GRATIS BOEK BIED ENSIKLOPEDIESE KENNIS OOR INDRINGERS IN SUID-AFRIKA
Na beraming verminder die voorkoms van uitheemse indringerplante die waarde van veeproduksie in SuidAfrika met tot R340 miljoen per jaar. Dié syfer kan styg namate indringerspesies versprei. Indringerbome is veral sleg vir natuurlike SuidAfrikaanse weivelde. Dit oorgroei benutbare plantegroei wat vir weiding gebruik kan word, en word selde deur diere gevreet.
Dis volgens ’n nuwe opetoegangboek, Biological Invasions in South Africa, wat gratis beskikbaar is. Dié omvattende naslaanwerk met 31 hoofstukke het inligting oor 1 422 indringerspesies, waaronder plante, voëls, soogdiere en visse, wat ’n mens in SuidAfrika aantref.
Na raming veroorsaak indringerplante ’n verlies van 5% water in SuidAfrika, en bedreig dit die voortbestaan van sowat 1 600 inheemse soorte plante.
In ’n hoofstuk oor weidingsgebiede in verskillende plantbiome word genoem dat die verspreidingsgebied van indringerplante van 2006 tot 2016 drasties met 671% uitgebrei het.
Mnr. Timothy O’Connor en prof. Brian van Wilgen, wat dié hoofstuk geskryf het, noem die pompombossie (Campuloclinium macrocephalum), verskeie soorte turksvye en kaktusse, demoinabossie (Parthenium hysterophorus )en Verbena bonariensis as van die groot sondaars.
In die proses word beskikbare weiding en die drakrag van veld verminder.
Die skrywers noem wel dat die voorkoms van sommige indringerspesies op klein skaal ’n bonus is, want dit kan vir vuurmaakhout, voer, medisinale redes of skadu gebruik word. Op die lange duur kan dit egter gemeenskappe duur te staan kom.
Afdelings oor relevante beleid en wetgewing, plant en dierbeheerprogramme, en die bekamping van indringerplante danksy biologiese bestrydingsmaatreëls behoort ook insigte vir die landbousektor te lewer.
“Die boek konsentreer op indringerspesies in natuurlike ekostelsels, en nie soseer op plae wat gewasse aanval of landbouonkruid nie,” sê Van Wilgen, ’n hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir indringerbiologie (SIB) en die departement plant en dierkunde.
“Daar is min, indien enige boeke wat hierdie vakgebied so omvangryk op ’n nasionale vlak vir enige land ter wêreld dek,” sê hy.
Sy mederedakteurs was proff. John Measey en Dave Richardson van die Universiteit Stellenbosch, asook prof. John Wilson en dr. Tsungai Zengeya van die SuidAfrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut. Sowat 100 navorsers, praktisyns en nagraadse studente het daartoe bygedra. Die boek kan gratis afgelaai word by
–