Populisme nie oplossing vir probleme
Die huidige vlaag populisme wat in baie lande voorkom, ook in Suid-Afrika aan verskillende kante van die politieke spektrum, is niks nuuts nie. Dit is dikwels ’n simptoom van groter probleme in ’n land of ’n reaksie op vinnige veranderinge in ’n gemeenskap.
Op 6 Januarie het die twee huise van die Amerikaanse kongres as ’n blote formaliteit in ’n gesamentlike sitting byeengekom om die kieskollegestemme van 306 teenoor 232 te sertifiseer sodat mnr. Joe Biden, die voormalige visepresident, as die 46ste president van Amerika bevestig kon word. Met die verkiesing op 3 November 2020 het hy 7 miljoen meer stemme as sy teenstander, pres. Donald Trump, gekry en genoeg deelstate gewen om die meerderheid stemme in die kieskollege op hom te verenig.
Die sittende president het ná twee maande nog nie toegegee dat hy die verkiesing verloor het nie. Trump was inteendeel op daardie oomblik besig om duisende ondersteuners in ’n vooraf beplande protesbyeenkoms toe te spreek, en hy het hulle aangemoedig om na die kongresgebou (Capitol) op te ruk om “die land terug te vat”.
Ná meer as 60 hofuitsprake, die oortel van stemme in verskeie deelstate én ’n verklaring deur die Amerikaanse departement van justisie dat daar geen grootskaalse verkiesingsbedrog gevind kon word nie, het Trump steeds volgehou dat hy die verkiesing oortuigend gewen het en dat die verkiesing van hom “gesteel” is.
Sommige van sy ondersteuners het sy mening gesteun, die kongresgebou bestorm en daarin geslaag om dit etlike ure lank te beset. Nadat die polisie die situasie onder beheer kon
kry, het die lede van die kongres teruggekom om uiteindelik in die vroeë oggendure van 7 Januarie die kieskollege se stemme te sertifiseer.
Op 16 Oktober 2020 het duisende ondersteuners van oor die hele Suid-Afrika en van oor die hele politieke spektrum na Senekal opgeruk tydens die hofverskyning van die verdagtes in die moord op ’n jong plaasbestuurder. Sommige leiers het hul volgelinge opgesweep, mense het openlik met vuurwapens of stokke rondgeloop en op mekaar geskree.
Die ooreenkomste tussen dié twee voorvalle is nie toevallig nie.
OORSPRONG VAN POLITICI
Die mensdom bestaan na raming al 200 000 jaar, maar politici is net die afgelope 12 000 jaar deel daarvan. Hul verskyning kan regstreeks aan die landbou toegeskryf word.
Vir 188 000 jaar het die mens ’n nomadiese jagter-versamelaarbestaan in klein familiegroepies gevoer, totdat die klimaat begin saamspeel het sodat die mens graan op een plek kon verbou en diere kon mak maak en op een plek aanhou – die sogenoemde landbourevolusie.
Dit was egter nie altyd ’n vreedsame revolusie nie. Met die eerste landboubedrywighede het dispute begin ontstaan oor wie eerste waar was, wie waar mag koring plant, wie se skape waar mag loop, wie sy produkte waar mag verkoop, wie wie se grond gesteel het en wie waar mag bly. Gevolglik het die mense hulle tot die natuurlike leiers gewend om uitsluitsel oor die geskille te gee.
Namate die gemeenskappe gegroei het, het dit ’n heeltydse werk geword om reëls neer te lê en geskille te besleg. Nóg later het hierdie reëlmakers komitees geword en het hulle klerke aangestel om hul werk te vergemaklik. Dorpies het in stede ontwikkel en stede het in state ontwikkel, en die invloed van die reëlmakers het algaande groter geword. Plaaslike leiers het burgemeesters met raadslede geword, en burgemeesters het konings geword met ministers, amptenare, hofordonnanse en soldate tot hul beskikking.
Gewone mense moes belasting betaal om die regerings te kon onderhou. Saam met die status en gesag het die strewe na mag nie agterweë gebly nie. Onderdane is mettertyd volgens die aspirasies van die politici gemanipuleer, in só ’n mate dat hul sosiale identiteit ook deur die politici gedefinieer is.
