OUTOMATIESE ‘OOR’ KAN KUIKENS RED
Britse navorsers wat spesialiseer in die gedrag en welstand van diere het ’n goedkoop, geoutomatiseerde metode gegrond op klank ontwikkel waarmee hoenderboere makliker kan agterkom as alles nie klopdisselboom met hul groepe kuikens loop nie.
In kommersiële hoenderplase word duisende kuikens vandat hulle uitgebroei het saam in groot groepe grootgemaak.
Britse navorsers by vier universiteite het as deel van ’n gesamentlike projek klankopnames gemaak van 25 000 kuikens wat saam in 12 sulke groepe geleef het. Só is bevind dat ’n kuiken se noodpiep helder en duidelik uitstaan en identifiseerbaar is bo enige ander kloekgeluide, of selfs die klank van plaaswerktuie.
Vorige studies het reeds gewys dat sulke piep-SOS’e ’n teken is van stres en angsverwante gedrag by kuikens. In die jongste studie, wat in die Journal of the Royal Society Interface verskyn het, is ook bepaal dat dit gebruik kan word om gedrag binne ’n groep kuikens op te som. Daarmee kan ook voorspel word wat die toekomstige groeikoers van ’n groep kuikens gaan wees, asook hul gesamentlike vrektesyfer.
Prof. Lucy Asher, ’n spesialis in informatika oor dieregedrag aan die Universiteit van Newcastle, sê dit is moontlik om die hoeveelheid gewig wat kuikens sal aansit, asook die hoeveelheid vrektes per groep, te bepaal deur bloot die geluide te ontleed wat kuikens in hul eerste dae uiter.
Dr. Katherine Herborn, die hoofskrywer van die artikel, is ’n dosent in fisiologie en gedrag aan die Universiteit van Plymouth. Sy sê alle kuikens sal op hul eerste dag saam in ’n pakhuis roep omdat hulle hulself in ’n vreemde omgewing bevind.
“Daarna leer hulle waar om kos en water te vind, en raak hulle gewoond aan die nuwe wêreld waarin hulle hulself bevind. As jy daarom ná ’n paar dae steeds nog ’n klomp hulproepe hoor, kan dit ’n teken wees dat iets verkeerd is.”
Uit hul navorsing is ’n outomatiese, gerekenariseerde metode ontwikkel waarmee boere na hul kuikens kan “luister” sonder om self hul ore te hoef spits. Dit meet die sogenoemde spektrale entropie van klanke, wat verwys na die wisseling en intensiteit in die soorte klank wat ’n mens kry.
Wanneer ’n groep kuikens saam piep, raak die gewone agtergrondklanke van ’n plaas oorwegend meer tonaal van aard. Die gerekenariseerde model kan die hoeveelheid noodroepe optel wat kuikens saam maak. Styg dit bo ’n sekere kerf, sal ’n vroeë waarskuwing gestuur word aan plaaswerkers dat die kuikens dalk spesifieke aandag verg.
“Dit is ’n baie eenvoudige, dog doeltreffende manier waardeur jy die welstand van hoenders kan verbeter,” reken Asher. “Dis veral nuttig omdat dit reeds vroeg in hoenders se lewensiklus gebruik kan word. Die meeste ander metodes tans in gebruik, tree eers later in hoenders se lewens in werking, wanneer dit eintlik al te laat is vir ingrypings wat hul welstand wesenlik kan verander.”
Die studie ondersteun die bevindinge van vorige navorsing oor die waarde van geoutomatiseerde monitorstelsels om gevaartekens rondom die welstand van lewende hawe waar te neem.
Herborn reken eenvoudige ingrypings is nodig om die welstand en lewensgehalte van die meer as 50 biljoen hoenders wat jaarliks geproduseer word, te verbeter.
LIGGING: Langkloofvallei 1.Oudtshoorn,2.Georgeen 3. Uniondale
NAAM: Langkloof-plase
EIENAARSKAP: Maatskappy
VERTAKKINGS:
BOER VAN DIE JAAR
Saag is ’n voormalige SA Boer van die Jaar en in beheer van die Saag Jonker-groep se bedrywighede wat hoofsaaklik op Oudtshoorn gesetel is. Dit behels grootliks die bemarking van volstruisleer en -vere en sluit ’n volstruisen beesboerdery in.
As 78-jarige veteraan wat reeds in 1958 as ’n vere-agent en -afslaer by die destydse Klein Karoo Koöperasie aangestel is, is hy vandag waarskynlik die oudste volstruisveerkenner in die volstruisbedryf.
Schoeman het die afgelope twee dekades tot een van die voorste volstruisboere in Suid-Afrika gegroei, met eiendomme wat strek van Schoemanshoek noord van Oudtshoorn, Calitzdorp in die weste en De Rust in die ooste.
Die twee families doen reeds ’n kwarteeu lank sake met mekaar. In 2018 het hulle besluit om danksy hul diepgesetelde sake- en vertroue-etiek die meeste van hul onderskeie belange in Langkloof-plase saam te voeg en só ’n bykomende, onafhanklike maatskappy te vorm. Elke groep het ook steeds afsonderlike boerdery- en sakebelange.
Schoeman, Saag en Saag se seuns, Hein en Morné, is die direkteure, met Schoeman en Hein die uitvoerende hoofde. Mnr. Uys Tomlinson is die hoofbestuurder.
Sowat 60-70% van die boerdery se omset behels die bemarking van slagvolstruise, dagoudkuikens, leer, vleis en vere. Gelooide, gekleurde leer word na Mexiko, Amerika, Europa en China uitgevoer. Al die eiers is vir die uitbroei van kuikens wat dan deur kontrakteurs grootgemaak word , terwyl hulle ook kuikens verkoop. Die slagvolstruise word verkoop aan Cape Karoo International, wat al die produkte uitvoer. Langkloof-plase tesame met Jonker en Schoeman se eie produksie is die grootste verskaffers.
Ná die samevoeging van hul boerderye het Langkloof-plase nóg plase van altesaam 4 000 ha gekoop, wat ’n gevestigde appel-enpeerplaas, groentesaadboerdery en ’n gastehuis en plaasvakansie-onderneming insluit.
Die plase beslaan nou saam 21 000 ha. Al dertien plase in die boerdery grens aan mekaar. Vyf plase is tussen George en Uniondale in die Bo-Langkloof teenaan die Outeniquaberge. Agt plase is meer noord, tussen Oudtshoorn en Uniondale en nader aan die Kammanassieberge.
GOEIE VOLSTRUISWÊRELD
Hein sê die Langkloof is veral goeie volstruiswêreld. Hy is sedert 1994 by die Saag Jonker-groep betrokke, aanvanklik met administrasie en mettertyd méér met die volstruisboerdery self.
Langkloof-plase se hoofafdeling is volstruise en het gewoonlik 9 000 broeivoëls. Jaarliks word 2 000 jong voëls met beter genetiese eienskappe geselekteer om sowat 2 000 ou wyfies en mannetjies te vervang. Die ou volstruise word geslag. Die broeitroppe word in ekstensiewe toestande in kampe van 40-300 ha gehou waar hulle ’n rantsoen kry en bossies vreet. Die eiers word elke dag uitgehaal.
Die seleksie van broeivoëls is op grond van bouvorm, vere, houding en kondisie. Wyfies moenie te vet wees nie, maar ook nie uitgeteer nie. Die vere moet van ’n hoë gehalte wees en lengte, breedte en volume hê. Spanne werkers word deurlopend opgelei en oes die vere ongeveer elke sewe tot agt maande. Dit word dan aan vereverwerkers verkoop.
Die boerdery verkoop ook kuikens aan ander boere en koop self jong broeivoëls van boere wat met goeie, vrugbare volstruise met mooi vere boer.
DEEGLIKE BEPLANNING
Schoeman doen vooruitbeplanning saam met Hein. Hy het reeds op skool ’n winkeltjie op hul plaas by Schoemanshoek naby Oudthoorn gehad, dit later uitgebrei en ook ’n slaghuis bedryf. Sy bande met Saag strek 25 jaar terug toe hy begin het om volstruise teen kommissie vir Saag aan te koop.
