Subsidies verwring kospryse
Die landbouchemie-reus Syngenta wil wegbeweeg van konvensionele chemikalieë na produkte wat minder giftig vir die mens en beter bestand teen klimaatsverandering is. Mnr. Erik Fyrwald, uitvoerende hoof van Syngenta, sê verbruikers én regerings wil hê dat minder plaagdoders gebruik word. Die maatskappy gaan teen 2025 altesaam $2 miljard in volhoubare landbou belê, en stel vir homself die mikpunt van twee tegnologiese deurbrake per jaar.
In 2019 het oesbeskerming 75% van Syngenta se inkomste verteenwoordig. Hiervan het insekdoders 15% uitgemaak en swamdoders ’n groter aandeel. Die maatskappy het reeds belê in onder meer die herstel van afgetakelde weiveld in Brasilië, naspeurbare aarbeie, tamaties met ’n lang raklewe en droogteverdraagsame saad. Syngenta beoog om beleggings en verkrygings te maak in die mark vir biologiese produkte. – Bloomberg
| Wat van die wolboere?
PLEIDOOIE dat regerings internasionaal hul landbousektor minder moet ondersteun met hulp wat markte verwring, het die afgelope dekade klaarblyklik op dowe ore geval.
Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) sê in sy jongste jaarverslag oor staatsteun aan die landbou dat regerings van 2017 tot 2019 gemiddeld $536 miljard (sowat R9 190 miljard) per jaar aan regstreekse steun aan boere bestee het.
Die verslag bevat inligting van 54 lande, wat bestaan uit OESOlede, lede van die Europese Unie en 12 opkomende ekonomieë, waaronder Suid-Afrika.
“Die helfte van die steun was deur beleidsrigtings wat plaaslike pryse bo internasionale vlakke gehou het. Sulke beleidsrigtings benadeel verbruikers, veral armes, vergroot die inkomstegaping tussen klein en groot plase, en verminder die mededingendheid van die voedselbedryf as ’n geheel,” lui ’n OESO-verklaring.
Terselfdertyd het ses lande – Indië, Argentinië, Viëtnam, Indonesië, Rusland en Kazakstan – boere onregstreeks met $89 miljard (sowat R1 530 miljard) belas deur pryse kunsmatig af te druk.
SUINIGE HULP
OESO sê in sy verklaring die meeste lande het betreklik min bestee om die langtermynprestasie van die landbousektor te ondersteun. Besteding aan navorsing en ontwikkeling, infrastruktuur, biosekerheid en ondersteunende dienste het net $106 miljard (sowat R1 820 miljard) per jaar beloop.
Subsidies aan verbruikers het $466 miljard (sowat R1 130 miljard) per jaar beloop.
OESO sê daar was die afgelope dekade min vordering om hulpmiddels te gebruik wat produksie en handel minder verwring.
Slegs gemengde sukses is met omgewingsprestasie behaal.
Mnr. Ken Ash, direkteur van handel en landbou van OESO, sê Covid-19 bied ’n geleentheid om verwringende landbousteun te verminder, aangesien lande se begrotings onder druk is.
OESO beveel aan dat lande hul huidige Covid-19-verligtingsmaatreëls verander na “dieper beleggings” om die langtermyn-veerkragtigheid van die voedsel- en landbousektor op te bou.
BETER BELEID NODIG
OESO stel voor dat regerings verwringende beleidsrigtings uitfaseer, waaronder prys- en begrotingsondersteuning wat verband hou met landbouproduksie en produksiemiddele.
Voorts kan regerings geld hertoewys aan openbare sleuteldienste in die sektor sodat produktiwiteit, volhoubaarheid en veerkragtigheid verbeter kan word, of na goed toegespitste steun vir die voorsiening van uitkomste in openbare belang, soos biodiversiteit. Regerings kan ook meer aandag gee aan omgewingsuitkomste.
SUID-AFRIKA
Luidens die verslag het Suid-Afrika se steun aan die landbou van 2017 tot 2019 sowat 4% van bruto plaasontvangste uitgemaak. Daarvan was 73% regstreekse hulp en die res finansiering van algemene dienste aan die sektor.
Die vlak van prysverwringing is laag. Plaaslike pryse vir die meeste kommoditeite is in lyn met wêreldprysvlakke, buiten vir suiker en tot ’n mindere mate melk en koring, hoofsaaklik weens invoertariewe.
Regstreekse betalings is meestal vir kleinboere.
Die finansiering van inspeksies en beheer word genoem as ’n belangrike deel van dienste aan die sektor.