GEKWEEKTE VLEIS IS LEKKER, SÊ KANADESE NAVORSERS
Nuwe tegnologie kan dit eendag vir mense moontlik maak om te bestel presies hoeveel vet in hul laboratorium-gekweekte vleis moet wees en hoe dit tussen lae vleis moet lê.
Dit volg nadat navorsers van die McMasteruniversiteit in Kanada ’n nuwe metode ontwikkel het om vleis in ’n laboratorium te kweek. Hulle meen hul eindproduk proe en voel nader aan die ware Jakob as ander opsies wat reeds ontwikkel is.
Navorsing deur prof. Ravi Selvaganapathy en dr. Alireza Shahin-Shamsabadi van McMaster se skool vir biomediese ingenieurswese het in die vaktydskrif Cells Tissues Organs en McMaster se aanlyn tydskrif Brighter World verskyn.
Hulle het hul vorm van vleis ontwikkel deur dun velle gekweekte spier- en vetselle saam te kweek. Hul tegniek is gegrond op ’n metode wat gebruik word om weefsel vir gebruik in oorplantings by mense te kweek. Dit is nog net op laboratoriumskaal getoets.
Elk van die velle lewende selle is so dik soos ’n gewone vel papier wat jy in jou drukker sou gebruik. Dit word eers gekweek en dan op groeiplate saam gekonsentreer voordat dit afgeskil en een ná die ander op mekaar gepak word. Die velle bind natuurlik aan mekaar voordat die selle doodgaan.
“Die velle kan teen verskillende diktes opmekaar gestapel word,” sê Selvaganapathy. “Verstellings kan aan die vetinhoud van enige ‘vleissnit’ gemaak word, wat ’n voordeel is bo ander bestaande metodes van vleiskweking.”
Hy meen verbruikers sal sodoende die persentasie vet wat hulle in ’n porsie vleis wil hê, kan bestel, net soos hulle tans kan kies hoeveel vet daar in hul melk moet wees.
Die navorsers het muisselle in hul eerste pogings gebruik. Hulle het nie dié vleis geproe nie. Hulle het wel ’n volgende poging, wat konynselle gebruik het, gaargemaak en getoets. ”Dit het net soos vleis geproe en gevoel,” sê Selvaganapathy.
Volgens hom behoort dieselfde tegniek gebruik te kan word om bees-, vark- en hoendervleis te kweek.
— ENGELA DUVENAGE