JSE OPEN DEUR VIR NUWE LIGGINGSDIFFERENSIAAL
‘Met behulp van dié model kan daar op ’n meer wetenskaplike en deursigtige wyse bepaal word watter diskonto’s by . . . silo’s moet geld.’
DIE JSE het ingestem om die moontlikheid en haalbaarheid van alternatiewe tot die huidige liggingsdifferensiaalstelsel vir grane en oliesade te ondersoek, te midde van langdurige en voortslepende kritiek op die huidige stelsel.
Die sonneblomensojaboonforum het op versoek van Graan SA die JSE amptelik op ’n forumvergadering gevra om voorstelle wat deur mnr. Johann Strauss van die Universiteit van die Vrystaat saamgestel is, te ondersoek.
Strauss is ’n deskundige wat tans met ’n doktorale studie oor die liggingsdifferensiaal besig is. Dr. Raphael Karuaihe, hoof van kommoditeite by die JSE, was op die forumvergadering teenwoordig. Hy het bevestig daar was reeds samesprekings met Strauss en daar sal binnekort ’n opvolgvergadering wees oor sy alternatief.
Dr. Dirk Strydom, bestuurder vir graanekonomie en bemarking by Graan SA, sê sedert die Amerikaanse kenner dr. Matt Roberts se omstrede verslag om die bestaande stelsel te behou, het Graan SA hard gewerk om alternatiewe te vind wat kan lei tot ’n doeltreffender stelsel.
“Graan SA beskou dit as baie belangrik dat die liggingsdifferensiaal moet strook met die werklikhede binne die fisieke mark. Daar moet punte wees waar produsente teen ’n nuldifferensiaal kan lewer, daar moet meer as een verwysingpunt wees en herlewerings moet beperk word.”
VERANDERING
Die huidige differensiaal is gegrond op die strukture wat tydens die eenkanaalbemarkingstelsel gegeld het, met Randfontein as enigste verwysingspunt. Strydom wys daarop dat verwerkingskapasiteit sedert die ontstaan van die vrye mark 20 jaar gelede reg oor die land versprei het. Daarom maak dit nie meer sin dat ’n enkele verwysingspunt die prys bepaal nie. Dit geld alle grane en ook sojabone, waarvoor ’n liggingsdifferensiaal ook beplan word.
Mnr. Luan van der Walt, ekonoom van Graan SA, sê met sojabone is dit nou die ideale geleentheid om ’n nuwe stelsel te skep en net oplossings te soek vir silo’s in afgeleë gebiede waar herlewerings ’n probleem skep. Hy sê drie belangrike konsepte is ter sprake
– die waarde van die ligging, die opbou van voorraad en dat dit nie moet saak maak van watter silo af die graan gelewer word nie, gegewe diskonto’s wat moet geld.
“Wat die waarde van die ligging betref, het ’n silo naby aan die verwerkingsaanleg ’n hoër ekonomiese waarde omdat dit goedkoper is om te lewer as van ’n silo af wat ver van die verwerkingspunt is. Die beweging van voorraad van hierdie afgeleë silo’s af is ook baie stadiger en die voorraad lê langer, wat gehalteprobleme kan skep.”
Hy sê dís die rede hoekom die liggingsdifferensiaal help om die graan te laat vloei vanaf gebiede waar dit nie van nature gaan plaasvind nie. Die silo’s wat gunstig geleë is, het dus nie een nodig nie,
Deel van Strauss se studie was om al die vraag en aanbodpunte in ag te neem, die afstande tussen hulle te bereken en die werklike vloei van graan te stimuleer.
Die groot voordeel van die model is dat alle punte in ekonomiese ewewig gebring word, met ander woorde ’n verandering in een verwysing het ’n impak op die ander. Die model hou aan om berekeninge te doen totdat die hele mark die beste prys geniet en die voorrade vloei na waar die vraag is.
Net vir mielies is daar 251 silo’s met 179 verwerkingsaanlegte wat amper 45 000 opsies bied hoe die mielies tussen aanbod en verwerkingspunte kan skuif.
“Met behulp van hierdie model kan daar op ’n meer wetenskaplike en deursigtige wyse bepaal word watter diskonto’s by die onderskeie silo’s moet geld sodat die graan oral kan vloei,” sê Van der Walt.
“Hierdie diskonto’s wissel van ’n nuldifferensiaal tot R1R20/ton, R21R40/ton en R41R60/ton om bestellings van alle silo’s af aantreklik te maak.”
Van der Walt sê só ’n model bepaal die werklike vloei van graan en plaas net ’n diskonto op probleemgebiede.
“Ook belangrik is dat die differensiaal van die begin van die seisoen af so na as moontlik aan die werklikheid is. Weens finansieringsvereistes is dit nie altyd moontlik vir produsente om premies te benut nie.
“Dus is dit belangrik dat die beginpunt van die kontrak so na as moontlik aan die werklikheid moet wees en slegs seisoenaliteit met premies reggestel word.”