Misdaad: Polisie magteloos teen Lesotho-’inval’
WOEDE is aan die oplaai onder Vrystaatse boere oor die vlaag misdaad wat hulle sedert die instelling van die inperking beleef.
Veral die toename in oorgrensmisdaad het sterk reaksie ontlok.
Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die toename in oorgrensmisdaad waaronder Vrystaatse boerderygemeenskappe wes van die Lesotho-grens ly.
Dit volg nadat mnr. John Parr van die plaas Yaxham by Tweespruit, saam met sy vrou, skoonseun en twee kinders, deur vyf aanvallers aangerand is, en mnr. Gerrit van der Walt op 27 Junie ’n aanvaller doodgeskiet het op sy plaas by Zastron in wat hy aan
gesê het was ’n goed beplande aanval.
Mnr. Francois Wilken, voorsitter van VL, sê die oorgrenssituasie is slegter as voor die inperking.
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word weens die Covid-19-pandemie daarvan weerhou om Lesotho binne te gaan op soek na vermeende misdadigers.
“Magtiging kan klaarblyklik nie deur Interpol bekom word nie aangesien dit op die hoogste vlak deur die Lesotho-regering teengestaan word.”
TALLE AANVALLE
Volgens VL het meer as 30 oorgrensvoorvalle sedert die begin van die inperking plaasgevind. Dit behels onder meer die diefstal van meer as 300 stuks vee waarvan sowat 100 by die Caledonrivier teruggevind is. Ander oorgrensvoorvalle sluit huisbraak, die diefstal van sonpanele, voertuie, trekkers en bale voer in, asook aanranding van plaaslike werkers deur Lesotho-burgers.
In die distrik Hobhouse was daar tydens die grendeltydperk twee plaasaanvalle waartydens werkers aangerand en van vee beroof is. Boerderygemeenskappe aangrensend aan Lesotho, soos Clarens, Clocolan, Ficksburg, Zastron, Hobhouse en Wepener, het ook oorgrensmisdaad aangemeld. “Die situasie is na Agri SA verwys vir verwysing na die regering op die hoogste vlak,” sê Wilken.
Mnr. Tommie Esterhuyse, Agri SA se veiligheidshoof, betreur die feit dat die beskikbaarstelling van SAPD-hulpbronne en -mannekrag vir die toepassing van die Covid-19-maatreëls die toepassing van landelike beveiliging benadeel het.
“Die toename in oorgrensmisdaad laat boere geen ander keuse as om die reg in eie hande te neem nie, ten einde hulself, hul familie en werkers te beskerm en om voedselsekerheid te verseker,” sê Esterhuyse.
DOWE ORE
Mnr. Jan van Niekerk, die Vrystaatse leier van die VF Plus, sê die aanval deur Lesotho-burgers op die Parr-gesin dien as bewys dat boere se jare lange noodkreet vir die beveiliging van die Lesotho-grens op dowe ore val.
“Die Tweespruit-voorval volg slegs een week ná die aanval op mnr. Chris Mostert buite Reitz op 15 Junie 2020. Die VF Plus loof die spoedige inhegtenisneming van ’n verdagte met ’n gesteelde R5-geweer by Orange Farm,” sê Van Niekerk.
“Die onvoldoende polisiëring van provinsiale én landsgrense te midde van streng reisregulasies is onverskoonbaar,” sê hy.
Intussen vorder die polisie se ondersoek na die Tweespruitvoorval, waar twee Lesotho-burgers doodgeskiet en twee ander verdagtes onder polisiebewaking in ’n hospitaal behandel word.
Boere het glo vinnig op Parr se noodkreet gereageer, paaie afgesper en die omgewing gefynkam.
HAATMISDADE
Die DA meen plaasmoorde en -aanvalle moet as haatmisdade verklaar word en het ’n debat in die nasionale vergadering oor die hernude vlaag aangevra.
Me. Dianne Kohler-Barnard, LP en voorsitter van die DA se werkstroom oor landelike veiligheid, sê die party sal, wanneer gepas, plaasmoorde en -aanvalle as haatmisdaad aanmeld.
Plaasmoorde moet volgens die party as ’n prioriteitsmisdaad verklaar word .
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê dit duur tot tien jaar vir die howe om sake van plaasmoorde en -aanvalle af te handel. DA-raadslede of -aktiviste gaan sake volg om te verseker dat boere nie hofsake misloop nie en dat elke saak tot die einde deurgevoer word.
’n Dringende beroep sal gedoen word vir nuwe navorsing oor landelike sekuriteit, sodat die bydraende faktore bepaal kan word en die onderliggende oorsake geïdentifiseer en verstaan kan word. –