CLAUDE CLOETE REG OOR MAKSIMUM WINS
Die artikel “Is dit ’n sake-onderneming of ’n talentkompetisie?
(LBW, 19 Augustus 2021, bl. 48) deur Claude Cloete het betrekking.
Ek wil hom geluk wens met ’n goed deurdagte beskrywing van die begrip “maksimum wins”, wat tog die hoofrede vir die bestaan (en voortbestaan) van enige boerdery is.
Hy maak op ’n behendige wyse gebruik van ’n grafiek wat die biologiese en ekonomiese wet van “dalende-meer-opbrengs” (of “afnemende opbrengs”) uitstekend beskryf. In sy artikel onderstreep hy drie modusse, naamlik oorlewingsmodus, prestasiemodus en produksiemodus, wat baie mooi verduidelik waar die punt van maksimum wins is om by te boer.
Dan maak Cloete ook ’n uiters belangrike punt as hy verklaar dat koste ’n belangrike bepaler van wins is, en dat dit aansienlik makliker is om wins te verhoog deur koste te verlaag as om produksie te verhoog deur verhoogde koste-inset. Dit bevestig ’n algemene wanopvatting dat ’n verhoging in produksie ’n boer outomaties meer welaf maak. Dit is die sindroom van besteding van R1 om 90 c te maak.
Ek wil graag Cloete se punt oor die begrippe “maksimum wins” teenoor “maksimum produksie (oes)” ondersteun deur GRAFIEK 1 en GRAFIEK 2 oor proefresultate met mielies onder die loep te neem. Hou in gedagte dat die betrokke seisoen se klimaat redelik goed was, wat die belangrikste bepalende faktor vir gunstige mielieproduksie is.
Volgens GRAFIEK 1 is dit duidelik dat die toename in opbrengs ná 9,1 t/ha nie verder reglynig toeneem nie, maar afplat tot 9,4 t/ha, soos wat die genoemde biologies-ekonomiese wet, “dalende-meer-opbrengs”, ondubbelsinnig bepaal.
Die groot vraag is nou of dit betalend is om die ekstra 28 kg NPK-kunsmis/ha (122 – 94 = 28 kg/ha, teen ’n ekstra koste van R856/ha) te bestee om ’n maksimum mielie-oes van 9,4 t/ha te lewer?
GRAFIEK 2 toon die geldwaarde wat die ekstra koste toevoeg. Die maksimum oes (9,4 t/ha) se geldwaarde is R496/ha laer as dié van die oes van 9,1 t/ha. Dit bewys Cloete se argument dat dit makliker is om wins te verhoog deur koste te verlaag as om produksie te probeer verhoog.
Dit is nou hier waar die kinkel in die kabel kom. Boere word wysgemaak dat hulle maksimum oeste moet najaag, maar dit is duidelik hierbo getoon en reeds deur Cloete genoem dat dit nie die verlangde winseffek sal kan lewer nie. Intussen gebeur die teenoorgestelde en boere se skuldlas word net groter.
Volgens Statistieke SA beloop totale landbouskuld ’n aardige byna R200 miljard, waarvan die grootste deel, luidens beriggewing, deur mielieboere geskuld word.
Ek kan bevestig dat onnodige besteding aan ’n oormaat NPK deur die mielieboer aan die orde van die dag is. Die genoemde voorbeeld is slegs ’n enkele geval, maar dit word bevestig deur navorsingsinligting oor die breë mieliegebied wat strek oor meer as 40 jaar. Hou in gedagte dat NPK-koste vir mielieproduksie teen minstens ’n derde van direkte insette die enkele grootste uitgawe vir mielieboere is.
Die vraag wat boere moet vra, is of die najaag van die maksimum opbrengs deur die ekstra koste aan te gaan, werklik die verhoogde risiko werd is? Want onthou, aan die begin van enige plantseisoen het niemand ’n idee hoe die klimaat gaan uitdraai nie en niemand kan die klimaat beheer nie.
Wat wel bestuur kan word, is die risiko!
DR. GAWIE DU TOIT
Faktor2-grondkundiges