DAAR IS ALTYD ’N PLAN
Niemand wil nou die mooi seisoen wat baie beleef, so vroeg in die jaar versuur nie, maar die stortvloed kommentaar op die wysiging van die onteieningswet is ’n riem onder die hart. So baie mense het kapsie gemaak teen dié onsinnige wetgewing dat wetmakers nou meer tyd nodig het om deur alles te werk. Ons is groot dank verskuldig aan almal wat die moeite gedoen het om hul misnoeë te kenne te gee, veral ons landbou-organisasies.
Persoonlik kan ek nie méér saamstem met die reguit menings van Bennie van Zyl van TLU SA nie.
Die staat kan nie langer met enigiets vertrou word nie, veral nie met wetgewing soos die gewysigde onteieningswetgewing en die breë interpretasie daarvan nie. Die staat het potensieel nie net sy oë op landbougrond nie, maar op enigiets wat as eiendom beskou kan word, soos jou strandhuis, aandele of jou spaargeld as reddingsboei vir ’n sukkelende staatsonderneming.
Soos Bennie tereg opmerk, wetgewing oor minerale en water is destyds ook met ’n klomp paaiery en slim argumente deurgevoer. Skielik is twee van die land se belangrikste ekonomiese drywers in die chaotiese hande van die staat geplaas. Mynwese is dermate gekniehalter dat Suid-Afrika die groot kommoditeitsvraag uit China in die vroeë 2000’s feitlik heeltemal verpas het. Of wat van die voortdurende chaotiese bestuur van ons waterbronne wat duisende mense die kans ontneem om te kan werk?
Enigiemand wat dink die teenreaksie op die onteieningswetgewing is ’n oorreaksie, hoef net na die onthullings by die Zondo-kommissie te luister om te besef die staat se bestuur word byna uitsluitlik aangepak om ANC-comrades te verryk. Nie eens die verspreiding van lewensbelangrike Covid-19-entstof gaan hulle keer om te steel nie.
Lees maar net die storie van die opkomende boer Ivan Cloete in Rapport om die volle omvang van die staat se bykans misdadige optrede te besef. Die arme man is drie keer van verskeie staatsplase verjaag deur ’n klomp aasvoëls wat deesdae amptenare is by die departement van grondsake, net om plek te maak vir comrades wat iets verniet wou hê. Nie eens ’n sinvolle vennootskap met die vooraanstaande boer André Kirsten en ’n lewensvatbare sakeplan kon die onreg keer dat hy van sy plaas naby Darling ontneem is nie.
Ivan is ook nie ’n unieke geval nie, en dit spreek boekdele van die staat se beskouing van individue se regte.
Maar ons mense ken nie van lê nie. Hetsy die onteieningswet ter sprake is, nuwe planne met die liggingsdifferensiaal of die private tegniese opleidingskollege wat die vakbond Solidariteit in Pretoria opgerig het, daar is altyd ’n plan om te maak.
Ons moes ook al voorheen struikelblokke oorkom. Ek is weer hieraan herinner toe ek Erik Holm se besonderse boek Die Ossewa en Sy Spore geresenseer het. Ons waens se tegnologie was destyds die beste ter wêreld en dit het as ’n goue draad deur ons land se geskiedenis geloop. Die boek beskryf die vroeë pioniersdae toe daar by die Khoi geleer is oor osse, die katastrofes van die Boereoorlog en die Runderpes, en die transportryers wat die wêreld oopgemaak het.
Ons gesamenlike geskiedenis is só verweef met ossewaens dat selfs die ANC en Cosatu se logo’s ’n wawiel bevat! Dit is ’n simbool van ons volharding, deursettingsvermoë en veral ons wil om ’n plan te maak. Dié besef maak ’n mooi seisoen net nog soveel mooier.