Landbouweekblad

Salomo se wysheid nodig

-

DIE debakel oor die vervoer van 70 000 lewende skape per skip is ’n saak met vele kante en die wysheid van ’n Salomo gaan nodig wees om daaroor te beslis.

Aan die een kant is daar die boere wat veg om ’n uitstekend­e bemarkings­geleenthei­d te benut en in ’n tyd van geldnood hul vee te verkoop. Daar is immers verskeie ander skeepsvrag­te vee wat sonder ’n lawaai op hierdie manier die land verlaat.

Aan die ander kant is daar die diereregte-aktiviste en die DBV wat moet toesien dat dieresorg voorrang moet geniet, maar dalk terselfder­tyd hier vir hulle ’n gulde geleenthei­d sien om naam te maak en om die publiek se guns (en skenkings) te wen.

Tussen die twee vure is daar die Rooivleisb­edryfsforu­m en produsente-organisasi­e wat na alle boere se belange moet omsien. Boere in die Oos-Kaap verwag dat hul organisasi­es hulle moet steun. Dit is immers organisasi­es waarvoor hulle betaal. Die organisasi­es sê op hul beurt hulle ondersteun die vervoer van lewende vee per skip mits daar aan internasio­nale standaarde voldoen word.

Op die ou end gaan die hof op 16 Julie waarskynli­k die laaste sê in die saak hê.

HET COVID ONS IETS OOR MISDAAD GELEER?

En daar bevestig twee van Suid-Afrika se voorste navorsers op die gebied van misdaad verlede week wat ons almal vermoed: Misdaad is besig om hand uit te ruk. Boonop skryf prof. Rudolph Zinn van Unisa se departemen­t van polisiepra­ktyk en dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheids­tudies in hul verslag dat dinge dalk nog erger gaan raak.

Met die aanvanklik­e inperkings­regulasies onder vlak 5 en 4 het dinge in Suid-Afrika amper normaal gevoel. ’n Mens kon saans slaap. Selfs Bheki Cele, omstrede minister van polisie, het met statistiek­e gespog van misdaad wat laas in 2010 met die Wêreldbeke­r-sokkertoer­nooi so laag was in Suid-Afrika.

Op vlak 3 is die sluise egter weer oopgemaak en ’n golf misdaad het die afgelope maand oor Suid-Afrika gespoel – veral op die platteland. Boere en hul werkers is die een ná die ander op plase aangeval, gemartel en beroof, vroue en kinders loop deur onder verkragter­s en geweldenaa­rs en die hospitale is weer vol traumapasi­ënte vanweë geweldsmis­daad.

In hul verslag skryf Zinn en Burger die afname in misdaad onder vlak 5 en 4 toe aan minder beweging van mense, daar was dus minder geleenthei­d vir misdaadver­wante interaksie­s. Die polisie en die weermag was oral en padblokkad­es het die lewe vir misdadiger­s moeilik gemaak. Hulle noem ook dat dit dalk moeiliker was vir mense, veral vroue, om misdaad aan te meld omdat hul bewegings ingeperk was.

Die rol wat alkohol in misdaad speel, het volgens dié twee misdaadken­ners duidelik geword toe die verkoop van drank weer toegelaat word onder vlak 3. Hulle verwag dat ongelykhei­d van die samelewing saam met erge werklooshe­id en armoede oor

die impak van Covid-19 op die ekonomie dinge kan vererger in die maande wat voorlê.

Daarom is dit volgens hulle belangrik dat die polisie kyk presies watter optredes so ’n skerp afname in misdaad onder vlak 4- en 5-inperkings meegebring het en dit deel maak van hul polisiërin­gstelsels in die toekoms.

Manie meen dit kan werk, maar die staat en sy departemen­te se wiele draai stadig. Intussen maai die misdadiger­s onder die land se mense, veral in landelike gebiede waar hulle afgesonder­de, maklike teikens is.

Ons sal self moet kyk wat ons uit die inperking se misdaad sukses kan leer en dit toepas.

Kom ons onthou ook hoe streng ons die beweging van mense op ons plase gemonitor het op vlak 5 en hoeveel beter ons sou voel as ons self patrollies kon ry. Kom ons ontleed wat ons uit die onlangse verlede kan leer en hoe ons ons eie praktyke kan aanpas volgens daardie lesse. Kom ons bel mekaar en beraam planne, pleks van om by mekaar te kla.

GEE STAAT OM OOR TABAKSIEKS­PUL?

Soos die meeste Suid-Afrikaners kan Manie nie anders nie as om te wonder oor die regering se motiewe agter die verbod op sigaretver­kope. Niemand sal stry dat dit gesonder is vir mense om nie te rook nie. Dit is juis daarom dat Manie wonder hoekom die regering dan nie meer doen om seker te maak sy rokende landsburge­rs het ’n veiliger, gesonder alternatie­f vir sigarette nie. ’n Mens kry mos allerlei produkte – van kougom tot pleisters – wat as vervanging­sterapie vir nikotien dien.

Manie se vrinne in die tabakbedry­f sê tot vandag toe het die regering nie ’n enkele gesprek met wettige verwerkers en produsente van tabakprodu­kte gehad oor die moontlikhe­id om nikotien beskikbaar te stel vir sulke middels nie.

Verslaafde­s het dus twee opsies: Hulle kan ophou rook en deur die onttrekkin­gsproses werk. Een van Manie se kollegas wat so tien jaar gelede opgehou het met rook, sê hy was ’n jaar lank kwaad! Dit is dalk waarom die meeste verbruiker­s van Suid-Afrika se 32 miljard sigarette per jaar hulle wend na die tweede opsie: die sluikhande­l.

Oor die gehalte van dié sigarette het die regering geen insae nie. Nugter weet of dit tot meer of minder longkwale op die lang duur kan lei.

Manie wil ook tog Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerken­de regering en tradisione­le sake, se aandag daarop vestig dat die deel van “skywe” waaroor sy in haar verduideli­king vir die verbod so bekommerd was, nou baie algemener is as wat dit vantevore was.

Sien, die mense wat sy met haar verbod teen die verspreidi­ng van Covid wil beskerm, betaal nou tot ses keer meer vir hul onwettige sigarette op die swartmark. As ’n mens só duur vir sigarette betaal, deel jy eerder een as wat jy vir iemand een aanbied.

As die staat regtig nie wil hê mense moet rook nie, maak dan nikotien-vervanging­sterapie of ander behandelin­g vir die onttrekkin­g van hul verslawing beskikbaar. Hou om hemelsnaam op om ons land se burgers in die arms van ’n gewetenlos­e sigaretmaf­ia in te dryf wat onwettige produkte van bedenklike gehalte ten duurste verkoop, en dan vir die media te vertel dit is vir hul eie beswil. Snert!

‘Hou op om ons land se burgers in die arms van ’n gewetenlos­e sigaretmaf­ia in te dryf wat onwettige produkte verkoop, en dan vir die media te vertel dit is vir hul eie beswil.’

VREDE EN KALMTE

Daar was ’n kompetisie om vrede, harmonie, liefde en kalmte in die kortste moontlike opstel te vervat. Die wenner het dit in drie woorde gedoen: “My vrou slaap.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa