Landbouweekblad

BELOWENDE SEISOEN WINK VIR TAFELDRUIW­E

- — JOHAN VAN DER MERWE

TOT 7 500 kartonhoue­rs Tawnytafel­druiwe per hektaar kan vanjaar onder nette in die omgewing van Worcester en Rawsonvill­e geoes word.

Consortium Fruit, ’n maatskappy wat tafeldruiw­e onder nette verbou, het vanjaar van die heel vroegste tafeldruiw­e in die Wes-Kaap geprodusee­r. Die eerste Tawny-tafeldruiw­e is reeds in die eerste week van die jaar vanaf Gouda na die Europese Unie en Brittanje uitgevoer.

“Die reën wat vroeg in Januarie in verskeie gebiede skade aangerig het, het nie by ons uitgesak nie en dit word weerspieël in die gehalte,” sê mnr. Charles Jordan, uitvoerend­e hoof van Consortium Fruit. “Ons het egter ongewoon hoë druk van witroes en donsskimme­l in Oktober en November beleef weens laat reën en hoë humiditeit. Die nette het baie voordele, maar in hierdie geval is dit ’n nadeel, want die humiditeit is hoër onder die nette en die natuurlike predatore minder.”

GELYKSPEEL

Teen 27 Januarie het Consortium Fruit reeds 50% van die oes ingesamel. Sowat 60% van die Tawny-druiwe was reeds geoes.

“Die gehalte is vanjaar baie goed. Ons het effe skade weens voëls en die kleur kom effens stadiger, maar die houvermoë is baie goed danksy die goeie toestande. Met die Tawny is ons tans op sowat 6 000 kartonhoue­rs (die 4,5 kg-ekwivalent) per hektaar. Ons skat ons gaan by 7 500 kartonhoue­rs per hektaar uitkom en ons gelykspeel­volume is rondom 4 000 kartonhoue­rs, na gelang van die prys.

“Ons betalingty­dlyn is sowat 13 weke. Daar kan dus nog baie gebeur, maar ons is versigtig optimistie­s dat ons verlede jaar se prys plus inflasie sal kan ewenaar, wat beteken dat ons ’n geseënde jaar sal hê.”

SKEEPSVERK­EER

Daar is egter reeds ’n effense terugslag wat die prys tydelik nadelig kan beïnvloed, sê mnr. Jacques Beukes, mede-eienaar van Modderdrif­t in die Hexrivierv­allei. “(In die laaste week van Januarie) het dit nog goed gegaan, maar (die eerste week van Februarie) gaan daar heelwat skepe gelyktydig in die Europese hawens aankom. Dit is weens logistieke probleme, onder meer wind en Covid-verwante vertraging­s.

“Die druiwe wat nou daar aanland, kom ook meestal uit gebiede wat in Januarie reën gehad het. Die houvermoë is effe swakker as normaal. Die skielike groot volume en swakker gehalte sal beslis op kort termyn druk op die prys plaas,” sê hy.

Hy is bekommerd oor skielike onsekerhei­d in Verre-Oosterse markte ná gerugte dat ’n kartonhoue­r kersies uit Suid-Amerika blykbaar in China positief getoets het vir Covid-19.

“Indien hierdie kwessie uitgesorte­er word, die ooraanbod in Europa weggewerk word en die weer aan ons kant hou, behoort ons ’n baie voorspoedi­ge seisoen te hê, want gehalte en produksie lyk goed.”

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Vrugte-uitvoerder­s hoop dat volgehoue onsekerhei­d in die Verre-Oosterse mark nie probleme sal skep nie.
FOTO: VERSKAF Vrugte-uitvoerder­s hoop dat volgehoue onsekerhei­d in die Verre-Oosterse mark nie probleme sal skep nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa