DBV ‘soek bewyse’ teen skepe met vee
DIE stof het nog nie tussen die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die lewendehawe-uitvoermaatskappy Al Mawashi gaan lê nie. Ten spyte van voortslepende hofaksie teen dié maatskappy (wat ’n waardevolle afsetpunt vir veeboere in veral die Oos-Kaap bied) het die DBV nou ook versoek dat hy toegelaat word om as “nie-partydige” waarnemer op Al Mawashi se skip die volgende verskeping mee te maak.
Manie meen hierdie taktiek word net ingespan om Al Mawashi in ’n moeilike posisie te plaas. Weier hy die DBV se versoek, lyk dit of hy iets het om weg te steek. Laat hy die DBV se waarnemers op die skip toe, sal hulle sonder twyfel die geringste probleem opdis as algehele dieremishandeling – soos hulle met vorige versendings gedoen het.
Manie het by die DBV aangeklop om te vra waarom hy meen dat verteenwoordigers van ’n organisasie wat die uitvoer van lewende hawe wil beëindig, as onpartydig beskou moet word.
Die DBV se argument vir waarom hy as nie-partydige waarnemer toegelaat moet word, is dat dit ’n organisasie met “integriteit en verantwoordbaarheid” is, asook dat hy in diens van die publiek is. Hy voeg by dat aangesien hy die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962) moet afdwing, hy bewyse vir sy bevindinge moet hê.
“Die verteenwoordigers sal professionele mense wees en al hul bevindinge sal as bewyse gedokumenteer word. Hoekom word daar van die DBV verwag om net te aanvaar wat Al Mawashi en sy verteenwoordigers sê sonder dat ons verteenwoordigers self op die skip was? Indien die DBV saam op die skip is, kan daar mos geen argument wees nie.
“Die beter vraag is waarom Al Mawashi nie die DBV se verteenwoordigers aan boord wil hê nie?”
Manie het ook die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling genader om te verneem of daar bestaande regulasies is wat kan help met hierdie versoek, en ook wat die impak van die toutrekkery tussen die DBV en Al Mawashi op die rooivleisbedryf se vermoë om te groei het, maar wag nog op ’n antwoord.
Wat vir Manie duidelik is, is dat die DBV aantygings teen Al Mawashi gemaak het en nou bewyse daarvoor moet kry sodat dié aantygings nie misluk soos sy vele regstappe (waarvoor hy nou moet betaal) nie.
NUTTELOSE KOMMENTAAR
As Manie nou ’n goue beker vir die mees voor die hand liggende en nuttelose stukkie kommentaar van ’n politikus die afgelope maand moes uitdeel (en, ja, daar is deesdae inderdaad strawwe mededinging), staan mnr. Mandla Mandela, voorsitter van die portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, voorwaar voor in die ry.
Sy komitee het die geval van Ivan Cloete, ’n produktiewe
Wes-Kaapse boer wat binnekort blykbaar na ’n vierde staatsplaas in tien jaar moet trek, bespreek. (Lees meer hieroor op bl. 20.)
Cloete het probleme gehad met die vennoot op sy eerste plaas, op die tweede plaas was daar ’n wettige bewoner waarvan die staat onbewus was, en dié het hom só geïntimideer dat hy vir sy eie veiligheid na ’n derde plaas geskuif is – met die seën van die verantwoordelike staatsdepartement én die parlement se portefeuljekomitee.
Maar toe besluit dieselfde departement op 1 Februarie om sy aansoek om dié plaas af te keur. Nou gaan hy volgens mnr. Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, na ’n vierde plaas geskuif word.
Daaroor het Mandela die volgende te sê gehad: “Hierdie saak is ’n storie van die goeie, die slegte en die lelike van die herverdeling van grond – met al die drama van bitsigheid tussen vennote, hervestiging op hervestiging, intimidasie, kwaadwillige beskadiging van eiendom, mededingende eise, bewerings van korrupsie, sameswering en selfs misdaad en die ontwyking van grond.” Mandela het op die komiteesitting waartydens Cloete se penarie bespreek is, gesê die komitee is glad nie onder die wanindruk dat die proses vir die herverdeling van staatsgrond sonder probleme is nie. Hy het gesê dit is by tye “belaai met die tegniese aspekte van administratiewe geregtigheid”.
Manie kan maar net wonder wat Mandela se beroemde oupa van hierdie lamsakkige reaksie sou maak.
As die voorsitter van die portefeuljekomitee is dit tog sy rol om indringende vrae te vra oor watter gebreke in ’n duidelik gebroke stelsel gelei het daartoe dat staatsgeld en voedselproduksie verlore gaan terwyl amptenare argeloos Cloete se reg tot administratiewe geregtigheid vertrap het.
Dit is sy komitee se rol om aanbevelings te doen oor wetgewing en regulasies wat ’n herhaling van sulke skreiende ongeregtighede kan voorkom.
Waar was die amptenary toe Cloete se eerste boerderyvennootskap op die rotse geloop het? Waar was die navorsing wat moes ontdek dat daar ’n wettige bewoner op sy tweede plaas was? Hoekom kon die Wes-Kaapse amptenare se besluit om hom van sy plaas af te sit, nie eenvoudig omgekeer word nie? Daar is tog dwingende redes voor.
Hierdie is waarskynlik vrae met lang, ingewikkelde antwoorde. Maar pleks van om die moeilike vrae te vra en sodoende te help om oplossings te bedink, sal die jonger Mandela eerder vir ons vertel wat ons reeds weet.
PRINSLOO EN DIE RINKHALS
’n Vrystaatse boer skrik nie sommer vir gevaar nie, maar toe ’n rinkhals skielik oor sy voete seil terwyl hy volspoed op die N1 ry, het Eddie Prinsloo, Merinoboer van Smithfield, byna sommer so in die ry uitgeklim.
Voorheen het sy seun, Eduard, met die einste motor Gauteng toe gery en óók met slang se kind kennis maak. Hy het die motor deursoek en vlieëgif gespuit en toe hy hom nie weer gewaar nie, gedink die slang het die hasepad gekies.
Toe Eddie twee weke later noord van Bloemfontein saam met medeboere iewers heen op pad was en die slang skielik op sy voete voel, het hy dadelik geweet wat dit is. Teen die tyd dat hy stilgehou het, was die slang weer soek. Hy is versigtig terug Bloemfontein toe waar ’n leërskare werktuigkundiges hom by ’n motorhawe ingewag het.
Ná ’n soektog het hulle die slang in die stuurstang se omhulsel aangetref. ’n Slangvanger het die slang elders gaan loslaat.
Eddie erken hy was baie benoud. Die slang was toe al minstens twee weke in die motor en ’n mens weet nooit waar hy dalk kon vasbyt nie!
SKOKKEND!
Ek het vanoggend uitgevind my buurman het ’n elektriese omheining.
Ek was nogal geskok!