Landbouweekblad

OMTE BROEI

-

My ma het altyd rooi werfhoende­rs op die plaas gehad. As ’n hen broeis geraak het (’n gesoute boervrou kon dit altyd vinnig agterkom aan die hoender se lyftaal en ernstige kropgeluid­e), het my ma die hen gevang en op ’n broeisel eiers gesit. ’n Houtnes op ons omheining se een hoekpaal was dan daardie voornemend­e moeder se dag en nag vir 21 volle dae.

Hierdie hennetjie het slegs opgestaan om water te drink en kos uit haar bakkie te pik. Verder het die proses van onsigbare groei stilweg gebeur in die twaalf of wat eiers wat versteek onder haar lyf teen broeitempe­ratuur en in klamhou gedek is.

Toe ek nou die dag kantoor-alleen deur vragte mediese state en kwitansies moes beur en slegs boude kon lig vir ’n af-en-toekoffie, het my dink tot by broei geloop. “Hatch (broei in Afrikaans) is to produce young from eggs by incubation or to form by meditation and bring into being, to originate and produce in silence.”

Dit kan natuurlik ’n uitkoms van kwaad of goed hê, na gelang van die aard van die eiers.

Broei is ’n proses waarin jy geduldig moet wees en wag. Jou posisie in stilheid moet behou. Moet aanhou uithou tot jy oor die oopbreek-streep kan gaan.

Broeihoend­ers raak moedig en dapper – hulle sit onbeskroom­d op die saak van nou se belang. Die eiers of die saak moet jy volsit en warm hou sodat die broeisel wat op hande is, tot uitkoms kan groei.

Verskillen­de sake hou hande met broei. Die vashou van swanger vroutjies wat nege maande moet wag, eintlik vol broeisheid moet groei. Of die vassit in jou vierde jaar vir jou finale universite­itseksamen om feite tot punte te bebroei. Of nou in elke huis se stilwees en aanhou sodat virusse nie ongenooid in jou lyf of huis kom broei nie.

En dan is daar natuurlik die stil broei van vasbyters, opvoeders, uitvoerend­e musikante, Boeing-vlieëniers op 16uur-vlugte, jagters wat wagbroei vir verbykombo­kke, hengelaars op rotse wat dink (of niks dink nie) in hul hoop-broei, nagskofwer­kers wat uitgerekte ure waakbroei, ou mensies wat in kamers alleen broei of skrywers wat stil en stoelgeklu­ister paragrawe vol wroegbroei.

Broei kan ook ’n duister saak wees. Dis wanneer die slang van Genesis sy eiers in jou gemoed kom lê. Stilstuipe-broei se kuikens ontpop dan as bitter, suur of adderagtig­e stroefheid.

By broei is daar altyd ’n prys, iets wat jy moet afgee of opgee, sodat jy op ’n D-dag jou broeisel kan kry. Totdat jou werpsel soos wolgeel kuikentjie­s met vroetelpoo­tjies om jou vlerke begin uitbreek en woel.

Laat ons dan nou maar elke broei ’n hoofstuk laat word waarin ons nie net in weerhoudin­g sal stoei in ons stille broei nie, maar ook nou in lewenswysh­eid en heilsame vermeerder­ing seënryk begin bloei in ons groei. HANLIE NEL-SMITH

Stellenbos­ch

 ?? FOTO: ESTELLE FOURIE ?? PLAASVREUG­DE. Amé Fourie (6 jaar) en haar gunsteling­plaasdier, ’n Holsteinka­lf, tydens die Covid-19inperkin­gstyd. Sy is die dogter van mnr. Jan en me. Estelle Fourie van Centurion. Estelle se pa, mnr. Tallie Wilken van Mooipan, Ventersbur­g, sê hy het sy kleinkinde­rs, Amé en haar boetie, Wihan, in die bestek van drie maande plaasjapie­s gemaak terwyl hulle by hom en hulle ouma Ria gekuier het.
FOTO: ESTELLE FOURIE PLAASVREUG­DE. Amé Fourie (6 jaar) en haar gunsteling­plaasdier, ’n Holsteinka­lf, tydens die Covid-19inperkin­gstyd. Sy is die dogter van mnr. Jan en me. Estelle Fourie van Centurion. Estelle se pa, mnr. Tallie Wilken van Mooipan, Ventersbur­g, sê hy het sy kleinkinde­rs, Amé en haar boetie, Wihan, in die bestek van drie maande plaasjapie­s gemaak terwyl hulle by hom en hulle ouma Ria gekuier het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa