Landbouweekblad

Jou storie: Jasper trek ’n streep

Jasper was ’n regte platjie, maar met die Joodse winkelier het hy sy rieme styfgeloop.

-

Loena is besig om eiers in koerantpap­ier toe te draai en in ’n kartonboks te pak: “Die lysie is bo-in die boks. Moenie dat die Jood jou verneuk nie.” Jasper hou oorkant die koöperasie stil. Hy bly ’n rukkie sit en wag dat die reënbui moet bedaar voor hy uitklim en sy hoed op sy kop vasdruk, want die wind waai sterk uit die noorde. Met die boks in albei hande stap hy die winkel binne. Hy sit dit op die toonbank neer.

Oom Loewie Lasarus is besig om suikerklon­tjies vir ’n opgeskote seuntjie af te weeg. Die winkel ruik tegelyk na paraffien en tabak.

Die Jood kyk op: “Môre, neef.” Oom Loewie het ’n manier om almal neef te noem.

Jasper groet die oom vriendelik en kla oor hoe duur goed geword het, want hy weet daar moet nog geld gepraat word.

“Rain is money for the boer,” hou die oom hom slim en beduie, pen in die hand, na buite.

“Loena sê Oom moet eers prys maak, anders moet ek die goed aan die Geelwinkel gaan verkoop,” sit Jasper druk op die Jood.

Oom Loewie sug: “Best I can do, ’n sjieling en ’n sikspens per dosyn eiers . . . and butter, twee sjielings die pond.” Jasper is tevrede met die pryse.

“Voor Oom die goedjies begin uitsit, ek het ’n nuwe hoed nodig. Dié een is gedaan,” en Jasper wys na sy ou hoed. Die Jood loop haal ’n stapel hoede op die rak. Tydsaam pas Jasper die een hoed ná die ander op. Hy besluit op die een met die tiervelban­d. Hy steek sy ou hoed in die middel van die stapel weg.

“Dan loop ek maar eers, Oom. Ek moet nog ander draaie maak. Sal later terugkom vir die goedjies.” Hy stap by die winkel uit met die nuwe hoed op sy kop.

Twee uur later stap Jasper, hoed op die kop, weer by oom Loewie in. Hulle is alleen in die winkel. Die stapel hoede is al gebêre en sy boks staan eenkant op die toonbank. Stadig sit hy die nuwe hoed voor die oom neer: “Wil Oom nie ’n hoed by my koop nie? Dis nog splinternu­ut.” Oom Loewie kyk nie op nie: “Wat se hoed, wat jy waar kry?” Toe sien oom Loewie die hoed raak: “Maar dis dan my eige hoed! Ellendelin­g! Jy wil wrintiewaa­r my eige hoed aan my verkwansel! Ek sal jou sommer . . .”

Al skellend gryp die oom die hoed en stap na die stapel hoede op die rak om dit terug te sit. “Oom kan sommer my oue saambring. Dis in die middel van die stapel,” sê Jasper proesend.

Toe oom Loewie terugkom, het hy bedaar. Hy glimlag en sê met sy kenmerkend­e bry-aksent: “Jy sal dit nie wéér waag nie, neef.”

Jasper is nou ernstig: “Ek kort ’n paar veldskoene, Oom.” Nou is die Jood in sy element. Oom Loewie loer oor sy brilletjie en wys met sy vinger na die rak met skoene: “As neef twee pare vat . . . goeie discount. Meanwhile gaan laai ek jou groceries op.” Jasper pas skoene aan en die Jood is bakkie toe met die boks.

Oom Loewie bly ’n rukkie weg. Toe hy terugkom, staan Jasper reeds met sy skoene by die toonbank. Die Jood kyk na sy keuse en gaan haal ’n ander paar: “Hierdie is wel bietjie expensive, maar het baie meer treë in. Groot discount, net vir neef,” probeer hy duurder skoene aan Jasper verkoop. Jasper ken al die Jood en hou by sy keuse.

“En wat van materiaal vir die vrou? Mooies ingekry. Jy kan die vrou spoil.”

Jasper raak moeg vir die knaende Jood. “Oom, dis winter. Loena kan nie snags so baie uitgaan nie. Sy kan ’n trek kry. Het Oom nie vir my ’n kamerpot nie?”

Oom Loewie byt aan die aas: “Ek het vir jou net die regte ene. Lekker grote. Dit kan drie pi . . .” Hy bly skielik stil. “Jy wil ’n fool van my maak, nè?” Jasper besef die speletjie is verby: “Los maar, Oom. Dalk volgende week.”

Tuis sit Jasper die boks op die kombuistaf­el neer. Hy maak dit oop. Sy mond val letterlik oop. “Loena, kom kyk hier!” Loena loer in die boks. Sy bars uit van die lag: “Ek’t jou mos gewaarsku. Iemand gaan jou eendag terugkry!” Jasper staar na die klip en perdemis in die boks.

Minute later hou ’n bakkie op die werf stil. Dis oom Loewie Lasarus. Terwyl hy uitklim, sê hy met ’n selfvoldan­e glimlag: “Wens ek kon sien jou face.”

Tuis sit Jasper die boks op die kombuistaf­el neer. Hy maak dit oop. Sy mond val letterlik oop. ‘Loena, kom kyk hier!’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa