DIE LANDBOU SE NUWE GESIG
In my geestesoog sien ek ’n ouerige oom wat op ’n petrolkan sit. Hy het lang kakiekleurige kouse aan met leervellies wat al vele myle geloop het. By dit het hy ’n kakiekleurige kortbroek en ’n tweekleur-knopieshemp aan. Verder het hy ’n mooi breërandhoed op sy kop. Vir my lyk sy gedagtes ver, oë helder en sy glimlag breed. Sy hande is vuil en sy klere is vol rooi stof. Ek kyk na die gasstofie wat in die sinkskuur staan, terwyl ek myself verbeel hoe hy nou vir my ’n blikbeker met vuurwarm, pikswart moerkoffie gaan aanbied.
Soms voel dit of dit steeds die idee is wat die samelewing van ’n boer, die boerdery en die landbou het. Daar is seker steeds gevalle waar hierdie oom die landbou kan voorstel, maar die meerderheid van die landboubedryf het aansienlik verander. Wanneer ek vandag aan die landbou dink, dan dink ek aan tegnologie, wetenskap, vernuwing en aanpasbaarheid.
Wanneer ek deesdae aan die landbou dink, dan dink ek aan ’n plaas wat verskeie industrieë bymekaar bring.
Ek sien die internet wat alles bymekaar bring en die insameling van data. Selflopergifspuite en trekkers wat deur middel van GPS hulself kan bestuur. GIS-punte en grondmonsters wat bymekaar kom om lewe aan plaaskaarte te gee. Hommeltuie en satelliete wat vir ons probleemkolle op plase kan uitwys. ’n Weerstasie wat langs die plaashuis staan.
Ek sien nie net ’n pyp wat water bring om plante nat te lei nie. Ek sien ’n netwerk, ’n besproeiingstelsel, ’n pomphuis en peilstiwwe in die grond wat die waterinhoud monitor. Meganiese ingenieurs wat seker maak dat elk van die druppers of spuite die regte grootte druppels versprei.
Wanneer ek aan permanente gewasse dink, sien ek opleistelsels en boom-argitektuur. Marknavorsing vir kultivars, elkeen spesifiek geselekteer vir sy eindverbruiker. Pakhuise, koelkamers en verpakkingsmateriaal – jare se navorsing om te verseker dat vrugte die verbruiker ongeskonde bereik. Logistieke stelsels wat vastelande met mekaar verbind en die wêreld bymekaar bring.
Graanplase met groot werktuie – trekkers, planters, stropers en tapkarre. Elkeen spesifiek vir sy doel op die plaas. Dit verg innovasie, aanpasbaarheid en verandering. Woorde soos bewaringsboerdery, beheerde spoorverkeer, proefplase en navorsingstasies kom by my op. Plase met hul eie silo’s vir die opberging van die graan. Hooibale wat in perfekte sirkels gerol is, sonder moeite meganies vasgebind en gereed om vir veevoer gebruik te word.
Vandag is die landbou nie meer net die oom met die kakiekortbroek nie.
Boerdery is ’n enkele sny uit die koek wat die landbou vir ons voorstel. Die geleenthede binne die landbousektor is legio. Die verskeidenheid rigtings wat betree kan word, is oneindigend.
In ’n paar woorde kan ek die landbou beskryf as hoopvol, stylvol, lewendig en innoverend. Die landbou is vir elkeen. Die landbou is ons toekoms.