Minister volhard in haar stryd teen forel
DIT maak vir hom nie sin dat me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, appelleer teen die onlangse hooggeregshofbeslissing in die guns van die federasie van Suider-Afrikaanse vlieghengelaars (Fosaf) nie, sê mnr. Ilan Lax, voorsitter van Fosaf.
Regter AJ Vorster het Fosaf onlangs in die Gautengse hooggeregshof gelyk gegee dat Creecy se departement nie die regte stappe gedoen het soos die wet vereis om sekere spesies tot indringers te verklaar nie. Vorster het bevind die departement het nie genoeg inligting beskikbaar gestel nie en dat dit Suid-Afrikaners van hul reg op betekenisvolle deelname in die wetgewende proses ontneem het.
Lax glo Creecy se appèl berus op presies dieselfde argumente wat haar voorganger, me. Edna Molewa, aangevoer het in haar appèl teen mnr. Johan Kruger en ander se suksesvolle aansoek teen die verbod op handel in renosterhoring. Hy kan dus nie sien hoe Creecy se appèl kan slaag as haar voorganger met dieselfde argumente misluk het nie.
REGSBEGINSELS
Lax sê die minister se optrede druis in teen goeie regeringsbeginsels. Pleks dat sy die gebrek aan openbare deelname aanpak, probeer sy die hof se beslissing op tegniese gronde omseil.
Die departement se optrede raak nie net forel nie, maar ook ander dele van die natuurleweekonomie. Bruin- en reënboogforel is net twee van die 557 sogenoemde indringerspesies wat van 19 Oktober 2020 af aan nuwe regulasies ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet vir Biodiversiteit (Nemba) moes voldoen.
SWAK ONDERBOU
Lax sê die swak onderbou van Nemba lê aan die hart van die probleem, want daar is geen witskrif vir dié “kragdadige stuk wetgewing” nie. Sedert Nemba in 2004 gepromulgeer is, kon staatsamptenare dit na hul goeddunke toepas omdat daar nie formele beleid was om die wet te rugsteun nie.
Om beleid te formuleer moet daar openbare deelname wees en Lax sê die onlangse uitdemie spraak van die hooggeregshof wys hoe belangrik hierdie deelname is vir beleid om staande te bly wanneer dit in die howe uitgedaag word.
Wat hom bekommer, is dat groot stukke wetgewing en regulasies in Nemba op dieselfde manier as die lys van indringerspesies en die verwante regulasies tekort skiet.
Soortgelyke uitsprake kan dus verwag word as ander partye besluit om die departement hof toe te sleep met aansoeke soos dié een wat Fosaf gebring het.
Lax wys egter daarop dat Fosaf se doel nie is om hofsake te wen nie, maar om die regering te dwing om verantwoordbaar teenoor Suid-Afrika se mense te wees in die manier waarop hy beleid en wetgewing formuleer.
“Dit is ’n skande dat ons ons tot die howe moet wend om die regering te dwing om sy grondwetlike pligte na te kom,” sê hy. Fosaf sal die minister se appèl teenstaan, maar hoop steeds om eerder die saak om die onderhandelingstafel te besleg as voor die hof.