Wolk bly hang oor LNR
MANIE wonder wat gaan aan by die eens trotse en suksesvolle Landbounavorsingsraad (LNR) – ook of daar hoegenaamd wél iets daar gebeur.
Aan die een kant is daar die dreigende aflegging van sowat duisend werkers. Nou hoor Manie dat die LNR tegnies gesproke nie eens meer ’n direksie het nie. Om die kwessie erger te maak, swyg die bestuur oor alles. Manie se kollegas se nuusnavrae by die LNR, asook Thoko Didiza, minister van landbou, maak geen hond haaraf nie.
Wat Manie se kollegas wel kon vasstel, is dat die dienstydperk van die 13 direkteure van die LNR onder leiding van dr. Shadrack Moephuli vroeër vanjaar al verstryk het, maar dit is glo tot 30 Junie verleng om die minister kans te bied om ’n nuwe direksie te benoem. Helaas, 30 Junie het gekom en gegaan sonder vordering.
Terselfdertyd het die vakbond Solidariteit vroeër bekend gemaak dat hy met die LNR in gesprek is oor die beoogde aflegging van sowat 1 000 werkers.
Manie het begrip vir sommige probleme van die LNR – soos ’n jare lange besnoeiing in staatstoelaes en ’n vermindering van sy navorsingsinkomste. Maar terselfdertyd het die personeelrekening net bly groei. Net in die hoofkantoor in Pretoria is daar 200 personeellede, terwyl daar belangrike navorsingsinstitute is wat met ’n kwart van hierdie getal werknemers moet klaarkom.
KRISIS SKEP GELEENTHEDE
Selfs in die moeilikste tye is daar altyd geleenthede, meen Bruce Whitfield, aanbieder van The Money Show op 702 en Cape Talk en wie se boek The Upside of Down vroeër vanjaar verskyn het. Hy het in ’n webinaar gesê SuidAfrika het veral nóú mense nodig wat sulke geleenthede kan raaksien en oplossings vir probleme kan vind.
In die 20 jaar dat hy al onderhoude voer, het hy gevind dat optimisme ’n karaktereienskap is wat alle miljardêrs deel.
Hulle is nie mense wat slegte dinge ignoreer nie, maar hul uitgangspunt is om die geleenthede in ’n krisis te vind.
Manie meen daar is talle van dié mense in die landbou.
SuidAfrika beleef homself nou in ’n uitsonderlike krisis, met onder meer die probleme by die SAL en Eskom, asook tien jaar van staatskaping wat veroorsaak het dat die land nie slaggereed is vir die Covid19pandemie nie.
Manie stem saam met hom dat werkloosheidsversekering selfs nie eers behoorlik uitbetaal kan word nie. Die staat misluk – en hy weet dit.
Whitfield het wel hoop dat sake gaan verander.
’n Senior amptenaar van die departement van openbare ondernemings het onlangs, in ’n
gesprek oor die SAL, teenoor hom erken dat dít wat die staat nou met die lugdiens doen, al jare gelede moes gebeur het. Die staat erken nou volgens Whitfield, al is dit teësinnig, dat hy nie die middelpunt van alles kan wees en nie moet probeer om die Chinese model te volg nie.
Suid-Afrika het geen ander keuse nie as om die roete van vennootskappe tussen die openbare en private sektor te kies. Dít sal ’n baie goeie ding vir albei wees.
Intussen meen Whitfield is daar altyd geleenthede te vind. Hy het voorbeelde van vernuwende ondernemings genoem, soos Sweep South, ’n toepassing wat huishulpe en werkgewers verbind en wat aan sowat 20 000 huishulpe werk gee.
Hy het ook verwys na mnr. Jannie Mouton wat in 1995 deur ’n onderneming afgedank is en later die PSG-groep gestig het waarvan Capitec deel is. Capitec is begin in ’n tyd toe daar baie banke en mikroleners was en die bank het saam met die hele bankbedryf deur die finansiële krisis van 2008 gegaan.
Vandag het die bank 14 miljoen kliënte. Terwyl ander banke hul takke verminder, brei Capitec syne uit.
Whitfield sê die interessante kenmerk van die drie top-aandele op die JSE in die vyf jaar tot November 2019, naamlik Capitec, Clicks en Transaction Capital (’n mikrolener wat onder meer die taxibedryf finansier), is dat hulle hul aandag op Suid-Afrika toespits. “Hulle het nie ’n enkele sent buite Suid-Afrika belê nie.”
Whitfield meen ’n mens moet ’n krisis tegemoet gaan met ’n benadering van hoe jy jou weg daardeur gaan vind.
“Die enigste manier hoe ons onsself uit dié gemors gaan kry, is om ons aandag te vestig op die regtig slim mense wat regtig slim oplossings skep vir die probleme wat ons moet oplos.”
OGGEND- EN AANDPRAATJIES
Iets wat Manie nogal opval tydens die staat van inperking, is hoeveel tyd ’n mens die afgelope maande gehad het om dinge te doen wat jy nie andersins sou nie. Soos om saam met die kinders wetenskapsfiksie-rolprente te kyk, of sci-fi, soos hulle dit noem.
Die rolprent Men in Black is só oud die akteur Will Smith het nog nie eens begin skeer nie. Tommy Lee Jones kon nog wegkom sonder om sy hare te kleur toe dit verfilm is. Wat Manie egter beïndruk het toe hy die rolprent onlangs vir die eerste keer gesien het, was die klein prakseersel waarmee ’n liggie in mense se oë geskyn word om ooggetuies se geheue te wis.
Manie wonder of die kabinet ook só ’n gedoente het. Hoe kan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, byvoorbeeld vergeet het dat sy op 4 Mei vir die parlementêre komitee wat toesig hou oor haar departement gesê het ras word as maatstaf gebruik om te bepaal watter toerisme-ondernemings vir Covid-19-verligtingshulp in aanmerking kom omdat Suid-Afrika steeds die ongelykste samelewing is.
Nou, twee maande later, sê sy toerisme-ondernemings wat nie aan SEB-voorwaardes voldoen nie, moet hulle tog nie aan fopnuus steur en dink hulle kan nie aansoek doen om staatshulp nie. Manie wonder oor die minister se idee van fopnuus. As geloofwaardige dagblaaie ’n mens se stellings in ’n parlementêre komiteevergadering aanhaal, word dit mos nie fopnuus wanneer jy jou storie wil verander nie.
Die minister is nog te jonk om al só vergeetagtig te wees. Manie vermoed politici se geheue word van tyd tot tyd met een van daai toestelletjies van die Men in
gewis.
VIRUS SE SIMPTOME
Die koronavirus se simptome is dieselfde as dit wat jy voel as jou vrou jou selfoon nagaan . . . Dit is moeilik om asem te haal, jy begin sweet, voel swak en jou keel raak droog. En wanneer sy vrae begin vra, begin die droë hoesie!