Kleinvee: ’n Jaar van uiterstes in Oos-Kaap
Verskeie probleme en faktore in die veebedryf het die afgelope jaar ’n groot impak gehad op die bedrywighede van kleinveeboere in die Oos-Kaap. ’n Boer maak egter altyd ’n plan en die bedryf werk onverpoos aan oplossings.
Covid-19, asook die uitbreking van bek-enklouseer in 2019 en die gevolglike veilingsverbod het die veebedryf ernstig ontwrig, sê mnr. Danie Strauss, bestuurder van die sentrale streek by BKB.
“Die uitbreking van bek-enklouseer aan die einde van 2019 het die veilingsbedryf tot stilstand gebring. Dit het ’n uitkringeffek op afslaers en produsente se kontantvloei gehad. Pryse is geraak, want niemand kon maklik bepaal wat die prys in die veld moet wees nie omdat veilings as prysmakende meganisme dien.”
Bestaande stoetveeveilings kon egter steeds voortgaan met streng biosekerheidsprotokolle wat deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ingestel is.
Strauss waarsku dat die gevolge van bek-en-klouseer nie nou op die agtergrond geskuif moet word weens die Covid-19-pandemie nie. Hy voeg by dat BKB toenemend aanpassings maak om dié saak te takel, soos ’n nuwe internasionaal beproefde digitale veilingsplatform.
Danksy hierdie virtuele veilingsplatform kan biosekerheid toegepas word, wat met naspeurbaarheid gepaardgaan. Die maatskappy lê ook klem op die gebruik van identifikasie deur radiofrekwensies of sogenoemde RFID-tegnologie.
Strauss sê daar was met die aanvang van die nasionale inperking in Maart ’n oplewing in vleispryse. Paniekaankope deur verbruikers het markte gunstig gestimuleer. Die bedryf moes egter aanpassings maak en protokolle in werking stel om die veiligheid van landsburgers te verseker.
Aan die einde van 2019 het ’n nuwe mark vir veral Oos-Kaapse skape ontstaan toe Al Mawashi, ’n uitvoermaatskappy van lewende hawe in Koeweit, ’n tak in Suid-Afrika geopen het. Omstredenheid oor dié praktyk heers egter steeds en die uitvoer van lewende diere per see is in die weegskaal.
Volgens Strauss het die uitvoer per see die prys van skape in die sentrale streek taamlik gestabiliseer in die speentyd van Februarie tot Mei wanneer pryse tradisioneel onder druk is.
“Hierdie uitvoer het ons boere baie gehelp te midde van die probleme weens bek-en-klouseer en die Covid-19-pandemie.”
Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê die Midde-Oosterse mark is veral tot voordeel van die Oos-Kaap se ekstensiewe skaapboere omdat boere die skape van die veld af kan lewer, sonder dat hulle vooraf in ’n voerkraal afgerond hoef te word.
Strauss sê groot dele van Suid-Afrika het die afgelope somer goeie reën gehad, wat groot dele van die Suid-Vrystaat en dele van die Oos-Kaap insluit. Die westelike dele van die Oos-Kaap en groot dele van die Noord-Kaap wag egter nog op verligting.
“Die uitwerking van die droogte van die afgelope vyf tot sewe jaar is nog duidelik in ons produsente se kontantvloei te sien. Die goeie reën in sekere gebiede het wel verligting gebring ten opsigte van byvoedingsrekeninge.”
Hy sê daar heers groot kommer oor kuddegetalle wat afgeneem het in die nadraai van die droogte. Die getalle moet weer herstel, maar sommige boere het nie die nodige toegang tot kapitaal nie.
Die vraag na vleis bly goed, en die slagpryse van wol- en vleisskape stem ooreen.
“Aanteeldiere se pryse is egter baie benadeel deur laer slagpryse wat vir langer tydperke voortgeduur het,” sê Strauss.
Dié pryse word meestal bepaal deur die kombinasie van stoorlam-, slagooi- en wolpryse.
UITVOER VAN WOL
Mnr. Leon de Beer, bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), sê die wolmark het een van die wispelturigste jare in meer as ’n dekade beleef weens die droogte, bek-enklouseer en Covid-19.
Die huidige seisoen het op die agtervoet begin weens die terugslag van die bek-en-klouseeruitbreking vroeg in 2019, wat daartoe gelei het dat China, Suid-Afrika se grootste uitvoerbestemming, sy mark in Februarie 2019 gesluit het vir onverwerkte diereveselprodukte.
“Ondanks die verbod het veilings in die 2018-’19-seisoen steeds voortgegaan en kopers