Twintig jaar gelede het Schoeman sy eerste plaas naby Oudtshoorn gekoop en met volstruise begin boer. Benewens sy aandeel in Langkloof-plase het hy steeds sy eie boerdery met 2 000 ha lusern, groentesaad, tabak, mielies en ander gewasse onder besproeiing by Oudtshoorn, Calitzdorp, De Rust en Beaufort-Wes, meestal vir voer en verkope.
Hy sê Langkloof-plase het drie broeistasies met plek vir altesaam 10 000 eiers per week. Sowat 6 000 tot 7 000 kuikens word weekliks uitgebroei omdat nie alle eiers vrugbaar is nie. Die eiers het 42 dae nodig om uit te broei. In die 2019-broeiseisoen wat oor ses tot sewe maande gestrek het, is 133 000 kuikens uitgebroei, wat 60-65% van Suid-Afrika se produksie uitgemaak het.
Sowat 40% van die dagoudkuikens word aan ander boere verkoop. Die res word na kontrakteurs geneem om hulle tot op slagouderdom groot te maak. Die kontrakboere word van ’n grootmaakprogram voorsien en deurentyd raad gegee oor biosekerheid, siektebekamping en rekordhouding ingevolge die riglyne van die Europese Unie, waarheen vleissnitte uitgevoer word.
Langkloof-plase verkies om kontrakboere te gebruik om die voëls groot te maak omdat dit ’n intensiewe proses is wat voortdurende aandag, feitlik dag en nag, verg.
VERGROOT ANDER FASETTE
Hein sê hulle beoog om die ander boerderyfasette stelselmatig uit te brei sodat dit die helfte van die boerdery se inkomste uitmaak. Hoewel die streek baie voordelig vir volstruisboerdery is, het dit ook goeie veld vir skaap-, Angora- en beesboerdery, asook grond wat vir veral appel- en peerproduksie geskik is. Hulle wil die verskillende dele dus algaande meer optimaal benut.
Die kleinveeboerdery is die tweede grootste boerderyfaset. Dit bestaan uit sowat 6 000 Merino’s in die Langkloofvallei en 4 000 Angoras en 2 000 Dorpers in die noordelike gebied nader aan die Kammanassieberge, waar dit droër is.
Die Merino-boerdery is vir vleis- en wolproduksie op aangeplante lusern, hawer, koring, korog, sorghum, grasse en ander weiding, wat tans uitgebrei word. Die Dorpers word vir slaglamproduksie en die Angoras vir vesel aangehou.
Die boerdery verkoop jaarliks 35 ton wol, 15 ton bokhaar, 10 000 slaglammers, 300 kalwers en beeste in die huidige droë tye (normaalweg is dit tot 1 000), asook 2 000 ou bokke. Daar is ’n eie skaapvoerkraal waar slaglammers gevoer word totdat dit aan abattoirs verkoop kan word.
LEIERSROL IN STREEK
Tomlinson bestempel dit as die grootste boerdery in die streek wat ook ’n leiersrol in die gemeenskap speel. Sowat 200 mense is heeltyds in diens. “Ons uitbreidings geskied met ’n optimistiese gesindheid om die boerdery verder te diversifiseer met behulp van ’n jong span doelgerigte mense.”
Sy belangrikste rol is as koördineerder wat moet sorg dat alles seepglad verloop. Hy is ook die skakel tussen die bestuurspan en die eienaars. Elke bestuurder het ’n afdeling.
Tomlinson het op Oudtshoorn in die volstruisbedryf grootgeword en dié bedryf geleer by sy oupa, mnr. Ger Ungerer, ’n volstruisboer van die Kammanassie. Later het Tomlinson grond gehuur en self met volstruise geboer. In 2017 is hy as senior plaasbestuurder in die Saag Jonker-groep in die Langkloofvallei aangestel.
BREI VRUGTE UIT
Die Langkloof is bekend om sy hoëgehalte-vrugte. Daarom is ’n plaas bygekoop waar
appels en pere geproduseer word, asook wortelen lente-uiesaad. Die omgewing is goed van plantsiektes afgesonder.
“Ons wil meer aandag aan besproeiing gee om die hoëwaardeboerdery te vergroot. Die vrugtebome is onder mikrobesproeiing, maar ons wil die nuutste tegnologie vir drupbesproeiing in nuwe aanplantings gebruik,” sê Tomlinson.
Die boerdery het kundiges gekry om die vrugte-eenheid verder te ontwikkel. Die nuwe plaas het ook ’n pakhuis. “Ons beoog om die bemarking saam met groot ondernemings in die vrugtebedryf aan te pak.”
Daar is tans sowat 50 ha appels (60% van die boorde) en pere in produksie en daar word beoog om dit aanvanklik tot 150 ha uit te brei. Die pakgeriewe is nog voldoende, maar die boerdery sal ander boere se geriewe moet benut namate nuwe aanplantings in produksie kom. Van die vrugte word uitgevoer en die res gaan na varsproduktemarke.
WATER UIT BERG
Die uie en geelwortels is onder drupbesproeiing en saad word onder kontrak vir Sakata en JW Saad verbou.
Die vrugte, groente en sommige lande met aangeplante weiding word met water uit die Outeniquaberge besproei. Die plase grens oor ’n afstand van 23 km aan die berg en water word met gravitasie deur drie pypleidings vanuit die bergstrome na plaasdamme gelei. Dan het die boerdery feitlik deurlopend water. Nuwe aanplantings word hoër op in die berg beoog waar die grond dieper en nader aan die bergstrome is.
Bykomende pypleidings gaan aangebring word om nóg landerye uit die damme te besproei. Daarvoor word grootliks elektriese pompe gebruik, terwyl sommige pypleidings die water met gravitasie gelei.
Volgens Tomlinson verbeter albei die nuwe bedrywe die kontantvloei en versprei die boerderyrisiko’s.
BREI SAAIERY UIT
Die boerdery het 4 000 ha hoëwaarde-saaigrond waarop hoofsaaklik droëlandlusern verbou word, maar hulle wil 200-300 ha besproei. Die meeste water word egter vir groente en vrugte aangewend, wat ’n hoër waarde het.
Die boerdery het ook 12 000 ha droëlande met lusern, hawer, koring, korog, sorghum, grasse en ander gewasse vir die volstruise, beeste en skape.
Die veld is in bergagtige dele wat deur beeste benut word. Eers loop die volstruise daarop om die blare te benut. Dan volg die beeste wat die weiding korter afvreet, en laastens wei die skape. Die kernbeeskudde van 200 Bonsmara-tipe koeie gaan tot 450 koeie vergroot word, sê Tomlinson. Die beesgetalle word in die reënseisoen verhoog, wanneer daar soms tot 2 000 beeste op die plase is.
Danksy die goeie wolpryse wat die omvangryke boerdery se risiko’s versprei, is Merino’s die afgelope tyd van 2 500 ooie tot sowat 6 000 ooie uitgebrei. Met die groter vraag na vesel gaan die Angora-kudde van die huidige 4 000 ooie tot 10 000 ooie vergroot word.
Langkloof-plase het ’n volwaardige bou-afdeling wat huise en ander geboue in stand hou, en die werkershuise op die nuwe plase word tans verbeter.
HOOPVOL OOR DIE LANDBOU
Tomlinson is optimisties oor die landbou se toekoms. “Daar is probleme met grondbesit weens politiek, maar ons is optimisties en het die regte mense in die boerdery wat ook optimisties is. Ons moet hoopvol bly en kan nie met mense werk wat oor die toekoms twyfel nie. Ons beplan deeglik om aan die voorpunt te bly en vergader weekliks met die bestuurspan, wat saam met die topbestuur sowat vyftien mense uitmaak. Só hou ons aan om vorentoe te kyk.”