Vra vir Faffa
Ek wil endemiese plante van die Olifantshoek-omgewing (Kalahari) aanplant om self byvoeding te produseer. Ek oorweeg kameeldoringbome om die peule te benut, vaalkameel vir blare en bessiebosse. Ons boer met beeste, skape en bokke. Ek besef dit sal lank duur voordat ’n boom wat van saad gegroei is, begin peule dra. Ons gebruik meestal “pyplyn”-water, maar met gespesialiseerde besproeiingsmetodes soos vogmeters kan water spaarsaam benut word. Omdat ek endemiese aanplantings wil doen, dink ek dit moet spesies wees wat jy net vir die eerste twee tot drie jaar in uiters droë tye sal besproei, waarna jy die besproeiing waarskynlik na ’n volgende blok kan skuif. Is dit moontlik om drakrag só te verhoog, en enige verdere raad oor hoe die drakrag van veld in die Kalahari verhoog kan word?
Volgens die nasionale reënvalkaart kan die Olifantshoek-omgewing tot 350 mm reën per jaar kry. In die afgelope drie tot vier seisoene was dit waarskynlik minder as 200 mm reën. Daarom sal strategiese besproeiing noodsaaklik wees vir voldoende produksie.
Die drakrag van die omgewing word as 15 ha/GVE (hektaar per grootvee-eenheid) aangegee. Die aanplant van inheemse bome en struike, asook ander weidingsgewasse, alles onder besproeiing, sal die drakrag verbeter. Die aanplant van bome en struike vir dierevoeding in boorde word sterk aanbeveel. Dit sal deeglik omhein moet word, anders sal die Boerbokke die klein plantjies oorbewei en vernietig.
Dit geld ook aangeplante weiding. Die doel is om self byvoeding vir ooie met lammers en vir lammers en kalwers ná speen te produseer. Soos genoem, sal die kameeldoringpeule gemaal word vir byvoeding en die vaalkameel vir beweiding van die blare gebruik word.
Die kameeldoring- en vaalkameeldoringboom is goed aangepas in die omgewing en die gebruik daarvan word aanbeveel. Die gebruik van bessieproduserende struike word nie sterk aanbeveel nie, want die saad kan deur Boerbokke en voëls versprei word en moontlike indringers word.
Blinkblaar-wag-’n-bietjie is wel ’n boom wat bessies dra, maar is nie so ’n aggressiewe
Grondstof indringer nie en kan vir blaarbenutting oorweeg word. Die kameeldoringpeule moet om twee redes gemaal word: om verteerbaarheid te verhoog en om die verspreiding van saad, wat kan ontkiem, te voorkom. Gemaalde peule moet ongeveer 30% van die rantsoen uitmaak, want die hoë veselinhoud kan vertering verlaag, selfs só erg dat dit die diere se dood kan veroorsaak. In die TABEL word ’n rantsoensamestelling voorgestel, met erkenning aan mnr. Johan Mouton van RCL Foods.
Oumansoutbos kan as aangeplante weiding oorweeg word. Hierdie gewas het homself as ’n goeie weigewas in die Karoo bewys. Saailinge word in rye aangeplant vir die beste benutting. Dit kan vanaf die tweede seisoen ná aanplanting bewei word. Produksie neem jaarliks toe, van sowat 7,8 t/ha groen materiaal in die eerste jaar tot sowat 12,5 t/ha in die vierde jaar. Oumansoutbos moet verkieslik nie vir afronding gebruik word nie, maar vir onderhoud van skape, soos byvoorbeeld die teeltrop.
Aangeplante weidingspesies wat oorweeg kan word, sluit in borseltjiegras, wat baie goed op sandgrond en ook in droër dele aangepas is. Dit sal moontlik ook strategies besproei moet word in uiterste droogtes. Borseltjiegras moet egter nie te veel besproei word nie, want as die gras meer as 650 mm/jaar kry, word dit deur blaarroes benadeel. Dit bied goeie somerweiding, maar ook uitstekende staandehooi, waar die gras vanaf Januarie gerus word en in die winter benut word.
In vrugbaarder grond (leem of klei) kan bloubuffelgras oorweeg word. Daar is twee kultivars beskikbaar. Molopo is uitsluitlik ’n hooigewas, maar kan in ’n jong stadium bewei word. Gayndah is meer blaarryk en bied goeie somerweiding, maar ook staandehooi in die winter. Japannese radys is een van die mees droogtebestande winterweidings, maar dit sal ook strategies besproei moet word in die Kalahari. Die blare bied goeie vroeë winterweiding en die knolle later in die winter. Skape en veral Boerbokke benut die knolle op die land, maar vir beeste moet dit uitgehaal en gekerf word.
Prof. Chris Dannhauser is ’n onafhanklike veld-en-weidingsbestuurspesialis.