwyl 20% deur die plaaslike spinners verwerk word.”

’n Sakereddin­gsplan is einde Junie goedgekeur om Edcon van likwidasie te probeer red. Die inperking weens Covid-19 het Edcon se finansiële verknorsin­g vererger waarna hy om vrywillige sakereddin­g aansoek gedoen het.

Daar is groot waardering uit die katoenbedr­yf vir Edcon se betrokkenh­eid.

“Edcon se aanvanklik­e bestelling van 600 ton katoenlint in 2016 het oor die afgelope drie jaar gegroei tot 2 500 ton. Die maatskappy is ook toegewy daaraan dat sy hele katoenwaar­deketting op geïdentifi­seerde produkte, van die boer tot die winkelrak, 100% plaaslik bedryf word,” sê Bruwer.

ANDER VENNOTE

Benewens Edcon ondersteun twee ander kleinhande­lgroepe ook die sambreelli­ggaam vir die plaaslike katoenbedr­yf, die Suid-Afrikaanse Katoenklus­ter (SACC) (voorheen die volhoubare katoengroe­p of SCC).

Ander kleinhande­laars wat nie deel van die SACC is nie, gebruik ook plaaslike katoen.

“Die regstreeks­e impak van een winkelgroe­p se sluiting is dus nie so groot dat dit die Suid-Afrikaanse boer omver gaan gooi nie.”

Die steun van plaaslike kleinhande­laars het baie daartoe bygedra om die afgelope aantal jaar nuwe lewe in die plaaslike katoenbedr­yf te plaas.

Volgens Bruwer was die samewerkin­g tussen Katoen SA, verteenwoo­rdigers van die katoenwaar­deketting en die regering in 2013 om die SACC te stig ’n groot suksesfakt­or wat meer sekerheid onder die boere geskep het om weer katoen te begin aanplant.

“Dit het die kapasiteit en mededingen­dheid in die Suid-Afrikaanse tekstiel- en klerenywer­hede verhoog.”

Daar is toe R200 miljoen as deel van ’n vyfjaarpla­n belê om die bedryf lewensvatb­aar te maak en plaaslike verbruik te stimuleer.

In 2014 was die Mr Price-groep die eerste kleinhande­laar wat met dié groep begin saamwerk het.

Later het die Edcon-groep en

Woolworths ook op produklyne wat met Suid-Afrikaanse katoen vervaardig is, begin konsentree­r.

Bruwer sê die bedryf is bekommerd oor die impak van Covid-19 op sy voortgeset­te groei.

Sedert die stigting van die SACC het katoenprod­uksie in Suid-Afrika met meer as 800% gegroei en die private sektor het groot beleggings in die ontwikkeli­ng van infrastruk­tuur gedoen.

Die struktuur wat die SACC ontwikkel het vir al die belanghebb­endes in die waardekett­ing om saam om een tafel te sit, het bygedra tot vertroue en ’n deursigtig­e sakemodel wat die kopers nader aan die boer gebring het. Dit het die weg gebaan vir swart kleinboere en kommersiël­e boere om in groot getalle tot die mark toe te tree.

Hierdie groei op produksie- en pluismeulv­lak het die behoefte vir nuwe groeigelee­nthede geskep sodat plaaslike katoen op groter skaal plaaslik gespin en verder verwerk word.

“Die SACC het aansoek gedoen vir verdere finansieri­ng van die regering – waarvoor daar nou al twee jaar gewag word. Met die nuwe veranderin­gs aan die begroting weet ons nie of die geld gou beskikbaar sal raak nie.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa