Strategiese lekaanvulling vir teelkoeie
Diebasiesedoelvan’nteelkoeiisomte reproduseer. Die reproduksietempo is dus die beste maatstaf waarmee ’n beesboer die sukses van sy bestuursvernuf kan meet.
Daar is ’n goeie verwantskap tussen ’n koei se liggaamsgewig en kondisie tydens dekking en haar vermoë om beset te raak. Hoe swaarder die koei, hoe beter is die kans om beset te raak.
Dit is ook belangrik om die tussenkalfperiode (TKP) in berekening te bring by die bepaling van die kalfpersentasie.
Die ideale TKP is 365 dae. ’n Koei moet dus ’n kalf per jaar produseer. Dit is egter nie moontlik tydens ’n lang en uitgerekte dekseisoen nie, en dan neem produktiwiteit af. Dit is dus uiters belangrik dat die tyd en lengte van die dekseisoen só gekies word dat dit kalfpersentasie en speengewig onder spesifieke omstandighede (grootliks bepaal deur die reënseisoen) optimaliseer.
Veldweiding is die basiese voer vir ’n teelkoei. Die gehalte en hoeveelheid van die veldweiding wissel egter volgens seisoen, reënval en grondvrugbaarheid. Die doel van aanvullende voeding is om die beskikbare weiding so doeltreffend moontlik te benut. Dit word gedoen deur oormatige gewigsverlies in die droë maande te voorkom wanneer die veldweiding droog is, en om gewigstoename te maksimaliseer in die “nat” maande wanneer die gehalte van die veldweiding goed is. Die oormatige gewigsverlies van weidende koeie moet net ná kalftyd met ’n lek (verkieslik ’n produksielek) beperk word.
’n Goedbeplande lekprogram se waarde is sowat 35% in herbesetting en sowat 2050 kg in speengewig per speenkalf, teenoor geen lekaanvulling nie.
Lekke wat oordeelkundig gebruik word, is baie kostedoeltreffend. Dit is dus noodsaaklik om ’n goeie lekprogram te volg. ’n Goedbeplande lekprogram, teenoor geen lekaanvulling nie, het ’n terugbetalingsverhouding van sowat 1:3. Dit verteenwoordig die insetkoste van die lekprogram teenoor die inkomste uit die program danksy die hoër speenpersentasie en speengewig.
As breë riglyn kan die lekprogram in drie fases verdeel word, naamlik somer, winter en laatwinter (sien die TABEL ).
VOEDINGSBEHOEFTE
In die teelkoei se produksiejaar is daar ’n deurslaggewende tydperk van sowat 100 dae wat bepaal of besetting sal plaasvind of nie. Hierdie 100 dae is die laaste 30 dae van dragtigheid en die eerste ongeveer 70 dae van laktasie.
In hierdie 100 dae vind twee groot gebeurtenisse plaas. Eerstens word ’n kalf gebore en tweedens vind bevrugting plaas, wat die begin is van ’n nuwe lewe van die volgende kalf.
Die voedingsbehoefte van die koei wat die gehalte en hoeveelheid weiding in hierdie 100 dae betref, is nagenoeg net soveel as wat sy in die res van die produksiejaar benodig.
Die voedingsbehoeftes van die eerstekalfkoei wat self moet groei om volwassenheid te bereik, is nóg hoër in dié 100 dae.
Die hoë voedingsbehoefte is bekend, maar die voervloeibeplanning en weidingvoorsiening in dié 100 dae is dikwels nie voldoende nie.
Die meeste vleisbeesboerderye is ekstensief op veld. Faktore soos droogtes, te veel reën, onbeplande veldbrande en ontydige ryp benadeel veldproduksie.
Die groot variasie in die beskikbaarheid van weiding en die gehalte van die veld moet deeglik in ag geneem word by die voervloeibeplanning en strategiese byvoeding van hierdie spesifieke groep diere op die plaas.
Volgens Voermol se driefaselekprogram word ’n produksielek gedurende hierdie 100 dae aanbeveel. Hierdie lek is ’n aanvulling van proteïen en energie, met ’n inname van 1,5 kg tot 2 kg per koei per dag, en bevat gewoonlik sowat 50% mieliegruis. Voermol Super 18 (reg.nr. V355, Wet 36 van 1947) kan ook vir hierdie doel gebruik word. In Voermol Super 18 is melassestroop die bron van energie.
Die aanbevole inname vir ’n produksielek is tipies 1,5 kg tot 2 kg per koei per dag.
Vir ’n kostedoeltreffende lekprogram moet die lek, die betrokke koei se produksiestatus en die gehalte van die veldweiding behoorlik gekoördineer word.
BRON: H. van Pletzen. “Herkonsepsie van eerstekalfkoeie – een van die grootste uitdagings vir die vleisboer.” Brahman-joernaal, 2015.
Mnr. Ulrich Müller is nasionale tegniese bestuurder van Voermol Voere.