Namibiese invoerverbod skiet talle partye in die voet
NAMIBIË se besluit om sy grense in Julie vir die meeste vars produkte te sluit, kan Namibiese verbruikers duur te staan kom.
Volgens die Namibiese landboukundige raad geld ’n algehele verbod vir die hele Julie op die invoer van uie, botterskorsies, tamaties, kool, pampoen, patats, skorsies, aartappels en beet.
Soetrissies, Engelse komkommers, wortels en waatlemoen mag ingevoer word, maar is onderhewig aan kwotas of tariewe.
Die raad sê die doel van die verbod is om plaaslike bemarkingsmeganismes toe te pas en om verbruikers te beskerm “teen produkte wat onder standaard kan wees en teen voedselsekerheidsrisiko’s”.
HALVEER OMSET
Mnr. Chando Govind, eienaar van King Fresh, ’n Johannesburgse varsprodukte-groothandelaar-en-verwerker, sê die sluiting kan sy groothandelomset binne dae halveer.
“Tans kan ons onder meer nie aartappels na Botswana of Zambië uitvoer nie.”
Hy meen die sluiting van die Namibiese grense het beslis ’n uitwerking op produkpryse in Suid-Afrika en dus produsentepryse.
“Die buurlande sluit hul grense om hul eie boere te beskerm.”
Mnr. Yaasin Davids, ’n direkteur van Forty Square, wat die verskaffer Golden Harvest besit, sê dié situasie kan meebring dat Namibiese verbruikers meer as gewoonlik vir vars produkte moet betaal.
“Wanneer die grense sluit, onderhandel groothandelaars in Namibië nie ’n prys volgens die Namibiese produksiekoste vir groente nie. Hulle grond hul prys op die prys op die Kaapse mark, voeg die vervoerkoste van Kaapstad tot in Namibië by en verkoop dan nie sommer produkte teen minder as daardie prys nie.
“Omdat uitvoerders vanaf Kaapstad toegang het tot bekostigbaarder produkte vanweë ’n groter aanbod, kan hulle dus produkte vir goedkoper as die heersende plaaslike prys na Namibië uitvoer.”
Hy sê die Namibiese grenssluiting benadeel ook uitvoer na Angola.
“Daar is transitopermitte wat die uitvoerder vanaf Namibiese owerhede moet bekom om die produkte deur Namibië tot in Angola te kry, wat duur en ’n beslommernis is.
“Daarbenewens, met die regulasies om die verspreiding van Covid-19 te beperk, mag die vragte nie meer op Oshikango van een vragmotor na ’n ander oorgehaak word nie.
“’n Enkele bestuurder moet die vrag van die Kaap tot in Angola vervoer om die kans op oordrag van die virus te beperk. Plaaslike vervoermaatskappye is nie bereid om hierdie risiko te loop nie.”
DOEANE-OOREENKOMS
Volgens mnr. Lambert Botha van die regsfirma Hilton Lambert, wat spesialiseer in internasionale handelsreg, word die sluiting van grense binne die Suider-Afrikaanse doeane-unie (SADU) wel in bepaalde omstandighede toegelaat.
“Die basiese beginsel is dat goedere afkomstig vanuit die doeane-unie vry van tariewe en kwantitatiewe beheermaatreëls binne die unie moet kan beweeg.
“Daar is egter heelwat uitsonderinge binne die doeane-unie-ooreenkoms wat lidlande toelaat om in- en uitvoer te beperk om bepaalde beleidsdoelwitte na te volg.
“In die uitoefening van die vergunnings stel die ooreenkoms onderlinge ooreenkomste tussen die lidlande vooroop waar besluite op die grondslag van konsensus geneem word.
“Waar beheermaatreëls eensydig ingestel word sonder om vooraf met die geraakte handelsvennote te beraadslaag, skep dit ’n onseker omgewing vir besighede om in te funksioneer.”
’n Dringende hersiening van die doeaneunie-ooreenkoms om groter regsekerheid te skep vir ondernemings wat binne die unie handel dryf, raak ál belangriker.
“’n Proses om die Sadu-ooreenkoms te hersien, is reeds ’n paar jaar gelede van stapel gestuur, maar dit lyk of die proses ’n stille dood gesterf het,” volgens Botha.