Veldbrande almal se probleem
Daar’s ’n paar dinge wat ’n boer laat ys. Hael- en rypskade, ’n trop skape wat wreed deur honde verskeur is, of die soveelste hopie wol tussen die lang gras waar ’n rooikat of jakkals homself gehelp het. En dan is daar die onheilspellende, blougrys wolk van ’n groot veldbrand.
Veral wanneer die wind waai hier laat in die winter, nog net ’n ent te ver voor die eerste reën, of nog erger, te midde van ’n groot droogte, soos dit amper in 1992 by ons op die plaas in die Noordoos-Kaap gebeur het. Dan lê die vrees vir die groot, lelike moeilikheid maar vlak.
Deur die jare was ’n groot brand altyd die vinnigste manier om ons distrik se boere bymekaar te kry. ’n Dosyn of wat bakkies wat na die brandkol aangejaag kom, met manne wat aanvanklik almal hul eie ding wou doen. Oor die jare heen het koördinasie verbeter, en die meeste ernstige wegholveldbrande kon darem gekeer word.
Maar veral ’n vuur se onvoorspelbare dwarrelwinde bly ’n lelike storie. Ons skoolmaat Charl Stötter is jare gelede as jong lat ernstig in ’n veldbrand beseer, en moes maande se veloorplantings verduur. Oor die jare het hy heldhaftig sy tekortkominge te bowe gekom, en hy bly steeds die beste heelagter met wie ek ooit rugby gespeel het.
Die ironie is dat die wetgewing wat tans vir die bestuur van veldbrande bestaan, eintlik heel sinvol is. Die grootste tekortkoming is dat net boere hul verantwoordelikhede nakom — die staat skitter in sy afwesigheid. Dit was ongelukkig weer die geval met die onlangse tragedie in die Noord-Kaap, waar byna ’n halfmiljoen hektaar in die slag gebly het.
Dae lank het boere en gewone plattelanders heldhaftig die brande self bestry. Manne het seergekry, ander het te veel rook ingeasem, en verskeie boere het ál hul weiding verloor. Van amptelike bystand was daar weinig sprake. Onvergeeflik, veral wanneer bestaande amptelike mannekrag ’n wesenlike bydrae sou kon lewer.
Toe ons onlangs ’n artikel plaas oor brandbestrydingsplanne vir die Wes-Kaap se Rûens-gebied, het die verwysings na die gebruik van munisipale brandweerwaens en die staat se noue betrokkenheid by brandbestryding my as heel vreemd getref. Waar ek vandaan kom, is dit vanselfsprekend dat boere self veldbrande sal moet blus.
Maar dit hoort nie so nie. As almal hul wetlike verpligtinge nakom, behoort brande soos dié in die Noord-Kaap ten minste beter beheer te kan word. En wanneer dit alles oor is, moet die staat eenvoudig help met voer en ander noodbystand. Daar bestaan immers gebeurlikheidsfinansiering vir juis sulke rampe.
Dit gaan ook nie oor kommersiële boere of kleinboere help nie, maar om ’n landelike ekonomie staande te hou wat vir almal op die platteland ’n bestaan bied. Van die petroljoggie op die dorp tot die plaaswerker wat skouer aan skouer met boere sy lewe waag om almal se bestaan te beskerm.
Die vermoede dat van die Noord-Kaap se brande opsetlik gestig is, maak die noue betrokkenheid van die polisie nou absoluut onontbeerlik. As daar nie daadwerklik teen brandstigters opgetree word nie, betree die landbou ’n nuwe vlak van erge onsekerheid, wat eenvoudig nie geduld kan word nie.
Intussen bly ons mense se harte en hande oop vir die Noord-Kaap se groot nood, maar dit raak nou tyd vir die staat om ook sy kant te begin bring.