Die valkoog: Blink Stefaans in die venster
Tydens die broeiseisoen in die lente en somer is dit nie ongewoon dat voëls teen vensters klop of kap nie – gewoonlik vroegoggend wanneer ’n mens ’n bietjie wil inlê!
Baie voëls is van nature aggressief en territoriaal. Wanneer hulle weerkaatsings in ’n venster, spieël, voertuigbakwerk of soortgelyke blink voorwerpe gewaar, aanvaar hulle dit is ’n mededinger en sal dan die weerkaatsing aanval om die indringer te verdryf. Hierdie aanvalle kan met ’n gepik, ’n gekrap van pote of ’n geklap van vlerke wees. Voëls is ook geneig om tussen aanvalle ’n aggressiewe houding voor die spieëlbeeld in te neem. Sulke aanvalle kan deur individuele voëls of pare wees. Koöperatiewe broeiers soos katlagters kan selfs in groepe die vensters aanval.
Suikerbekkies fladder ook gereeld by vensters rond, maar gewoonlik om spinnerakke te oes om mee nes te maak. Spinnekoppe bou graag hul webbe in die hoeke van vensters, omdat die lig binne die venster insekte lok.
GEVEGSKUNS
Gevegte met weerkaatsings sal gewoonlik nie tot ernstige besering lei nie, maar wel tot uitputting. Dit maak die voël meer vatbaar vir siekte, ondervoeding en roofdiere. Gewoonlik is dit net met baie groot voëls – soos bromvoëls – dat vensters en spieëls beskadig word.
Hierdie gevegte kom byna wêreldwyd voor. So onthou ons ’n geelbekneushoringvoël in die Kgalagadi-oorgrenspark en ’n piet-tjoutjou-grysmees in die Weskus Nasionale Park wat ons voertuig se truspieëltjies bemors het. Kuifkophoutkappers in Newcastle en mikstertbyvangers in Onrus het teen ons slaapkamervensters gekap. Onlangs het ons selfs foto’s ontvang van ’n onvolwasse Afrikaanse sperwer wat teen ’n venster baklei.
Die omvang van die aggressie en die tydsverloop van die aanvalle wissel tussen spesies en selfs binne dieselfde spesie. Dit kan vir ’n week of twee aanhou, of selfs vir die hele somer indien die voël meer as een broeisel per seisoen het.
MAAK PLAN MET DIE AANVALLERS
Wanneer voëls herhaaldelik en doelbewus vensters, spieëls en ander weerkaatsende oppervlakke aanval, kan jy stappe doen om hulle teen hulself te beskerm. As die vertrek binne donkerder is en daar is plantegroei of ’n muur op dieselfde hoogte as die venster aan die buitekant, sal vensters meer aangeval word. Hang ’n wit laken of ligkleurige blindings binne die venster om die gekap stop te sit.
As jou slaap versteur word wanneer slaapkamervensters aangeval word, bedek die buitekant van die ruit. Stroke plastiek – soos wat verwers gebruik – is ’n goeie idee. Dit laat wel lig deur, maar keer weerkaatsings. Voëls word ook afgeskrik as die plastiek in die wind beweeg. Maak seker jy bedek die hele weerkaatsende oppervlak. Voëls wat hul broeigebied wil beskerm, sal gewoonlik nie deur nagemaakte uile en plastiekslange afgeskrik word nie.
As dit jou voertuig se truspieëltjie of bakwerk is wat deurloop, skuif die voertuig na ’n gebied buite die voël se territorium. ’n Gekleurde plastieksak of lappe kan ook oor die blink gedeeltes aangebring word. Sommige voëls vat egter nie “nee” vir ’n antwoord nie – ’n boer in die Klein-Karoo het byvoorbeeld verskeie kere sy motor se truspieëls bedek en die voertuig rondgeskuif. Die paar gewone mossies was egter só moeilik dat hulle twee maal die voertuig tot by die plaashek gevolg het net om seker te maak die indringer is weg.
Die Amerikaners gebruik helderkleurige merkerviltpenne (highlighters) om blokke aan die binnekant van die vensters te trek. Die voëls kan die strepe sien en dit help blykbaar om die aggressiewe gedrag te keer. Mense merk dit skaars op en dit was maklik af wanneer die broeiseisoen verby is.
’n Territoriale voël kan egter baie aanhoudend wees. Wanneer een venster bedek word, sal ander vensters aangeval word. Dit is al aangemeld dat ’n voël 15 vensters op twee verskillende vlakke van ’n huis aangeval het. Dán moet jy maar geduldig wees en wag vir die broeiseisoen om oor te waai. Of moenie jou vensters was nie – dit verminder ook mos weerkaatsing!
Vanweë die Covid-19-pandemie word ’n verskeidenheid kursusse oor die identifikasie en bewaring van voëls aanlyn aangebied sodat voëlkykers tuis daaraan kan deelneem.
Dr. Anton Odendal woon op Hermanus.
Onlangs het ons selfs foto’s ontvang van ’n onvolwasse Afrikaanse sperwer wat teen ’n venster baklei.