Hoenderprodusent staan sterk in Covid-storm
Lichtenburg, Noordwes
byvoorbeeld hul poste om hul hande te was en te ontsmet. Strepe wat op die vloere geverf is, reguleer beweging. Dit duur nou langer vir skofte om te begin omdat werkers eers hul persoonlike beskermingstoerusting moet kry en hul temperatuur laat meet.
“Ons is baie trots op die personeel se samewerking,” sê Alberts. Henwil is ook in die voordelige posisie dat salarisse nie geraak word nie. Personeel het trouens hul jaarlikse verhogings ontvang net toe die staat van inperking einde Maart begin het.
Die maatskappy se verkope is ook geraak. Tot einde April was verkope stabiel, maar die Mei-syfers weerspieël die mate waartoe Covid-19 verbruikerspatrone beïnvloed het. Die vraag na laewaardeprodukte soos harte, lewer, magies, koppe en pote, en soppakke het die hoogte ingeskiet in reaksie op verbruikers se krimpende koopkrag. Waar hierdie produkte gewoonlik sowat 40% van verkope uitmaak, staan hul aandeel tans op 80%.
Die gevolg is dat hoëwaardeprodukte, veral hoenderborsfilette, opgeberg moet word totdat die vraag herstel. Henwil het tans 1 000 meer palette in opberging as normaalweg. “Die bykomende koelkamers wat ons moes huur, verhoog ons koste aansienlik.”
GUNSTIGE TEKENS
’n Klein maar beduidende hoogtepunt is Henwil Retail. Die drie winkels op Lichtenburg, Mahikeng en Lephalale verkoop saam ongeveer 14% van die fabriek se produksie. Die vlagskipwinkel op Lichtenburg verkoop ook vars groente, kruideniersware en ander vleisprodukte, en, onder normale omstandighede, wegneemetes.
Dié winkel het in Mei ’n rekordmaand beleef. “Ons winkels vaar tans almal goed. Dit is baie waardevol om ons naam uit te bou en kontantvloei te ondersteun,” sê Alberts.
Al drie winkels het onlangs ondervind dat kleiner groothandelaars by hulle koop om spazawinkels in woongebiede en informele nedersettings van voorraad te voorsien.
Danksy Henwil se groot groothandelkliënte het Alberts ’n perspektief op invoer, iets wat lankal as ’n albatros om die nek van die plaaslike bedryf beskou word. Sonder dat hy statistieke gesien het, reken Alberts dat die swak wisselkoers, laer verbruikersaanvraag en die instel van handelstariewe ingevolge die bedryf se meesterplan reeds saamgespan het om invoer te verminder – nog voordat Covid-19 internasionale handel ontwrig het.
Hy meen egter dat baie van die ingevoerde hoendervleis tans in koelkamers wag dat aanvraag herstel. “Dit is moontlik dat ons eers in Desember die impak van hierdie invoer sal voel.”
Alberts is hoopvol dat die meesterplan wat in November 2019 in werking getree het, die bedryf sal beskerm. Gunstige tekens is die invoertariewe wat reeds ingestel is en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se onderneming om invoer beter te kontroleer om te verseker dat produkte akkuraat verklaar en die toepaslike tariewe betaal word.
Intussen gaan Henwil voort om sy bydrae tot die bedryf te lewer deur ’n flinkvoetige besigheid en deernisvolle werkgewer te wees, en sy maatskaplike verantwoordelikhede na te kom. Die maatskappy het die afgelope paar weke ongeveer R20 000 se hoendervleis aan vier ouetehuise op Lichtenburg en Coligny geskenk. Met die samewerking van die plaaslike departement van maatskaplike ontwikkeling is 2 000 kospakkies aan gesinne in nood uitgedeel.
Ná die inperking sal Henwil voortgaan om die provinsiale regering te help om ’n nuwe voermeul te vestig en te bedryf. Die projek is deel van die Springbokpan-Agri-Hub – een van 44 soortgelyke inisiatiewe landwyd wat daarop gemik is om kommersiële volhoubaarheid binne die bereik van bestaansboere te plaas.
Henwil se nasionale markaandeel is wel net nagenoeg 5%, maar die waarde wat die maatskappy tot sy dorp, plaaslike gemeenskappe en provinsie toevoeg, is onskatbaar meer.
Henwil is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.