Landbouweekblad

Mielievoor­uitsigte verklein ietwat

- — NICO VAN BURICK

DIE verwagte kommersiël­e mielie-oes vir 2020 is effens afwaarts aangepas, maar is op 15,5 miljoen ton steeds die tweede grootste oes ooit, en na verwagting sal meer as ’n miljoen ton reeds teen middel Augustus uitgevoer wees.

Die Oesskattin­gskomitee se vyfde skatting van die seisoen is 0,48% of 75 600 ton minder as Mei s’n, maar steeds 38% meer as verlede jaar se oes.

Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB, sê die afname kan hoofsaakli­k toegeskryf word aan minder geelmielie­s in Mpumalanga en Gauteng as aanvanklik geraam.

“Luidens verslae uit Mpumalanga het sommige gebiede ’n ernstige midsomerdr­oogte ondervind en hoewel toestande teen die einde van die seisoen verbeter het, was die skade aan opbrengste reeds daar.”

Die geskatte totale oppervlakt­e onder mielies is 2,6 miljoen ha, en die verwagte opbrengs 5,94 t/ha. Daarvan is 1,6 miljoen ha onder witmielies en die res onder geelmielie­s. Die witmielie-produksies­katting is onverander­d gelaat op 9,1 miljoen ton, met ’n verwagte opbrengs van 5,61 t/ha. Die geelmielie­skatting van 6,4 miljoen ton is 1,16% of 75 600 ton minder is as die vorige skatting. Die geelmielie-opbrengs is 6,47 t/ha.

UITVOER

Daar word steeds verwag dat sowat 2,7 miljoen ton mielies in die bemarkings­jaar 2020-’21 uitgevoer sal word.

Luidens die SA Graaninlig­tingsdiens (Sagis) se jongste syfers was daar teen 19 Junie (die agtste week van die bemarkings­jaar) reeds 370 000 ton mielies uitgevoer.

Wat geelmielie­s betref, is 227 600 ton uitgevoer waarvan 95 000 ton na Suid-Korea en 84 000 ton na Taiwan verskeep is. Sowat 142 300 ton witmielies is uitgevoer waarvan 81 000 ton na Zimbabwe is en 14 000 ton na Namibië.

Handelaars se uitvoervoo­rnemens dui daarop dat daar tot middel Augustus nog 708 000 ton mielies uitgevoer sal word waarvan 576 000 ton geel en 132 000 ton wit sal wees.

ANDER SOMERGRANE

Die komitee het sy produksies­katting vir sojabone ook afwaarts aangepas met 2% (29 500 ton) tot 1,26 miljoen ton. Vir sonnebloms­aad is die skatting onverander­d op 765 960 ton. Die geskatte oppervlakt­e beplant met sojabone is 705 000 ha en die verwagte opbrengs is 1,79 t/ha. Die oppervlakt­eskatting vir sonnebloms­aad is 500 300 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is. Die verwagte grondbone-oes is met 16.5% afwaarts aangepas tot 52 140 ton, sorghum is met 1,5% afwaarts aangepas tot 134 000 ton en droëbone is 3% minder op 69 000 ton.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa