‘Korrekteinligtingoor soönosesnoodsaaklik’
Wêreldsoönosedag is op 6 Julie gehou. Die beskikbaarheid van betroubare inligting en nuus oor dié tipe siektes en hoe dit die landboubedryf raak, was in die kollig op ’n webinaar van die nasionale dieregesondheidsforum vir lede van die media.
die impak van ’n dieresiekte kan baie skadelik wees vir die veebedryf. Die bedryf moet dus betroubare en verstaanbare inligting deur die media aan verbruikers bied. Die uitbreking van listeriose in 2019 het byvoorbeeld groot druk op die varkbedryf geplaas, al was varkvleis nie die sondaar nie. Dié wanopvatting het groot agterdog jeens varkvleis geskep.
“Iets soos listeria kan deur die voedselwaardeketting versprei word, maar dit is ’n patogeen wat natuurlik in die omgewing voorkom en kan deur goeie voedselverwerkingspraktyke en higiënestandaarde uitgeskakel word.”
Tydens die onlangse uitbreking van bekenklouseer was gemeenskappe in besmette gebiede in veral die informele mark besorg oor die veiligheid van beesvleis, al is dit nie ’n soönose nie.
“Voëlgriep word byvoorbeeld nie eens oorgedra deur hoendervleis nie, maar verbruikers is blykbaar onbewus daarvan. Trouens, wanneer sulke voedselvrese ontstaan, beïnvloed dit dikwels ook die verkope van ander vleissoorte,” het Vervoort gesê.
Hierdie skokke in die verbruikersvertroue het ’n regstreekse invloed op die prys wat die boer vir sy produk kan kry. Akkurate inligting oor soönose kan lewensbelangrik wees, soos brucellose wat miskrame by swanger vroue kan veroorsaak.
“Sommige soönose kan wel deur diereprodukte in die voedselwaardeketting oorgedra word. Brucellose kan van besmette koeie deur ongepasteuriseerde melk na verbruikers oorgedra word.”
KOSTE EN RISIKO
Die voorste linie in die pad van soönoses soos brucellose, miltsiekte (antraks) en slenkdalkoors bly egter veeboere, hul werknemers en veeartse wat met vee werk.
Die koste van voorkomende maatreëls soos inentings, toetse, higiënemaatreëls en biosekerheidsprotokolle vir besoekers is veel goedkoper as die potensiële uitbreking van ’n siekte. Die koste word gemeet in:
■ Die produksieverlies.
■ Die koste van behandeling.
■ Die koste van voorkomende maatreëls.
■ Die ongunstige impak op produkpryse.
’n Soönose soos beesbrucellose het ’n regstreekse invloed op die reproduksiekoers. Vervoort se boeresom wys hoe die siekte se impak jou sak kan raak.
“Teen ’n verlies van slegs 10% in reproduksie in jou kudde, daal jou wins per koei met R600 per jaar. ’n Kudde waar byvoorbeeld voorheen ’n speenpersentasie van 90 behaal is, kan wegkwyn en nou skielik net sowat 40% kalwers speen. Dit beloop ’n verlies van sowat R3 000 per koei per jaar.
“Ons weet hoe om die meeste soönoses te voorkom en te bestry. Ons het wel beter naspeurbaarheid en ouditbare prosesse nodig om uitbrekings te voorkom en te bestuur. ’n Goeie naspeurbaarheidstelsel kan die reaksietyd en optrede teen siektes verbeter.
“Die hele waardeketting, ook verbruikers, moet beter ingelig word oor soönotiese siektes, asook die verantwoordelikheid van elkeen in die waardeketting om die verspreiding van siektes te voorkom. In Amerika word byvoorbeeld min klem geplaas op salmonella in hoendervleis omdat salmonella vernietig word wanneer dié vleis teen 60 °C gaargemaak word. Verbruikers moet voedsel dus reg voorberei.
“Opvoeding is deel van die voorkoming van dié siektes. Die media speel ’n noodsaaklike rol om die publiek ingelig te hou met die regte feite oor hoe om risiko’s te vermy en te verminder.”
Die webinaar is met die samewerking van Landbouskrywers SA Noord en Hollard aangebied.