‘ONTEIENING GAAN NIE GROEI BRING’
MANIERE moet gevind word om landbougrond wat die staat sedert 2006 vir grondhervorming aangekoop het, asook ander beskikbare staatsgrond, produktief vir boerdery aan te wend vir ekonomiese herstel in die tyd ná Covid-19.
Só het mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, in ’n radioonderhoud met me. Refilwe Moloto, ’n ekonomiese en beleggingstrateeg en aanbieder by Cape Talk, gesê met die bekendstelling van sy boek Finding ommon ground.
Sihlobo het gesê die landbou is een van die belangrikste sektore wat met ekonomiese groei en ontwikkeling kan help. Ramings wissel baie, maar die staat het sowat 9 miljoen ha landbougrond waarvan die titelaktes in sy besit is.
Pleks daarvan om aan hierdie grond vas te klou, meen hy dit kan met verhandelbare langtermyn-bruikhuurooreenkomste of selfs met volle eiendomsreg oorhandig word aan begunstigdes wat behoorlik gekeur is. Veral vroue en jeugdiges kan só bemagtig word.
ONNODIG, NADELIG
Hy beklemtoon onteiening sonder vergoeding moet vermy word.
“Die landbousektor in SuidAfrika is ’n kapitaalintensiewe sektor. As ’n mens dit wil aanwend as een van die sleutelsektore in die ekonomie – soos wat beoog word en veral in die lig van ekonomiese herstel ná die gevolge van Covid-19 – sal baie beleggings in die sektor nodig wees. Onteiening sonder vergoeding sal hierdie ekonomiese doelwitte ondermyn.
“Onteiening sonder vergoeding is nie nodig om grondhervorming te laat slaag nie. Daar is verskeie ander opsies, soos grondskenkings en vennootskappe tussen die staat en die private sektor, wat tans in beleid omskep word en beter opsies as onteiening is.”
Nog een van die voorstelle in sy boek is om ’n grondhervormingsfonds op die been te bring waartoe die staat en die private sektor kan bydra om landbougrond op die ope mark vir grondhervorming te koop.
LAKSHEID?
Op ’n luisteraarsvraag of hierdie opsies nie maar altyd daar was nie en of dit nie eintlik die laksheid van die regering en die “wit gronddiewe” is om grond te herverdeel wat die proses laat misluk nie, het hy gesê opsies soos die hervormingsfonds en grondskenkings is nuwe voorstelle.
“Dit is ook verkeerd om te sê daar is ’n onwilligheid by die betrokkenes om gemeenskaplike oplossings te vind. Mense besef die dringendheid en belangrikheid van grondhervorming.”
Sihlobo het gesê ’n groot rede hoekom baie grondhervormingsplase misluk het, is omdat die regering veral ná 2006 plase gekoop en sonder titelaktes aan begunstigdes oorgedra het. Begunstigdes het geen manier gehad om kapitaal vir produksie te bekom nie en daar was ook geen ander vorme van steun nie.
“Niemand wil ’n situasie hê waar swart mense met land
GROND SÓ VERDEEL
sit, maar nie in staat is om kapitaal te bekom vir produksie nie. Daarom moet iets soos onteiening sonder vergoeding vermy word.”
KOMMERSIALISEER
Hy het gesê daar moet ook ernstig gekyk word na die kommersialisering van swart boere om die dinamika te verander dat die kommersiële sektor as wit en kleinboere as swart gesien word. Klein boerderye kan nader aan stedelike gebiede ontwikkel word waar kommersiële plase nie moontlik is nie. Daar moet veral gekonsentreer word op hoëwaardeprodukte en arbeidsintensiewe boerderye.
Sedert 1994 is die fout met grondhervorming gemaak om die klem net op landbougrond te lê. Daar moet gekyk word na grondhervorming in residensiële gebiede en selfs in nywerheidsgebiede.