Land Bank-reddingsboei sal beleggersvertroue bewaar
‘Beleggers gaan nie in ’n bank se skuld belê as hulle nie seker is dat die bank ’n sterk kapitaalbasis het nie.’
DIE nasionale tesourie se reddingsboei van R3 miljard aan die Land Bank was ’n noodsaaklike stap om beleggersvertroue in die bank te beskerm.
Die regering moes eintlik al vroeër ingetree het om die bank te help en sal moontlik verdere hulp moet verleen, sê mnr. Chris Potgieter, besturende direkteur van Old Mutual Wealth Trust Company, wat onder meer beleggingsportefeuljes vir private kliënte bestuur.
Die Land Bank se onmiddellike probleem is likiditeit. As so ’n probleem nie opgelos word nie, kan dit tot insolvensie lei, sê hy.
“Die regering móés optree, en dit sal nie die laaste stap kan wees nie. Beleggers gaan nie in ’n bank se skuld belê as hulle nie seker is dat die bank ’n sterk kapitaalbasis het nie. Die bank se aandeelhouerskapitaal moes versterk word om die houers van skuld die nodige vertroue te gee dat die regering wel daar sal wees om die bank te ondersteun.
“Dit moes net vroeër gebeur het. Hopelik sal die tesourie nou voorkomend optree.”
WAARDEVOL
Potgieter sê ’n mens moenie die waarde van die staat as aandeelhouer van die bank onderskat nie.
“Staatskrediet is die hoogste vorm van krediet in Suid-Afrika. Ons het dit nou gesien toe die Reserwebank staatskuld gekoop het.”
Die tesourie se reddingsboei aan die Land Bank is volgens hom wyd verwelkom. Die bank speel ’n belangrike rol in voedselsekerheid en moet in staat wees om verdere lenings aan die landbou te verskaf.
“Voedselsekerheid is net so belangrik soos elektrisiteit, maar met Eskom het jy ten minste alternatiewe bronne van elektrisiteit. Met voedsel is invoer ’n alternatief, maar geen land wil totaal van invoer afhanklik wees vir voedsel nie.
“Die manier waarop die krisis nou bestuur word, die sukses daarvan en die mate van samewerking en ooreenkomste wat bereik word, gaan die Land Bank se vermoë bepaal om sy leningsboek in stand te hou en te laat groei.
“Daar moet by die regering en die houers van skuld ’n gewilligheid wees om die Land Bank verder te finansier. Houers van skuld het ook ’n taak. Hulle hoef nie noodwendig skuld af te skryf nie, maar kan byvoorbeeld rentebetalings vir ’n tydperk uitstel,” volgens Potgieter.
NIE UNIEK
Hy sê die Land Bank se likiditeitskrisis is nie uniek nie. Handelsbanke ervaar weens die probleme wat klein en mediumgroot sake-ondernemings ervaar, soortgelyke druk op hul leningsboeke.
“Swak skuld en ’n onvermoë om skuld en rente te delg, is ’n sistemiese risiko in die ekonomie. Die Covid-19-pandemie het dit vererger. Anders as by ander banke, wat verskillende bedrywe finansier, finansier die Land Bank net die landbou. Sy risikoprofiel is daarom uniek en natuurlik taamlik hoog. Dit is waarom die regering se betrokkenheid as aandeelhouer so belangrik is.”
Selfs al beleef die landbou tans ’n goeie jaar danksy gunstige weerstoestande, sê Potgieter jy kan nie na ’n oes in afsondering kyk nie.
“Die landbou het ’n lang waardeketting. Suid-Afrika se vermoë om te kan uitvoer en internasionale pryse van gewasse speel onder meer ’n rol. Goeie reën en ’n goeie oes kan plaaslik en internasionaal prysdruk meebring.”
Verder verhoog die swak rand boere se koste van produksiemiddele.
MANDAAT
Oor die Land Bank se tweeledige mandaat om die kommersiële sektor én die opkomende sektor te finansier, sê Potgieter dit sal baie moeilik wees om die kommersiële deel weg te neem.
“Die bank finansier sowat 27% van landbouskuld. Ek dink nie kommersiële banke sal die vermoë hê om dit oor te neem nie.”
Die kommersiële deel se bydrae tot voedselsekerheid is belangrik. Dit is dié volhoubare deel van die mandaat wat die opkomende deel kan ondersteun.