MNR. LIONEL BIGGS
Die gebied kry gemiddeld 750 mm reën per jaar en dit sneeu minstens een keer in die winter wat die ondergrondse watervoorraad aanvul. Die warm somer (tot 38 °C) sorg dat die veld goed groei.
LAE DIPKOSTE
Afrika- en Asiatiese rooiwater kom baie voor. “As ons ’n sekere bul graag wil hê, koop ons hom, al kom hy nie uit ’n rooiwatergebied nie. Dan blok ons hom eers en monitor hom deeglik vir minstens ’n jaar. Sy kans is dan beter om langer te oorleef. Ons hoofmikpunt is om nageslag van hom te kry. Dan kan ons met sy seuns verder teel as hy vrek,” verduidelik hulle.
Hulle sê die rasegte Nguni’s op die plaas is 17 jaar laas gedip omdat hulle ’n baie hoë weerstand het. In die begin, nadat hulle opgehou dip het, het van die beeste gevrek, maar danksy hierdie natuurlike seleksie vir weerstand is daar nou baie min vrektes vanweë siektes wat deur bosluise veroorsaak word. Nou bespaar hulle baie geld aan dipmiddels en arbeid. Net die kommersiële beeste word gedip of gedoseer.
“Goeie arbeid is skaars en duur. Danksy ons laesorgbeeste kom ons nou met slegs ses werkers vir die hele boerdery van meer as 1 000 koeie oor die weg,” sê Clive.
Die kommersiële beeste is vatbaarder vir bosluisoorgedraagde siektes en word in die somer minstens twee keer gedip, terwyl die koeie ook vir inwendige parasiete gedoseer word. Verder boer die Biggs-gesin op ’n soortgelyke wyse met die stoet- en kommersiële beeste.
Een gebied waar hul waaksaamheid nooit verslap nie, is geslagsiektes. Ná die dektyd doen hulle ’n skedewas op die bulle om seker te maak hulle het nie geslagsiektes gekry nie. Bulle wat elders gekoop word, word ook getoets en in kwarantyn gehou waar hulle ’n tweede skedewas ondergaan.
Wanneer die toetse wys hulle is gesond, kan hulle hul by die ander diere op die plaas aansluit. Hulle word ook vir besmetlike misgeboorte en beestuberkulose getoets.
MINDER BULLE
Nog ’n gebied waarop die Nguni die ander beeste klop, is die groot getal koeie wat die bulle kan baasraak. Brian sê een bul kan tot sewentig koeie in hul enkele dektyd dek wat oor drie maande (November tot Januarie) strek. Bulle bly ook tot op ’n hoër ouderdom produktief.
Biggs het begin dek toe hy twee jaar oud was. Die eerste jaar was hy in ’n koeikudde waar meerbulparing gevolg is. Die tweede jaar het hy sy eie kudde van 80 verse gekry waarvan 78 ná die dekseisoen van drie maande dragtig was. In sy derde en vierde jaar as stoetbul was hy by kuddes van 70 koeie en het albei jare meer as 90% dragtig gemaak.
Die bul se semen is ook vir kunsmatige inseminasie getap. Sy eerste saadtapping by die nuwe eienaars het 700 strooitjies opgelewer.
Biggs is nou agt jaar oud. Die Biggs-gesin het besluit om hom te verkoop omdat hulle hom reeds lank genoeg gebruik het. Sy eerste kalwers is in 2015 gebore. ’n Aantal van sy bulkalwers toon goeie tekens van voortreflikheid en het al sélf goeie nageslag opgelewer. Hulle gaan party van dié bulletjies as kuddevaars aanwend en die res verkoop. Biggs se verskalwers lyk ook baie belowend, volgens die seuns.
Al die aanteeldiere word baie hard op die veld grootgemaak. Hulle moet aanpas en presteer, anders word hulle uitgeskot. Stoet- én kommersiële bulle word oor dieselfde kam geskeer. As ’n bul nie goed genoeg vir stoetteling is nie, is hy ook nie goed genoeg vir kommersiële gebruik nie, glo hulle.
STRENG BULSELEKSIE
Die eerste seleksie van bulkalwers is met speen op sewe maande, hoewel hulle al van jongs af dopgehou word. Die broers is dit eens dat hul 75-jarige pa se kennis en ervaring vir hulle goud werd is en hy is altyd byderhand wanneer hulle seleksie toepas.
Die kalwers moet mooi lyk en aan die Nguni-raseienskappe voldoen. Sulke kalwers het goeie moeders met goeie genetiese eienskappe, want as sy genoeg melk het, lewer sy ’n mooi, swaar speenkalf. Net die beste 30% bulletjies van
‘Dit is hard om hier te boer vanweë die intense koue in die winter. Ons het al temperature van tot -17 °C gemeet.’
gewilder. Daarom oorweeg hulle sterk om die boerdery méér aan die stoeterykant uit te bou en die kommersiële boerdery te verklein.
‘MODERNE’ NGUNI?
Die broers stem saam dit is nie nodig om die Nguni anders te teel as wat hy is nie. Sommige telers probeer ’n “beter” Nguni teel, maar die Biggsmanne glo hy is goed genoeg nes hy is en hulle hoef nie te probeer om hom vrugbaarder of geharder te teel nie. Langlewendheid is reeds in die ras se gene, wat te sien is in sommige van hul koeie wat gekalf het totdat hulle twintig jaar oud was. “Hoeveel ander rasse kan dit doen? Ons glo as iets nie stukkend is, hoekom wil jy dit regmaak?”
Hul moedereienskappe is ook puik. Jakkalse probeer nie eens om ’n koei aan te val terwyl sy kalf nie, want die ander koeie sal hom verjaag. Hulle kalf gou klaar en is dan gereed om hul pasgebore kalwers sélf te beskerm.
Aanpassing is nóg ’n pluspunt en hulle aard in van die berggebiede van KwaZuluNatal en die OosKaap tot die Karoo en diep in die Kalahari. Droogtes bewys dit telkens wanneer Nguni’s hul kondisie in droë toestande behou, danksy hul vermoë om skrapse weiding te benut en ver agter kos aan te loop.
LEKKER GESINSBOERDERY
Die broers gesels oor hul opset in ’n gesinsboerdery. Baie van die werk is saamsaam en almal is tevrede daarmee. Besoekers merk dikwels op hoe lekker die broers en hul pa saamwerk. “Nie dat daar nié soms argumente is nie. Wat baie help, is dat ons van kindsbeen deel van die Nguniboerdery was. Dus het ons dieselfde ingesteldheid. Wanneer ons afsonderlik van mekaar op ’n veiling na diere kyk wat ons oorweeg om te koop, is daar gewoonlik 90% raakpunte.”
Hulle is dit eens die Nguni’s het hulle op ’n wenpad gesit. Lionel het as jong man saam met sy broer, Victor, in die OosKaap geboer en met beeste gespekuleer. In die proses het hulle agtergekom die swart beesboere verkies die bont beeste (Ngunitipes) wat hulle in die landelike gebiede gekoop het.
Toe die staat die familielid se grond uitkoop, het Lionel Mooifontein gekoop en begin om goeie Ngunitipe verse vir die boerdery aan te skaf. Nóg later het rasegte Ngunibulle gevolg. Reeds in 1988 het hy R22 000 vir ’n Swazilandse bul betaal nadat hy van sy vee verkoop het om ’n goeie bul te kan bekostig. Hy het toe al geglo ’n teler kom nêrens met ’n middelmatige bul nie; net die beste is goed genoeg.
En dít is die beleid wat die gesin vandag steeds volg en met harde werk op die voorpunt van hul bedryf bly.