Aftreeplan vir die boer
Wanneer ’n boer se finansiële beplanning gedoen word, word daar gewoonlik klem gelê op die belangrikheid van ’n testament, die praktiese uitvoerbaarheid van die testament, belasting en ander gevolge rakende die testateur se wense.
Boedelbeplanning is uiteraard belangrik, maar soms word aftreebeplanning agterweë gelaat. Verskeie aspekte van aftreebeplanning verg aandag, soos die opbou van aftreekapitaal, die aanwending daarvan en die uiteindelike verdeling by dood waar toepaslik.
Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Dit is die boer se 65ste verjaardag en hy en sy vrou besluit dit is tyd om af te tree en see toe te trek. Daar is niemand aan wie die boer die plaas en boerdery wil oordra nie en hy besluit om dit te verkoop. Nadat voorsiening gemaak is vir alle uitgawes verbonde aan die egpaar se aftrede, soos behuising en noodfondse, bly daar R15 miljoen oor om ’n inkomste te voorsien. Hoe nou gemaak?
ANNUÏTEITE EN POLISSE
Een opsie om te oorweeg, is die belegging van ’n enkelbedrag in ’n uittree-annuïteitsfonds. Aangesien die boer reeds ouer as 55 is, kan hy dadelik aftree uit die fonds en ’n inkomste verdien. Hy het verskeie wetlike inkomste-opsies, soos ’n vaste annuïteit wat gewaarborg betaal tot die langslewende gade sterf. ’n Alternatief is ’n lewende annuïteit waar ’n persentasie-inkomste geneem word en die oorblywende kapitaal na sy benoemdes gaan in die vorm van ’n enkelbedrag en/ of ’n annuïteit by dood.
Indien hy op laasgenoemde opsie besluit en nie by aftrede ’n enkelbedrag uit die fonds neem nie (hy mag regtens tot ’n derde van die kapitaal neem), kan hy byvoorbeeld in die eerste jaar teen 2,5% ’n inkomste van R375 000 neem op die kapitaalbedrag van R15 miljoen (koste buite rekening gelaat). Die kapitaal is in ’n belastingvrye belegging en die inkomste is ook belastingvry omdat die bydrae van R15 miljoen tot die uittreeannuïteitfonds as nie-toegelate bydraes vir belastingdoeleindes in aanmerking sal kom totdat die R15 miljoen opgebruik is.
Indien die boer ’n gedeelte van sy geld in ’n rentedraende vrywillige belegging belê, kan hy ook rente van R34 500 per jaar belastingvry verdien, asook ander belasbare inkomste van tot R128 650 waarop geen belasting betaalbaar sal wees nie (teen die huidige belastingkoerse).
Indien die boer die volle R15 miljoen in ’n uittree-annuïteitsfonds belê en dan daaruit aftree, val die belegging ook nie in sy boedel vir die doeleindes van boedelbelasting nie. Die bydraes wat hy tot die fonds gemaak het wat nie by dood afgetrek of kwytgeskeld is vir belastingdoeleindes nie, sal ook nie boedelbelasbaar wees indien sy benoemde begunstigdes by sy dood nie enkelbedrae neem nie en kies om slegs ’n inkomste uit die annuïteit te neem.
By die opsie van die lewende annuïteit is daar ook verskeie beleggingsopsies en onttrekkingskoerse (wat jaarliks aanpasbaar is) om verskillende risikoprofiele te pas. Daar kan ook oorgeskakel word na die lewenslank gewaarborgde vaste annuïteit in ’n latere stadium indien die boer dit so verkies.
By die vaste annuïteit is daar gewoonlik ook die opsie om ’n lewenspolis uit te neem sonder bewys van goeie gesondheid. So ’n polis betaal die oorspronklike kapitaalbedrag belastingvry uit by dood en, indien betaalbaar aan ’n gade, is dit ook boedelbelastingvry.
Die boer se gade speel ’n groot rol in hierdie beplanning en, waar toepaslik, kan van die beleggings in haar naam gemaak word.
GEVOLGTREKKING
Bogenoemde is net ’n vereenvoudigde voorbeeld. Elke mens se omstandighede en behoeftes verskil, en moet in die beplanning in ag geneem word. Deeglike beplanning en kundige advies is dus noodsaaklik voor enige besluite geneem word oor aftreebeplanning en die verskeie opsies by aftrede. Begin betyds om voorsiening te maak vir aftrede om genoeg aftreekapitaal op te bou.
Adv. Koos Nel is hoof van Old Mutual Agrimark.