GRAFIEK 2: AMERIKAANSE DOLLARPRYSE (% JAN. 2021 VS. JUL. 2020)
Mielies
Sojabone
Sonneblom
Koring
Grondbone
22/01 14,97 29/01 15,13 05/02 14,99
08/01 29/01 05/02*
WEEK GEËINDIG
Verbruikers in hoëwaarde-uitvoermarkte is al gewoond daaraan om net “perfekte” perskes en nektariens van die hoogste gehalte op hul winkelrakke te sien. Uitvoerlande, soos Suid-Afrika, kan egter in gevaarlike water beland as hulle net op hoëgehalteproduksie konsentreer en die volhoubaarheid van hul produksie op lang termyn afskeep, veral in die lig van klimaatsverandering.
Dit bly ’n fyn balanseertoertjie – een wat ook verbruikers se toenemende bewustheid van omgewingsvriendelike produkte in ag moet neem.
Só skryf me. Chiedza Tsvakirai van die Universiteit van Mpumalanga se skool vir landbou en dr. Teboho Mosikari van die Noordwes-Universiteit se departement ekonomie in ’n navorsingsartikel in die vaktydskrif Sustainability.
“Die bedryf moet herbesin oor hoe die konsep van omgewingsvriendelikheid aangebied word, en ook sorg dat verbruikers, in die strewe om die omgewing te red, nie te veel waarde en gehalte hoef in te boet nie.
“Klimaatsverandering is hier om te bly. Die perske- en nektarienbedryf moet markvergehalte nuwing nastreef sodat die struikelblokke wat inherent tot sulke moeilike tye is, die hoof gebied kan word. Navorsers, bemarkers en diegene wat oor strategie besluit, moet dink aan maniere hoe om verbruikers se eise vir gehalte te versoen met die kwessie om die bedryf se ekologiese spoor te verklein,” het
Tsvakirai aan Landbouweekblad gesê.
Sy meen bemarkingsveldtogte of gunstige aansporings wat die produksie en aankoop van kultivars bevorder, moet verbruikers ook aanmoedig om verantwoordelike keuses oor die omgewing te maak.
“Nog ’n idee is om planttelers se tantième te bepaal volgens hul vermoë om hierdie doelstellings te behaal.”
In die Sustainability-artikel verwys die twee akademici na die uitbou van markte vir vrugte wat nie so mooi lyk of perfek gevorm is nie. Hulle meen die bemarking van sulke vrugte moet geïnkorporeer word by omgewingsvriendelike aspekte om sodoende ’n nuwe, bemarkbare waardeproposisie te skep.
Hulle het hierdie “onbemarkte” produkwaarde binne die plaaslike bedryf bereken. Hulle het dit vergelyk met konvensionele neigings oor gehalte en vrugtevoorraad en -voorsiening waarop die bedryf se buitelandse mededingendheid gebou is.
Tsvakirai en Mosikari se mening is gegrond op hul ontleding van uitvoerdata van verskillende perske- en nektarienkultivars van 1956 tot 2017. Slegs data oor kultivars wat meer as 1% tot die jaarlikse varsprodukuitvoer in hierdie tydperk bydra het, is bekyk.
Hul ontleding toon dat die Suid-Afrikaanse bedryf van 1956 tot 2017 aansienlike vordering gemaak het om volhoubare produksie
te verseker en terselfdertyd hoëwaardevrugte aan verbruikers te lewer. Dit was grootliks te danke aan verbeterde kultivars wat by veranderde klimaatstoestande aangepas is.
“Die bedryf het dit in hierdie tydperk reggekry om ’n hoë leweringsvlak te bereik,” skryf hulle.
“Die grootste verbeterings is in die 1990’s gesien, maar dit het in die afgelope twee dekades weer begin afneem. Dit is omdat omgewingsvolhoubaarheid dikwels opgeoffer is ten koste van markte se groeiende behoefte aan gehalte.
“Die bedryf moet begin om die ekodoeltreffende waardeproposisie beter te bemark, anders gaan Suid-Afrika voortgaan om sy toekoms te verkoop net om in die behoeftes van huidige markte te voorsien,” volgens Tsvakirai.
Tsvakirai en Mosikari het kultivar- en saaddata gebruik in hul ontleding van volhoubaarheid, pleks van om soos gebruiklik te konsentreer op die markneigings van produkte wat eko-etikette dra.
“Sulke etikette beslaan slegs ’n klein gedeelte van die landbouproduksie, en kan duur wees om te ontwikkel. Deur net daardie aanslag te gebruik, is dit moeilik om die volle omgewingsimplikasies van die meeste vrugte wat geëet word, te bepaal.”