STAKING KAN GRAAN- EN SITRUSOESTE ONTWRIG
DIE voortslepende groothandeldieselvoorsieningstekorte het pas begin verbeter toe die landwye staking van vragmotorbestuurders opnuut landboulogistiek begin beduiwel het.
Vrese het teen druktyd bestaan dat die staking, waaraan sowat 1 500 vragmotorbestuurders toe deelgeneem het en waarin talle vragmotors aan die brand gesteek is in protes teen die indiensneming van buitelanders in die sektor, talle landboubedrywe se besigste seisoen erg kan knou.
Mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê die staking kan ’n groot ontwrigting vir die landbou veroorsaak indien dit daartoe lei dat dieselvoorraad geknou word.
“Ons het pas die goeie nuus ontvang dat die Transnetbrandstofpyplyn, wat brandstof vanaf die kus na die SuidAfrikaanse binneland moet vervoer, weer op dreef gekom het ná grootskaalse vandalisme tot dieseltekorte gelei het, toe die staking nou begin.
OPONTHOUDE
“Dit kan dinge moeilik maak vir boere wat reeds met baie lae dieselvlakke op hul plase sit, omdat die diesel vanaf groothandelaars na kleinhandelaars en van daar na boere alles per vragmotor vervoer moet word.”
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê dieselvoorsiening op groothandelvlak is beter, maar kleiner verskaffers het nog nie voorraad nie en daar is nog probleme om brandstof by vulstasies en boere uit te kry. Die wagtyd om ’n tenkwa in Durban te laai het verminder van gemiddeld 36 uur na 6 uur.
“Daarby is albei Sasol se twee binnelandse raffinaderye by Sasolburg en Secunda nou ook weer op dreef en lewer hulle ook brandstof in die binneland.”
Hy sê die vragmotorbestuurders se staking bemoeilik die situasie weens vrees dat tenkwaens aan die brand gesteek kan word.
Louw sê die staking kan die vervoer van grane vanaf silo’s na meulens en van daar na verspreiders toe in die wiele ry.
“Die hele bedryf steun eintlik baie swaar op padvervoer, veral as insette, produksie, invoer, uitvoer en die verspreiding van produkte in ag geneem word. Die staking is dus glad nie goeie nuus vir die landbou nie,” sê hy.
SITRUS
Vir sitrusprodusente kon die staking nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Mnr. Mitchell Brooke, logistieke ontwikkelingsbestuurder van die Sitruskwekersvereniging (SKV), sê die bedryf bevind hom tans in die middel van sy plukseisoen, maar weens die protesaksies kan boere nie hul produkte van die pakhuise op hul plase na die verkoelingseenhede by die hawens stuur nie.
“Vragmotorbestuurders vrees dat daar teen hulle opgetree gaan word indien hulle sitrusprodukte vervoer, wat beteken vragte word nie hawe toe geneem nie.” Brooke sê die SKV oorweeg tans ’n aantal opsies om maniere te vind om produsente te help om hul produkte by die hawens te kry.
Van die moontlikhede wat die organisasie ondersoek, is om ’n private sekuriteitsmaatskappy te kontrakteer om vragmotors vol sitrus te beskerm, en om produsente in Limpopo te help om van spoorvervoer gebruik te maak.
Brooke wys egter daarop dat hawens, wat gebruik maak van vragmotors wat met skeepshouers toegerus is, ook onder die protesaksies deurloop, wat die doeltreffendheid belemmer.
“Ons mikpunt was vanjaar om rondom 140 miljoen kartonhouers sitrus uit te voer, maar gegewe die Covid19pandemie, en nou die protesaksie, sal dit ’n wonderwerk wees indien dit gebeur.”
Teen druktyd (13 Julie) was daar volgens Brooke aanduidings dat die situasie kan normaliseer, en dat meer vragmotors sitrus na die Durbanhawe kon vervoer.
DIE sterk weerstelsels wat die afgelope maand oor Suid-Afrika beweeg, verhoog die gevaar van veevrektes en wegholbrande aansienlik.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouklimatoloog, het teen druktyd verwag dat temperature tot die laaste week van Julie baie laag sou wees en dan begin styg, maar daar is ’n moontlikheid van reën in die eerste week van Augustus.
Al stap die tyd aan vir die skeer van kleinvee, lyk dit of weerstoestande veral in Julie ’n groot gevaar inhou, met ’n kleiner risiko in Augustus.
’n Baie sterk westewind gaan dié tipe frontale stelsels vooraf.
Windsnelhede van tot 50 km/h is moontlik, wat die gevaar van wegholbrande verhoog.
Daar is egter ook die vooruitsig dat sterk fronte tot diep in die binneland kan beweeg, en dat sneeu en ysreën damvlakke in die somerreëngebiede kan laat styg.
Die vlakke van die Katsedam in Lesotho was teen die einde van die somer laag. Dit is ’n belangrike waterbron wat onder meer die Vaaldam aanvul, wat water aan groot dele van Gauteng verskaf.
PRODUKSIETOESTANDE
Gunstige produksietoestande heers oor die grootste deel van die wintergraanstreek, hoewel minder reën as verwag oor dele van die Suid-Kaap en die Rûens voorgekom het.
“Die baie koue toestande is bevordelik vir die ontwikkeling van wintergrane later in die seisoen. Dit beperk ook waterverliese,” sê Van den Berg.
Koue toestande vroeër in die seisoen verlaag die risiko van ryp later in die seisoen oor dele van die binneland, soos langs die Oranjerivier en in Noordwes en Limpopo waar koring onder besproeiing nou op groot skaal aangeplant word.
“Gevoelige stadiums van ontwikkeling behoort dan later in die seisoen voor te kom wanneer die risiko vir lae temperature kleiner is.”
Weidingsgehalte het weens die uiterste koue vinnig agteruitgegaan in streke wat wel voor die winter voldoende reën gekry het, soos die grootste dele van Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga en die aangrensende dele van ander provinsies.
“Die omvang van droogtetoestande neem steeds toe in die westelike gebiede van die NoordKaap, veral in dele van die Kalahari. Reën die afgelope maand het verligting gebring in Namakwaland en die westelike dele van Boesmanland, maar dit is te koud vir werklike veldherstel.”
SOMERGRANE
Mielieboere was teen druktyd steeds besig om mielies te stroop omdat van dié saaigebiede weens laat reën te nat was om op tyd te kon stroop. Rekordopbrengste van meer as 10 t/ha is volgens berigte in dele van Noordwes behaal.
Goeie opbrengste word ook behaal in dele van die NoordVrystaat waar versuipskade nie voorgekom het nie.