WG HET DIE VERKEERDE BENADERING
Ek is ’n plaaswaardeerder wat onregstreeks by die proses van grondhervorming betrokke is en hoop om ’n bydrae te lewer om die proses momentum te gee.
Die kantoor van die waardeerder-generaal (WG) het ’n bepalende posisie in die hantering van transaksies waar goed bedoelende boere hul plase aanbied om deur die staat aangekoop te word.
Die WG het ’n wanopvatting dat die prys wat betaal kan word wanneer ’n grondeienaar vrywillig sy grond aanbied, bepaal moet word deur die toepassing van wette en regulasies oor onteiening. Dit veroorsaak dat gunstige transaksies skipbreuk ly. Uiteraard ontneem dit opkomende boere van die geleentheid om by produktiewe landbou betrokke te raak.
Ek het onlangs hierdie kwessie met prof. Elmien du Plessis, regsgeleerde verbonde aan die Noordwes-Universiteit, bespreek. Sy ondersteun my siening dat daar ’n verskil in benadering moet wees wanneer vergoeding bepaal word vir ’n grondeis en wanneer ’n prys bepaal word vir ’n goed bedoelende grondeienaar wat sy plaas vir grondhervorming aanbied.
In die eerste geval is daar ’n element van herstel van ’n ongeregtigheid betrokke. ’n Boer wat sy plaas 20 jaar gelede teen volle markwaarde gekoop het en dus geen voordeel uit apartheidswette getrek het nie, kan egter nie onderwerp word aan ’n formule wat ’n prys laer as markwaarde tot gevolg het nie.
Die siening van die WG dat alle wit boere steeds moet betaal vir die ongeregtighede van die verlede, is eenvoudig nie in ooreenstemming met Suid-Afrika se Grondwet nie. DEON VAN ONSELEN
Brief per e-pos ontvang