BEHANDELING VIR KIKOEJOEVERGIFTIGING
Ons het onlangs ses verse verloor weens kikoejoevergifting ná die lang droogte en daaropvolgende reën. Oral in die literatuur word die simptome en toestande gegee waaronder dit plaasvind, maar niemand kon al sê wat ’n doeltreffende behandeling is nie. Asyn het gewerk, indien die probleem vroeg genoeg opgemerk is. Uit 43 siek diere het ses egter gevrek. Is daar enige raad?
Kikoejoevergiftiging is hoofsaaklik ’n vergiftiging van beeste wat op kikoejoe wei. Dit word gekenmerk deur diere wat nie wil vreet nie, lusteloosheid, spoeg wat loop, die grootpens wat vergroot, dehidrasie, skyndrink van water, hardlywigheid en ’n gebrek aan koördinasie.
Daar is twee soorte kikoejoevergiftiging:
■ Vergiftiging geassosieer met kommandowurm-besmetting. Die voorkoms hiervan word hoofsaaklik tot beeste beperk.
■ Vergiftiging sonder wurms. Dié voorkoms is by beeste en skape.
KOMMANDOWURMGEASSOSIEERDE VERGIFTIGING
Die kommandowurmmotte dring Suid-Afrika van die noorde af binne. Hierdie motte kan honderde kilometer ver met wind gewaai word. Sowat tien dae nadat die kikoejoe deur kommandowurms besmet is, word die beeste siek.
Die eerste kliniese tekens wat gesien word, is stringe spoeg wat uit die dier se bek loop. Beeste drom om die drinkbakke saam, maar drink nie die water nie. Hoewel hulle hul bekke in die water sit, sluk hulle nie die water nie.
Die rumen hou op funksioneer. Groot hoeveelhede waterige vloeistof versamel in die rumen en wanneer die dier loop, kan ’n geskud van water gehoor word. Tekens van koliek, kners van die tande, skop en draai met die kop na die flanke kan ook gesien word. Dikwels is die diere hardlywig, maar soms is ’n effense diarree teenwoordig.
Sommige diere is hipergevoelig, spiere trek saam en diere loop met ’n hoogstapgang. Die ledemate verswak en toon gebrekkige koördinasie, met ’n swaaiende gang en pote wat sleep. Diere wat erg aangetas is, gaan lê met hul bene in abnormale posisies en hul kop op die flanke. Waterige rumenale vloeistof loop uit die neus en bek tydens vrektes.
Die verloop van die siekte is gewoonlik twee tot sewe dae, met die meeste vrektes 28 uur nadat kliniese tekens begin het. Tot 80% van aangetaste diere kan vrek.
OORSAKE
Die presiese oorsaak van die vergiftiging is nog onduidelik. Die spoeg van die kommandowurms speel vermoedelik ’n rol. Sommige kenners meen die wurms verander die samestelling van die gras, wat dan vergiftiging veroorsaak. Ander dink dat sekere swamme op die gras die oorsaak kan wees.
BEKAMPING
Vore kan getrek word om die opmars van kommandowurms te stuit. Chemiese middels kan ook toegedien word om die wurms te laat vrek. Beeste moet dadelik uit die besmette kamp verwyder word. Diere kan ná 40 dae weer in die kamp gehou word, maar dit is raadsaam dat ’n paar minderwaardige diere eers die kamp vir minstens 96 uur bewei om seker te maak die kamp is veilig.
NIE-WURMGEASSOSIEERDE VERGIFTIGING
’n Siekte by beeste en skape, met kliniese tekens soos beskryf, is gevind op kikoejoeweiding wat nie deur kommandowurms besmet is nie. Dit is vermoedelik ’n metaboliese siekte, wat veroorsaak word deur ammoniak-ione in die bloed weens versteurings in die rumen.
Dit is moontlik dat hoëbemeste, geilgroeiende kikoejoeweiding, wat voorheen onderwerp was aan droogtetoestande en nou hoog in ammoniumsoute en nitrate en laag in energie is, die faktor is wat vergiftiging veroorsaak.
Kikoejoeweiding is baie hoog in kalium, maar laag in kalsium en natrium. Nitraatvergiftiging is al op kikoejoeweiding gekry by baie hoë bemestingsvlakke. Die kalsium- tot fosfaatvlakke val dikwels buite verlangde verhouding, en die gevolg is urinêre stene by skape en melkkoors by beeste. Die hoë vlakke van kalium onderdruk die opname van magnesium, wat weer aanleiding gee tot ’n tekort aan magnesium en gevolglike grastetanie.
BEHANDELING
Daar is ongelukkig geen spesifieke behandeling wat suksesvol toegepas kan word nie. Behandeling lê klem op simptome en is ondersteunend. Veeartse gee binneaarse vloeistof- en elektrolietterapie (sover dit prakties moontlik is) vir die ontwatering en binneaarse kalsium. Indien daar ’n rumen-alkalose (basiese omgewing in die grootpens) is, word dit met asyn behandel. Ander middels wat toegedien word, is pynstillers, anti-inflammatoriese middels, antispasmodiese middels en antibiotika.
Ondanks die behandeling vrek baie diere steeds. Verwyder die kudde van die weiding en voorsien ’n droë hooi van goeie gehalte.
Dr. Faffa Malan is bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika. Prof. Christo Botha is verbonde aan die departement parakliniese wetenskap, fakulteit veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.
BRON: Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. en Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicoses of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4.