OPKOMS VAN POPULISME
Die nywerheidsrevolusie aan die begin van die 19de eeu het ’n verdere fase van versnelde verandering vir die mensdom meegebring. Tegnologie, opvoeding, gesondheid, eetgewoontes, kleredrag, kommunikasie – daar is haas niks meer wat nie bykans daagliks, deurlopend en eindeloos verander nie. Sommige daarvan vergemaklik die mens se alledaagse lewe, maar ander vul hom met vrees en angs.
Die voortdurende onsekerheid skep ook ’n probleem vir diegene wat die monopolie oor politieke mag het. Daarom is daar in die moderne politiek ’n golf van nostalgiese politieke visie wat meer op die verlede as op die toekoms konsentreer.
Hierdie nasionalistiese of godsdienstige tradisies het egter nie noodwendig al die antwoorde vir klimaatsverandering, kunsmatige intelligensie, genetiese ingenieurswese, nywerhede wat uitgedien raak, die werkersklas wat hul werk verloor, vroue wat broodwinners en mans wat tuisteskeppers word, Covid-19 of aanlyn bankwese nie. Hierdie kwessies het gewoon nie bestaan toe tradisies gevorm het of die Bybel geskryf is nie.
Nogtans wend baie mense hulle weer tot die “natuurlike leiers” wat aanbied om hulle terug te neem na ’n “gelukkige verlede” toe die wêreld nog “ordelik” was.
Populisme is ’n spesifieke styl van politiek wat die onsekerheid van die toekoms as ’n krisis voorhou en dus in ’n groot mate op die emosie van ondersteuners konsentreer – angs, vrees, gegriefdheid en minagting, om enkeles te noem. Gevolglik is daar groot wedywering tussen politieke partye en burgerregte-organisasies om onseker individue, wat polities en ekonomies gemarginaliseer en afgeskeep voel, in groot groepe te probeer mobiliseer deur ’n “ons”, wat buite die gevestigde strukture staan, en ’n “hulle”, wat die stelsel geskep het, voor te hou.
LEUENS EN SAMESWERINGSTEORIEË
Die onderliggende fondament van sulke massabewegings is om deur samesweringsteorieë en blatante leuens die griewe teenoor die bevoorregte, progressiewe elite na verontregte mense toe terug te eggo.
Leuens is geensins ’n nuwe politieke strategie nie. In die 16de eeu het Niccolo Machiavelli al geskryf ’n politieke leuenaar sal altyd ’n gehoor vind wat sy leuens sal glo. Adolf Hitler het later, in 1925, in sy boek Mein Kampf geskryf alle mense vertel soms leuens om ’n bietjie makliker deur die lewe te kom.
Omdat ons self leuens kan vertel, sien ons raak as ander leuens vertel, maar ons is nie daarop voorbereid om groot leuens te erken as ons daarmee gekonfronteer word nie. Dit is omdat die mens van nature te skaam sal wees om ’n blatante, grootskaalse onwaarheid te verkondig. Daarom kan hulle hulle nie indink dat iemand anders onbeskaamd en sonder goeie rede sal lieg nie.
Hitler se benadering was egter juis om die leuen so groot moontlik te maak, die konsep eenvoudig te hou en die leuen soveel moontlik te herhaal totdat dit as die waarheid aanvaar word. Sy doel was nie net om van ’n paar ongemaklik feite ontslae te raak nie; hy het
’n hele alternatiewe werklikheid volgens leuens geskep waarbinne hy die alleenreg gehad het om aan sy ondersteuners voor te sê wat hulle moet glo. Wat hy nie as “waar” gesertifiseer het nie, was ’n valse sameswering wat deur ’n demoniese organisasie gefabriseer is om sy ondersteuningsbasis te mislei.
Op grond hiervan kon hy die hele Duitse bevolking, wat nog gesteier het ná die Eerste Wêreldoorlog, mobiliseer tot die Tweede Wêreldoorlog waarin miljoene mense gesterf het én Duitsland in ’n puinhoop agtergelaat is.
Samesweringsteorieë bied ’n alternatief wanneer daar nie logiese verduidelikings vir onverklaarbare bedreigings is nie. As daar ’n demoniese “hulle” is, is dit “hulle” wat iewers in die geheim bymekaar gekom het om kunsmatige toestande te skep wat “ons” verder kan marginaliseer.
Die vernaamste hedendaagse samesweringsteorie is dat daar ’n klein groepie satanistiese pedofiele is wat die hele wêreldekonomie manipuleer en oorloë, terroriste-aanvalle, tegnologiese ontwikkelings, natuurrampe en pandemies skep waaruit hulle dan finansiële voordeel kan trek.
Hierdie groepie het na bewering die merkwaardige vermoë om tien skuiwe vorentoe te kan sien wat op die globale skaakbord gaan gebeur. Wanneer hulle ’n virus vrystel, kan hulle presies voorspel hoe dit gaan versprei, wanneer ’n entstof daarteen ontwikkel gaan word en hoe elke land se ekonomie daardeur geraak gaan word. Wanneer hulle ’n oorlog begin, weet hulle presies wanneer dit gaan eindig, wie die oorwinnaar en wat die ekonomiese impak daarvan gaan wees. Met hierdie bonatuurlike insig is dit dus maklik om hul geld op die regte plekke te belê sodat hulle maksimum wins uit só ’n gebeurtenis kan maak.
Mettertyd het die wêreld se rykdom dus in die hande van hierdie handjie vol individue opgehoop en die res van die bevolking in armoede gedompel.
Voorsitters van boereverenigings sal kan getuig dat hulle nie eens 20 van hul lede kan manipuleer om ’n presiese getal vee na hul jaarlikse veiling te bring en met absolute akkuraatheid vooraf die pryse kan vasstel nie.
Net so kan ’n handjie vol graanmakelaars nie die paar duisend graanboere van Suid-Afrika se presiese aanplantings en oesgroottes vooraf afdwing nie. Nog minder kan hulle ’n presiese prys vir die graan vasstel.
Tog laat populistiese politici hul ondersteuners glo dat daar altyd iewers ’n demoniese klein organisasie agter elke insident sit en dat daar selfs een is wat die wêreld se bevolking van 7 miljard mense tot presiese voorafbepaalde ekonomiese uitkomste kan manipuleer.
Meer verstommend is die feit dat onder meer die volgende die “waarheid” is en dat die teendeel misleidende sameswerings is:
■ Die aarde is plat.
■ Die maanlanding het nooit plaasgevind nie.
■ Oudpres. Barack Obama is in Kenia gebore en is nie ’n Amerikaanse burger nie.
■ Die Covid-19-virus kan deur 5G-selfoontorings versprei word.
■ Covid-19-entstowwe bevat mikroskopiese robotte wat mnr. Bill Gates van Microsoft in staat stel om persoonlike inligting van elke mens te kan bekom.
■ Wit boere het hul plase gesteel.
■ Plaasmoorde is ’n geheime ANC-besluit om
Veegetalle
BRON:
OORSAKE
BRON: boere uit te wis sodat hul plase teruggevat kan word.
Maak die leuen so groot moontlik, hou dit eenvoudig en herhaal dit gereeld. Hitler sou in sy wildste drome nie kon dink hoe maklik dit sou wees om ’n ondersteuningsbasis op sosiale media op grond van sulke leuens op te bou nie. Nog minder kon hy voorsien dat sommige nuuskanale as uitklaringsagente vir sulke leuens sou optree vir die bloot gierige rede om die reklamepotensiaal van só ’n ondersteuningsbasis vir hulself te kan kaap, terwyl dit eintlik die populistiese politici is wat die media kaap om die politieke landskap tot ongekende vlakke van vyandige stamgebondenheid te radikaliseer.
ONS EN HULLE
Die mens is van nature ’n sosiale wese wat aan ’n groep wil behoort. Dit spruit voort uit die mensdom se behoefte aan voortplanting en vooruitgang. Die gevolg is dat die mens ander mense ook in sosiale groepe wil kategoriseer. Daar is dus ’n geneigdheid om “ons” teenoor “hulle” te definieer sodra ’n ander groep op die een of ander manier van jou eie verskil, hetsy dit ras, geslag, ouderdom, nasionaliteit, kultuur, geloof, beroeps- of sosiale status is, om nie eens van politieke verskille te praat nie.
