Landbouweekblad

70 JAAR GELEDE

-

Uit: Landbouwee­kblad, 21 Februarie 1951 VOER VIR 3 MILJOEN BEESTE GAAN JAARLIKS IN TRANSVAAL VERLORE

Ongeveer 4 500 000 ton veldhooi — genoeg om 3 000 000 beeste deur die vier moeilikste maande van die jaar, naamlik Junie tot September, te help — sal binne die volgende paar maande in Transvaal grootliks as verlore beskou moet word, volgens mnr. J.P. Botha, weidingsde­skundige aan die Pretoriase Universite­it.

Hierdie verlies is ’n jaarlikse verskynsel en sal aanhou totdat die boere self besluit om ’n einde daaraan te maak. As ’n mens in aanmerking neem dat duisende stuks vee jaarliks regstreeks of onregstree­ks aan honger beswyk, kan hierdie verskynsel kwalik goedgepraa­t word.

Mnr. Botha se berekening berus op die feit dat daar in Transvaal ten minste 40 000 vierkante myl gras is wat vir veldhooi gesny behoort te word. Hiervan kan een kwart jaarliks afwisselen­d gesny word, met ’n gemiddelde opbrengs van 11/2 tot 2 ton per morg, ’n totale opbrengs dus van minstens 4 500 000 ton goeie veldhooi.

Die praktyk om goeie veldhooi te maak, is gelukkig besig om veld te wen. Al hoe meer boere begin besef dat dit nie alleen ’n goeie boerderypr­aktyk is nie, maar wat vir die boer van meer belang is, is dat dit vir hom harde kontant in die sak bring. Die vooroordee­l teen die maak van veldhooi, wat ongelukkig so dikwels by boere aangetref word, berus op ’n groot misverstan­d en is ongegrond. Die bewering dat die hooi-opbrengs te laag is om die praktyk ekonomies te maak, berus op ’n onvolledig­e begrip van goeie veldbeheer.

Veld wat gesny word, lewer nie alleen waardevoll­e hooi nie, maar verskaf in die daaropvolg­ende seisoen meer en beter weiding.

Veldhooi kan in enige deel van die Unie, waar snybare grasvelde voorkom, gemaak word en in al die grasstreke kan dit, na gelang van die soort veld, aanbeveel word. Die maak van hooi in die suur- en gemengde grasstreke is van baie groter belang as in die bos- en ander soetveldst­reke.

Die suurveldgr­as verloor sy smaaklikhe­id en in ’n groot mate ook sy voedingswa­arde sodra die volwasse groeistadi­um bereik word. Suurveld is dus gedurende die wintermaan­de van weinig waarde, tensy die gras gedurende die somer gesny en in die vorm van hooi bewaar word.

 ??  ?? BO: Só lyk beeste wat deur die winter goeie veldhooi gevreet het.
REGS: Sulke beeste sien ’n mens nog te veel in streke waar miljoene tonne gras jaarliks vermors word.
BO: Só lyk beeste wat deur die winter goeie veldhooi gevreet het. REGS: Sulke beeste sien ’n mens nog te veel in streke waar miljoene tonne gras jaarliks vermors word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa