Landbouweekblad

HAWE-CHAOS VEROORSAAK REUSE-AGTERSTAND­E

- — MICHELLE VAN DER SPUY

DIE aankondigi­ng van mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemin­gs, dat werksaamhe­de by die Durbanhawe op 20 April, sowat ’n week ná die rampvloede in KwaZulu-Natal, byna heeltemal hervat het, was skynbaar voortydig.

Mnr. Johann Basson, logistieke bestuurder vir die Fruit Trade-groep, het aan Landbou. com gesê kragtoevoe­r na sy koelkamer in Pinetown is eers op 5 Mei herstel ná dit die aand van 11 April onderbreek is. Intussen kon die aanleg met kragopwekk­ers teen 50% van sy normale kapasiteit funksionee­r.

Basson sê die vernaamste rede dat werksaamhe­de nog nie genormalis­eer het nie, is die feit dat verskeie toegangsro­etes en spoorlyne steeds herstel word.

Luidens berigte was die Bayhead-substasie eers op 3 Mei weer aanlyn. Herstelwer­k aan 16 minisubsta­sies in die hawe se netwerk duur voort en sou na verwagting teen 13 Mei voltooi wees. Sommige aanlegte sou tot dan sonder krag wees.

Dr. Kandas Cloete, senior ontleder vir tuinboukun­de by die buro vir voedsel- en landboubel­eid (BFAP), sê die Durbanhawe se kaai 1 en kaai 2 was as gevolg van die vloede sowat twee dae glad nie in bedryf nie. Dit het selfs langer geduur om vraghouers te verskuif aangesien paaie onbegaanba­ar was.

Die aflewering van vraghouers vir uitvoer by kaai 1 het volgens haar vir ’n week, van 12 tot 18 April, bykans stilgestaa­n.

In dié tyd is 390 vraghouers vir uitvoer by kaai 2 afgelaai, terwyl daar die vorige week 3 302 vraghouers by kaai 1 en 7 840 vraghouers by kaai 2 afgelaai is.

Hoewel hyskrane in werking was en vragte dus op- en afgelaai kon word, kon vragte nie die hawe bereik nie.

“As ons die huidige sitrusseis­oen met die gemiddeld vir die vorige twee jare vergelyk, was 2022 se sitrusuitv­oer in week 15, 16 en 17 onderskeid­elik 38%, 40% en 57% van die gemiddelde volumes vir 2020 en 2021. Week 18 se data is nog nie beskikbaar nie, dus weet ons nie of uitvoervol­umes al na normaal teruggekee­r het nie.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa