Blombedryf floreer ná dit bloei
Die Covid-19-inperkingsregulasies wat die blombedryf van noodsaaklike dienste uitgesluit het, het dié bedryf erg geraak. ’n Blomplaas by Swellendam het groot verliese gely toe dit vyf weke lank nie blomme kon verkoop nie, maar is weer volstoom aan die gang om blompotte vol te hou.
Ná vyf weke sonder blomme was die kans om gedurende die inperking ’n blomplaas te besoek, een van die beste byvoordele van ’n werk by Landbouweekblad.
Vriende en familie wat pas weer blomme kon koop, maar nie onnodig winkel toe wou gaan nie, het ook uitgesien na foto’s van massas kleurryke blomme.
Massas blomme is ongelukkig nie eintlik wat ’n mens sien waar lelies vir die voorste supermarkte gekweek word nie, sê mnr. Rohan Germishuys, bestuurder van Flora Jubilee by Swellendam.
Hy verduidelik waarom daar nie ’n oop blom in sig is in die kweekhuis of onder skadunet nie: “Ons moet die blomme in die regte stadium pluk. Lelies mag nie in die winkel oopgaan nie, en dit moet vyf dae op Woolworths se rak staan voor dit mag oopgaan. Daarna moet dit nog vyf dae by die kliënt se huis staan. Ons weet nou al hoe die blomme moet lyk wanneer ons hulle pluk. In die winter is die blomme sowat twee dae stadiger as in die somer.”
Dit verg deeglike kennis en ondervinding om te weet presies wanneer om ’n lelie of iris te pluk, maar dit kan gebeur dat die blomme te ryp gepluk is en al in die winkel oopgaan.
Swellendam, Wes-Kaap
Dan moet die blomplaas verduidelik.
Flora Jubilee is een van die voorste lelieverskaffers aan Suid-Afrikaanse winkelgroepe soos Woolworths en Pick n Pay. “Ons het ’n kweekprogram by die supermarkte. Ons plant elke week van die jaar bolle om weekliks volgens dié program blomme te kan verskaf.”
Die plaas produseer lelies regdeur die jaar, irisse in die winter en gladiolusse, sonneblomme en freesias in die somer. Sy vetplantafdeling vaar besonder goed sedert die waterbeperkings in die Wes-Kaap dié plante, wat min water benodig, se gewildheid laat toeneem het. Die plaaslike mark verkies plante van die Echevaria-genus, terwyl die plaas hoofsaaklik Crassula-soorte na Amerika en Europa uitvoer.
Flora Jubilee is in 1998 begin deur dr.
Eugene Louw, narkotiseur van Durbanville wat ’n passie vir irisse het, toe hy nog ’n algemene praktisyn op Swellendam was.
Germishuys sê die plaas kweek die blomme en stuur dit na ’n pakhuis in Brackenfell, waar ruikers volgens die winkels se voorskrifte gemaak word. Sekere supermarkte wil bosse hê met net een blomsoort in, ander verkies ruikers. Die plaas verkoop ook blomme aan bloemiste en die publiek. Rose word van Kenia ingekoop om sekere tye van die jaar in die vraag daarna te voorsien.
INPERKING SE SKADE
Die vlak 5regulasies het die blombedryf groot skade berokken, sê Germishuys. “Ons mag niks gedoen het nie. Met die strengste regulasies mag ons nie eens op die plaas gekom het nie. Net landboubedrywighede wat kos produseer, kon soos gewoonlik voortgaan.”
Eers toe oes en opberging by die regulasies gevoeg is, kon hy plaas toe kom om die blomme se koppe af te sny. Van verkoop was daar nie sprake nie.
“Ek het geplant, kon oes en opberg. Ek kon alles ingevolge die regulasies doen, maar mag nie blomme verkoop het nie, al was dit net die vragmotorbestuurder wat tussen die plaas en die pakhuis sou beweeg.”
Die regulasies was volgens hom só absurd dat hy sonder probleme selfs ’n vraghouer met bolle uit Nederland tot op die plaas kon bring, maar hy kon nie ’n enkele blom verkoop nie, al was die risiko so laag. “Wat verkoopswaarde betref, het ons byna R4 miljoen se blomme weggegooi.”
KLIMAAT VIR LELIES
Die distrik Swellendam is beter bekend as graan-, skaap- en fynboswêreld, maar teen die Langeberg is toestande wat die gebied besonder geskik maak vir die verbouing van lelies.
“Suid van die N2-snelweg reën dit gemiddeld 450 mm per jaar, maar die dorp en al die plase teen die berg af kry 900 mm tot 1 000 mm reën per jaar. Dit sorg vir ’n tropiese klimaat en ons het nie die ontsaglike hitte nie,” sê mnr. Rohan Germishuys, bestuurder van Flora Jubilee. Smiddae is daar wolke teen die berg sodat dit koeler en die klimaat gematig is.
Op Flora Jubilee word blombolle in mengsels van grond en ’n groeimedium van kokosveen en boombas geplant. Die kokosveen wat hoofsaaklik uit Sri Lanka kom, het ’n groot waterhouvermoë en die boombas deurlug die groeimedium. Net die duur, oriëntale leliebolle word in die groeimedium geplant. Die goedkoper bolle soos Sint Josefslelies en Asiatiese lelies word hoofsaaklik in grond geplant.
“Die groeimedium is die beste. Ons plant in kratte wat ons weer gebruik, want dit is ’n groot kapitaalbelegging om 10 hektaar na groeimedium oor te skakel.”
Die water wat op die blomplaas gebruik word, kom uit die berg en word in damme gehou.
Dit het alle blomboere oorgekom. Hy dink hul geskarrel om gedurende die vlak 5-inperking gehoor te word, dui daarop dat blomboere dit sterk moet oorweeg om ’n bedryfsorganisasie te stig.
“Laat ons een les hieruit leer. As die inperking verby is, moet ons bymekaarkom en iets ordentliks op die been bring wat blomkwekers verteenwoordig. Van die begin af het dit vir ons gevoel ons is totaal vergete. Alle veranderinge aan die regulasies was net voedselverwant. Toe ‘oes en opberging’ bygevoeg is, het die regering seker gedink alles is nou gedek.”
Hy weet nie of daar nog ’n landboubedryf is wat nié kos behels wat so baie soos blomboere verloor het nie. “Die tabak- en wynbedryf kon ook nie hul produkte verkoop nie, maar dit was darem nie nodig om hul produkte weg te gooi nie.”
Die blombedryf het nie net sy afset in winkels verloor nie. Dié bedryf wat voor die inperking werk aan sowat 40 000 mense verskaf het, is ineengeskakel, sê Germishuys. “Dit het bloemiste geraak, die groothandelaars aan wie ek verskaf, en daarby het die troumark heeltemal weggeval.”
MOEDERSDAG BRING HOOP
Al die briewe wat hulle vir politici geskryf het, het nie gehelp nie. “Dit was vyf lang weke vir ons. Genadiglik kon ons die laaste week van die vlak 5-inperking redelik pluk en opberg, want ons het geweet Moedersdag (10 Mei) is die week daarna en ons sou van 1 Mei af blomme kan verkoop.”
Hul blomverkope vir Moedersdag was inderdaad “ontsettend goed. Woolworths se verteenwoordiger het gesê hy was versigtig om te veel blomme op die rakke te hê omdat hy nie geweet het wat gaan gebeur nie, maar het besef as hy twee keer soveel blomme gehad het, sou dit alles verkoop het.”
Germishuys is bekommerd dat blomme duurder kan word en daar weerstand van kopers kan kom, maar halfpad deur Mei was pryse op die Multiflora-veiling in Johannesburg goed. “Daar is tog ’n aanvraag. Die pryse lyk goed, maar daar is nou min blomme.”
BLOMBOL-‘ROBOTTE’
Flora Jubilee het 10 ha blomme in oop blokke, onder skadunet en in kweekhuise. Die plaas verskaf werk aan 60 mense, en 35 mense werk in die pakhuis in Brackenfell. Benewens die grendeltydperk wat werkgeleenthede onder druk plaas, het die feit dat Suid-Afrika se beleggingstatus net voor die inperking afgegradeer is, die rand laat verswak van R16,50 tot R20,50 teen die euro. Dit het die plaas se blombolrekening binne terme met R1 miljoen verhoog.
Blombolle wat reg behandel en hanteer word, is “klein biologiese robotjies” wat volgens ’n program blom.
Leliebolle word een keer per jaar, in Oktober, in Nederland geoes (uit die grond gehaal) en teen ’n temperatuur van -2 °C in koelkamers bewaar. Elke bolkweker se bestelling word in dié toestande gehou en volgens aanvraag verskeep. Om te verseker die bolle hou lank genoeg die temperatuur om ’n sekere suikerpersentasie te bereik, moet die kweker dit eers van 1 Februarie af begin plant.
Germishuys sê as die bolle in ’n koelvraghouer op die plaas aankom, word dit steeds teen -2 °C in rus gehou. Net voordat dit geplant word, los hy dit vir ’n dag buite om te ontdooi. Flora Jubilee plant elke week leliebolle. “As ons nie plant nie, het ons nie elke week blomme nie.”
Germishuys weet nou al dat die “ou” bolle wat hulle teen einde Januarie plant, dikwels vinniger begin blom. Hy het ook al geleer om die oorgang tussen die “haastige” ou bolle en die nuwe bolle só te bestuur dat daar nie ’n onderbreking in die lewering van blomme is nie.
Leliebolle het koue nodig om dormant te bly, maar irisse, wat winterblomme is, se bolle word teen 30 °C in rus gehou. Die irisse moet geleideliker “wakker gemaak” word voor hulle geplant word, eers teen 17 °C vir twee weke, en daarna teen 9 °C vir twee weke.
EKSPERIMENT MET BOLLE
Tuiniers weet ’n blombol kan oor en oor gebruik word, maar nie enige tuinier het ’n kontrak om elke week duisende blomstele aan winkels te lewer nie.
Germishuys sê dit is vir hulle moeilik om ’n blombol weer te gebruik. “Nadat die bol een keer geblom het, is dit nie meer dieselfde as die bol wat met ’n waarborg uit Nederland gekom het nie. Die mense wat die bol aan my verkoop, sê dit duur 110 dae vandat die bol geplant is totdat dit blom, hoe lank die steel van ’n sekere grootte bol en hoe groot die blom sal wees. Daarvolgens bepaal ek my skedule om die bolle te plant om aan die winkels se beplanning te voldoen. Met ’n bol wat ek probeer bewaar, kan ek nie so akkuraat wees nie.”
As ’n ingevoerde bol een blom gegee het, het dit volgens Germishuys al sy krag gegee sodat net ’n klein bolletjie oorbly. “Daardie bolletjie gee volgende keer nie ’n blom nie, net ’n steeltjie.”
As so ’n bolletjie ’n paar blare kan maak om te fotosinteer, kan dit groter en sterker word en die volgende jaar weer blom. ’n Mens kan ook die bolletjie uit die grond haal en twee maande lank teen -2 °C verkoel, maar dan moet jy dit in die grond plant om groter en sterker te word.
’n Bol kan jare lank so gemanipuleer word, maar Germishuys sê dit is te riskant vir hulle. “Ons gebruik ’n bol wat een keer geblom het, nooit weer nie. Nadat ons die blomme gepluk het, haal ons die bol uit die grond en maak kompos daarvan. My kweekprogram laat nie foute toe nie.”
As groot hoeveelhede vir hom belangrik was, pleks van blomme van ’n spesifieke gehalte, sou hy die bolle in die grond gelos het en sou daar baie blomme op een slag wees.
Germishuys gaan nietemin probeer om die bolle te bewaar waarvan hy die blomme in April moes afsny, en kyk hoe hulle later in die jaar blom. Dalk kan hy op dié manier ’n deel van die verlies wat hy gely het, verhaal. “Ek gaan die bolle in die grond laat terugsterf en wat die Nederlanders ’n ‘vasstaanlelie’ noem, kweek. Vyf weke se blomme wat vir ’n lang tyd by dieselfde toestande gehou is, gaan waarskynlik in November in een week almal blom.”
Hy sê daar is blomboere wat dit doen, maar groot hoeveelhede blomme dwing markpryse af. Benewens dat hy blomme van ’n spesifieke gehalte moet lewer, het hy te min plek om bolle te laat staan. Hy het reeds vir Woolworths in kennis gestel dat daar moontlik later vanjaar baie meer blomme beskikbaar gaan wees. Al gaan hy nie die geld wat hy in April verloor het, terugkry nie, kan dit darem met die kontantvloei help.
NUWE KRUISINGS EN KLEURE
Sowat vyftig jaar gelede het Sint Josefslelies met ’n heerlike geur, wit trompetblomme en lang stele in ons oumas se tuine geblom. Almal wou Stargazer hê, ’n leliekruising wat in die 1970’s ontwikkel is, of geel en oranje tierlelies met swart kolle.
Sint Josefslelies was altyd die gewildste, maar dit is besig om te verander noudat daar soveel nuwe kruisings en kleure is.
“Daar is nou pienk Sint Josefslelies. Omdat verbruikers deesdae gemengde ruikers verkies, is dié lelies nie meer so gewild nie omdat die blomme se 90-grade-aanhegting aan die steel nie so goed in ruikers werk nie.”
Germishuys sê mense hou van al die nuwe blomkleure wat nie in die verlede beskikbaar was nie. “Tierlelies het deesdae dieporanje en diepgeel kleure. Lelies is nie meer net ligpienk of flougeel nie. Daar is nou helder, sterk kleure.”
Mense se gevoel oor geur en stuifmeel is ook besig om te verander. “Veral bruide wil nie blomme met ’n geur hê nie. Omdat soveel mense sinusprobleme het, is daar ’n neiging na lelies sonder stuifmeel.”
Vir blomkwekers is daar ook nuwe, opwindende kruisings met beter eienskappe en ’n verskeidenheid kleure.
Nederland is die wêreldsentrum van bolteling. Jaarliks in Junie, tydens die sogenoemde Dutch Lily Days, stel kwekers en telers nuwe blomme ten toon.
“Wat baie nuut is, is dubbele oriëntale lelies. Hulle het ’n klomp blare, amper soos ’n roos, en het nie stuifmeel nie.”
Stargazer, ook ’n oriëntale lelie, is volgens Germishuys baie mooi as sy bol nuut is en dit nie in ’n baie hoë temperatuur gegroei het nie. As die plant egter onder stres was en die bol oud is, raak die steeltjie kort en die blommetjie klein. Hy sê die outydse Sint Josefslelie is gekruis met oriëntale lelies om ’n OT-lelie te kry wat lank hou, ’n lang steel het en nie so vinnig agteruitgaan in hitte nie.
Lelies, soos Sint Josefslelies met ’n trompetvormige blom, is met Asiatiese lelies gekruis om plante met groter blomme, langer en dikker stele en ’n sterker aanhegting aan die steel te kry. “Die nuwe lelies breek nie sommer af as dit gepluk of vervoer word nie.”
Al sien kwekers elke jaar al die interessante nuwe blomme, duur dit drie tot vier jaar vandat die blomme tydens die Dutch Lily Days bekend gestel is totdat daar genoeg bolle beskikbaar is om dit aan blomkwekers te verkoop.
Germishuys maak nietemin elke jaar ’n voorlegging oor die nuwighede aan Woolworths. As die winkelgroep iets interessants sien, kan hy die bolle invoer om daarmee te eksperimenteer. Die groep sal dan die blomme by verbruikers in ’n paar van sy vlagskipwinkels in die Wes-Kaap toets voordat hy aandui of hy meer daarvan wil hê.