TREF BETYDS VOORSORG TEEN VLOED
Die Gariepdam is nie net Suid-Afrika se grootste opgaardam nie (5 100 miljoen m³), maar dit is ook gebou om as ’n vloedbeskermingsfunksie aangewend te word wanneer omstandighede dit vereis.
Die Vanderkloofdam, wat Suid-Afrika se tweede grootste dam is (3 100 miljoen m³), dien nie net as opgaardam nie, maar word ook as buffer gebruik om surpluswater vanuit die Gariepdam te temper.
Vloedbeheer word behartig vanuit die vloedbeheerkamer waar reënval in volumes omskep word om die toevloei na opgaardamme te bepaal. Die vloedbeheerkamer was aanvanklik goed ingerig vir sy taak, want betroubare inligting is verkry vanuit meetstrukture en watermeters om die omvang van die volume reën vanuit die onderskeie opvangsgebiede te bepaal.
Ongelukkig het die verwaarlosing van infrastruktuur en die wegraak van watermeters ’n ernstige leemte gelaat om betroubare en waardevolle inligting te bekom. Sover bekend is die probleem nog nie reggestel nie. As dinge verkeerd loop met vloedbeheer, was die geykte verskoning nog altyd: Damme is daar om water op te gaar en nie om vloede te keer nie, wat ’n baie logiese verweer is. Dit is ’n aanname wat nie altyd waar is nie.
Enige vloed moet as ’n ramp beskou word, want vloedskade beloop miljarde rande. ’n Waardevolle beginsel sal wees om voorkomend op te tree, veral in ’n jaar soos vanjaar waar bogemiddelde reënval val en daar sprake van ’n vloed is.
’n Goeie beginsel sal gevolglik wees om vroegtydig plek te skep deur opgaardamme reeds vroeg in die reënseisoen nie té vol te laat loop nie. As opgaardamme soos die Gariepdam en die Vanderkloofdam aan die begin van die seisoen op gestel 90% gestabiliseer kan word, kan dit as buffer dien vir aanhoudende stormreën wat een of ander tyd die damme sal bereik. Geen besproeiingswater is altyd beter as ’n vernietigende vloed sonder staatshulp.
Met vloedbeheer is daar net drie keuses. Alle damme het ’n verwagte toevloei gedurende die reënseisoen wat absoluut korrek bepaal moet word sodat daar op ’n deurlopende basis 2 0003 000 kumek losgelaat kan word om damvlakke te stabiliseer. Die slegste keuse is om met vol damme ’n vloed te probeer keer. Dit maak die skade net soveel erger.
Die derde keuse berus op die beste besluit vir vloedbeheer wat reeds jare gelede geneem is. Terwyl noodwalle langs die Benede-Oranjerivier en elders reeds op 4 000 kumek begin breek, moes die afdeling vir vloedbeheer jare gelede ’n reuse-invloed van so hoog as 13 000 kumek hanteer. Genadiglik is sluise nie oopgetrek nie. Die ergste vloed ooit is voorkom deur die Gariepdam 125% vol te laat loop, terwyl loslatings op ’n verantwoordelike manier geskied het.
Die 2011-vloed was in volume (5 100 kumek) nie so groot nie en bykans 60% kleiner as 1 300 kumek wat die Gariepdam voorheen – man alleen – suksesvol getrotseer het om die grootste vloed ooit te voorkom. As die afdeling vir vloedbeheer nie met die broek op die knieë gevang is nie, kon albei damme met berekende akkuraatheid die 2011-vloed met gemak voorkom het, waarvoor hy ten minste nou geprys sou kon word.
In al sy glorie is ’n vloed nogal ’n skouspel. Selfs die media doen sy deel. Soms daag die minister op, meer uit nuuskierigheid, om die regering se simpatie oor te dra, maar geen hulp nie.
Met die 2011-vloed is staatshulp belowe, maar, soos verwag, was dit leë beloftes en is boere soos gewoonlik aan hul eie lot oorgelaat. Die ope vraag is dus of die landbou waarop die regering swaar steun vir ekonomiese groei, ooit weer in ’n rampsituasie finansieel ondersteun gaan word om die ekonomie te stimuleer. Die landbou verskaf werk aan nagenoeg 800 000 werkers.
Ons boere betaal belasting en word as van die beste ter wêreld beskou. Hulle is ’n bate vir die land, want hulle staak nie en brand nie skole en waardevolle staatseiendom af nie. Hulle doen goed, produseer voedsel vir die hele land en sorg vir buitelandse valuta van ongeveer R150 miljard per jaar. WILLEM
Noord-Kaap