DIE ANDER SÊ
WEENS strawwe wêreldwye mededinging vir vraghouers kan Thailand nie sy rys verskeep nie, Kanada se ertjies hoop op en Indië kan nie sy berge suiker aflaai nie. Die verskeping van leë vraghouers na China het só winsgewend geword dat selfs sommige Amerikaanse sojaboon-uitvoerders moet baklei om vraghouers te bekom vir honger Asiatiese kopers.
“Mense kry nie hul goedere by hul bestemming nie,” sê mnr. Steve Kranig, logistieke direkteur by IM-EX Global, ’n vervoermaatskappy wat onder meer rys, piesangs en kluitjies van Asië na Amerika vervoer. “Een van my kliënte vervoer weekliks agt tot tien vraghouers rys van Thailand na Los Angeles. Hy kan tans net twee tot drie per week verskeep.”
Dit is omdat China, wat vinniger van die Covid-19-pandemie herstel het as die res van die wêreld, uitvoer drasties uitgebrei het en reusepremies betaal vir vraghouers. Dit maak dit winsgewender vir ontvangers om die houers leeg terug te stuur as om hulle te hervul.
Daar is tekens dat die stygende vervoerkoste die pryse van sommige kossoorte opstoot. Witsuikerpryse het in Januarie ’n driejaar-hoogtepunt bereik. Vertragings in voedselgraad-sojabone uit Amerika kan hoër pryse vir tofu en sojamelk vir verbruikers in Asië beteken, sê mnr. Eric Wenberg, uitvoerende direkteur van die Specialty Soya and Grains Alliance.
In die Los Angeles-hawe, Amerika se grootste vir vraghouers, keer drie uit elke vier houers leeg terug na Asië, vergeleke met die normale koers van 50%.