SA SLUK WEER SWAAR AAN MBOWENI SE BITTER MEDISYNE
MNR. TITO MBOWENI, minister van finansies, se spesiale aanpassingsbegrotingsrede het miskien goeie nuus vir die Land Bank bevat, maar het ’n neerdrukkende prentjie van Suid-Afrika se finansiële situasie geskets.
Die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo) het die R3 miljard reddingsboei vir die Land Bank verwelkom wat Mboweni in sy spesiale aanpassingsbegrotingsrede genoem het.
Mboweni het gesê aangesien die Land Bank 28% van SuidAfrika se landbouskuld verteenwoordig, moet dit gered word. groepbestuurder van Nerpo, sê hy glo die reddingsboei bewys dat die regering oor die politieke wil beskik om voedselsekerheid te waarborg. “Nerpo versoek reeds geruime tyd die regering om die Land Bank te red, juis omdat dit ’n belangrike stuk gereedskap vir Suid-Afrikaanse boere is.
“Ons is bly dat die Land Bank die enigste staatsbeheerde entiteit is waarvan die besteding aangepas is. Ons wil egter herhaal dat geld alleen nie die oplossing is nie. Die Land Bank moet sy bereidwilligheid wys en die nodige strategie vir ’n ommeswaai toepas, terwyl kleinboere steeds voorkeur geniet.”
SKULDKRISIS
Mnr. Nicol Jansen, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê Agri SA verwelkom ook die regering se hulp vir die Land Bank.
Mboweni het in sy aanpassingsbegroting benadruk dat stappe gedoen moet word om ’n soewereine skuldkrisis, wanneer ’n land nie meer sy rekeninge kan betaal nie, te voorkom.
Mboweni het in sy toespraak genoem dat Suid-Afrika se staatskuld teen 2023-’24 altesame 87,4% van die BBP sal verteenwoordig.
“Met hoër staatsbesteding en laer belastinginkomste sal die mikpunt om dít te vermy met meer as R300 miljard gemis word. Vroeë vooruitskattings toon dat die bruto nasionale skuld teen die einde van hierdie fiskale jaar naby aan R4 000 miljard of 81,8% van die BBP sal wees. Dit is vergeleke met
Februarie vanjaar se vooruitskatting van R3 560 miljard of 65,6% van die BBP.”
Hy sê planne om die nasionale tesourie ’n ogie te laat hou oor munisipaliteite se besteding, is ’n goeie begin om die swak prestasie van sommige munisipaliteite te bestuur. “Gedetailleerde intervensies en ondersteuning sal egter noodsaaklik wees vir noemenswaardige verandering.”
Hy meen ’n klem op doeltreffende staatsbesteding en fiskale dissipline sal ekonomiese herstel ondersteun. Saam met fiskale dissipline sal ’n skuldkrisis voorkom kan word.
BANKROT
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê die kern van Mboweni se begrotingsrede is dat Suid-Afrika nou al te veel geld geleen het. As die beleidsomgewing nie verander nie, is Suid-Afrika op pad na ekonomiese ineenstorting.
“Die Suid-Afrikaanse ekonomie is bankrot gesteel. Amper twee jaar ná die begin van die Zondo-kommissie wat verdoemende getuienis oor staatskaping en plundery aangehoor het, het niemand nog daarvoor tronk toe gegaan nie. Solank die demoon van bedrog en plundery in die staatsdiens los is, maak dit nie saak hoe groot die begroting is nie.”
Hy sê staatsinmenging in die ekonomie onder die dekmantel van swart ekonomiese bemagtiging, kaderontplooiing en ander rasgebaseerde skemas, soos die Covid-19-ramphulpprojekte, het verreikende gevolge gehad.
“Daar is geen potensiaal om die ekonomie reg te ruk of te laat groei nie, ongeag hoeveel daarvoor begroot of uit die private sektor afgepers word.” Die R3 miljardreddingsboei wat na die Land Bank gegooi is, is volgens hom noodsaaklik, “want Suid-Afrika het die Land Bank nog nooit so nodig gehad soos nou nie”.
De Jager meen Mboweni is in die kol as hy sê dit is noodsaaklik om nou werkgeleenthede te skep, en veral op die platteland waar dit die nodigste is. “Dit verg egter belegging en finansiering wat van beleidsekerheid afhanklik is. Niemand met gesonde verstand belê in grondgebaseerde ondernemings, terwyl die swaard van onteiening sonder vergoeding oor hul kop hang nie. Die beleidsomgewing is te onseker daarvoor.”
Volgens De Jager is boere in Suid-Afrika ten spyte van ’n vyandige sake-omgewing steeds uiters mededingend op wêreldmarkte, en het hulle onder die moeilikste omstandighede tydens die Covid19-inperking Suid-Afrika se voedselsekerheidstatus in stand gehou, en groot surplusse geproduseer en uitgevoer.
“Vir kommersiële boere, wat kos aan die grootste deel van die verstedelikte bevolking voorsien, was daar geen ramphulp nie – nie vir die grendelstaat nie, nie vir die droogte nie en ook nie vir die weghol-diefstalsyfers nie.
“As die landbou se potensiaal in ’n meer vriendelike beleidsomgewing losgelaat word, kan dit die soort welvaart skep wat honger en armoede kan uitwis, werksgeleenthede skep, valuta verdien en die staatskas kan aanvul, maar die emmer moet eers reggemaak word.”