Vooropgestelde menings ontwikkel algaande tot ’n obsessiewe beklemtoning van die
verskille met ’n ander groep, wat dan later onvermydelik tot haat aangroei. Wanneer só ’n denkwyse tot toksiese stamgebondenheid ontwikkel, raak die “stam” só in sy eie ekstreme opvattings geradikaliseer dat hy glad nie kan aanvaar dat iemand anders ’n geldige ander opinie oor dieselfde onderwerp kan of mag hê nie. Sielkundiges meen sulke toksiese stamgebondenheid bied ’n uitweg aan individue wat eintlik niks het wat vir hulle reg loop nie. Die assosiasie definieer hulle dan ten opsigte van die groep se karaktertrekke waarsonder hulle op sigself geen identiteit sou gehad het nie.
LESSE UIT DIE SA LANDBOU
Op 11 Oktober 1899 het die grootste nagmerrie van navolgers van samesweringsteorieë en oordeelsdagvoorbereiders waar geword toe die magtige Britse ryk en die yl bevolkte boererepublieke van SuiderAfrika in ’n oorlog met mekaar gewikkel geraak het.
Toe die strydbyle op 31 Mei 1902 begrawe is, is die boere ontwapen, van politieke seggenskap gestroop en ekonomies geruïneer. Hulle het letterlik met slegs die gehawende klere aan hul lyf na hul afgebrande plase teruggekeer.
In hierdie tyd het baie boere van springhase, erdvarke, ystervarke, tarentale, patryse en fisante geleef. Soms, as die berede polisie hul inspeksieronde op die plase kom doen het, het die boere hul gewere geleen en ’n paar bokke geskiet. Omdat osse skaars was, is kinders voor ploeë ingespan om die lande te bewerk.
TABEL 1 toon dat 90% van die veestapel van die Vrystaat gedurende die AngloBoereoorlog vernietig is, maar vyf jaar ná die beëindiging van die oorlog het dit weer herstel tot 92% van wat dit voor die oorlog was.
Die produksie van landbougoedere het oor hierdie tydperk ook algaande toegeneem, terwyl skuld afgeneem het:
■ In 1906 is eiers ter waarde van £33 000 uitgevoer.
■ ’n Konfytfabriek is in 1905 op Parys opgerig en het in die 1906’07seisoen 40 ton vrugte van boere ingekoop.
■ Van Desember 1904 tot Junie 1905 het ’n romery by Tweespruit 30 ton room by 50 boere gekoop en 12 ton botter verkoop. Die jaar daarna het dit 120 ton room by 156 boere gekoop. Die sukses hiervan het romerye op ander dorpe laat ontstaan.
■ Aan die einde van 1907 is wol ter waarde van £787 700 uitgevoer, wat dubbeld die bedrag van 1899 (£363 776) was.
■ Voorskotte deur banke was aan die einde van 1906 sowat £1 990 000, terwyl dit aan die einde van 1907 tot £1 658 059 afgeneem het. Aan die einde van 1907, vyf jaar ná die oorlog, het uitvoer invoer met £237 000 oortref en was die Vrystaat vir die eerste keer sedert die vooroorlogse jare weer ’n netto uitvoerder. Die totale uitvoer was £3 672 591, waarvan die landbou £1 462 500 (40%) bygedra het. Laasgenoemde was 7% meer as die £1 360 869 in 1898.
Voor 1993 is SuidAfrika se boere in ’n groot mate deur ’n landbouvriendelike regering, ’n baie sterk ontwikkelde koöperatiewe stelsel en ’n omvangryke statutêre bemarkingstelsel gedefinieer. Toe kry SuidAfrika in 1994 ’n veelrassige demokrasie en boere verloor hul bevoorregte posisie.
Die oormatige beskerming van vóór 1993 was egter tot nadeel van SuidAfrikaanse boere se produktiwiteit, want volgens die GRAFIEK het plaaslike produksie ná die “marginalisering” toenemend produktief begin raak tot op ’n punt waar dit in 2006 met die res van die wêreld opgevang en toe bygebly het.
In die tydperk toe SuidAfrikaanse boere statutêre groepsidentiteit gehad het wat die politiek en landbouekonomie betref, het hul landboukapasiteit dus agteruitgegaan, terwyl die teendeel gegeld het nadat hulle hul politieke mag verloor het.
Wat Vrystaatse boere in 1902 en SuidAfrikaanse boere in 1993 gedoen het, was om tydens die krisisse na ’n ander gemoedstoestand oor skakel wat hulle in staat gestel het om alternatiewe opsies ook te oorweeg. Geleidelik het die vrese en hulpeloosheid plek gemaak vir